Bruniaceae
Bruniaceae is ’n familie wat net in Suid-Afrika voorkom, die meeste in die Kaapse blomstreek en een spesie in KZN.
Al die spesies in die familie het klein, harde, erikoïede blare wat hulle in staat stel om die warm, droë somers van die streek te oorleef. Die blomkoppe is digte trosse met tot 400 individuele blommetjies saamgepak in bolvormige bloeiwyses. In die Kleinmond-omgewing is daar drie genera, Berzelia, Brunia en Staavia.
Spesies in hierdie familie:
Staavia radiata
’n Ronderige struikie, 60 – 90 cm. Die groen blare is smal, naaldvormig en 4 – 7 mm lank. Jong takkies en blaartjies is bedek met fyn haartjies. Ouer takke is houtagtig. Die wit tot liggeel skutblare wat uitsprei rondom die pienk diggepakte buisvormige blommetjies laat die 30 – 50 mm blomkoppe soos magrietjies lyk. Die blomme verskyn aan die punte van die stamme. Die hoofstam is houtagtig en verskuil onder die grond. Die plant is dus redelik brandbestand en herspruit weer vinnig na brandskade. Dit lyk asof dit “vir altyd” blom omdat die wit skutblare oorbly lank nadat die blomme reeds dood is, vandaar die volksnaam.
Brunia paleacea
Digte ronde struik met baie vertakkings tot 1 m hoog. Smal driehoekige, bykans haarlose blare, buig inwaards, sit styf teen die stingel en is 3 – 6 mm lank. Brandbestand, herspruit vanuit ondergrondse stamvoet. Roomkleurige blomme, elkeen geset in ’n blomkrans van opsigtelike smal wit tot pienk skutblare tot 7 mm in deursnee. Verskyn in trosse op die punte van stingels wat uit die hoofstam vertak.
Brunia noduliflora
’n Ronderige immergroen struik tussen 0.6 en 1.5 m hoog. Die takkies is bedek met fyn haartjies en 2 – 3 mm naaldagtige blare wat diggepak plat teen die takkies lê. Die wit, welriekende, bolvormige blomkoppe (10 mm deursnit) verskyn kort na die eerste winterreëns in trosse op die punte van takke wat van verskillende plekke op die stamme uitspruit. Na blomtyd val die blomme af en laat die grysbruin vruggies agter wat vir ’n paar jaar op die bos kan bly. Die plant is brandbestand omdat dit na brandskade herspruit uit die ondergrondse houtagtige stamvoet.
Brunia fragarioides
Kompakte struikie, 30 – 60 cm hoog, met ’n digte rangskikkking van vertakte stamme. Smal langwerpige blare, 1 – 3 cm lank, diggepak teen die takke. Roomkleurige blommetjies omring deur smal rooi skutblare word gedra in trosse aan die punte van stamme.
Berzelia stokoei
Regop struik tot 2 m hoog. Diggepakte, gladde, naaldagtige blare, 8 – 10 mm lank. Blare is sittend (sonder ’n blaarstingel) met ’n duidelike middelnerf aan die onderkant.
Treffende rooi blomkoppe ongeveer 15 mm in deursnee verskyn in die somer. Die rooi buisvormige blommetjies maak in sirkels van buite af op wit blomknoppe oop. Die blomkoppe is in trosse aan die punte van die takke gerangskik. Na blomtyd bly die vrugte vir ’n paar seisoene op die plant.
Berzelia lanuginosa
Immergroen struik wat uitsprei met slanke vertakkende stamme tot 2 m hoog. Die klein smal blare is diggepak in kronkels om die stamme. Wit tot roomkleurige blomkoppe, ongeveer 7 mm in deursnit, verskyn in trosse aan die punte van kort stingels met kenmerkende rooipers basisse. Die rooipers blomstingels help om lanuginosa te onderskei van die soortgelyke Berzelius alopecuroides wat in die veld na deeglike inspeksie van die blomme van mekaar onderskei kan word. Na blomtyd bly sit die groen tot rooi saadknoppe vir ’n jaar of twee op die plant.
Berzelia ecklonii
Kompakte plant met takke wat 1 – 2 m hoog uitsprei. Die smal blink blare is diggepak om vertakkende stamme. Die individuele klein buisvormige blommetjies is dig saamgepak in ’n 1 – 2 cm bolvormige bloeiwyse. Die bloeiwyses verskyn in trosse aan die punte van die stamme. Die plant is brandbestand en herspruit geredelik vanuit die ondergrondse stamvoet.
Berzelia alopecuroides
Stewige regop struik tot 1.5 m. Smal stywe haarlose blare 4 mm lank, diggepak op vele opwaartswysende stamme en takke. Roomkleurige blomkoppe (5 mm deursnee) verskyn in trosse op die punte van die hooftakke. Die blomtrosse is ongeveer 15 cm in deursnee.
Na blomtyd bly die rooi vrugte, wat mettertyd verbleik, vir nog ’n seisoen op die plant agter.
Berzelia albiflora
’n Langerige struik met een stam en baie vertakkings, 2 – 3 m hoog. Lang dun takkies is diggepak met sagte naaldagtige donkergroen blare, 10 – 14 mm lank, met swart puntjies en bedek met fyn haartjies. Die klein wit blommetjies, elk ongeveer 7 mm lank, met geel stuifmeeldrade, is diggepak in ’n plat ronde bloeiwyse sowat 15 mm in deursnee wat in trosse aan die punte van die donker takkies verskyn. ’n Ligte koffiegeur kan soms naby die plante waargeneem word, vandaar die volksnaam koffiebos. Aan die einde van die blomtyd word die blommetjies bruin en val af. Die bolvormige saadknoppe wat oorbly, kan vir ’n paar seisoene op die plant bly sit. Vorige jare se saadknoppe kan laer af op die stamme gesien word.
Berzelia abrotanoides
Regop struik tot 1.5 m. Die sagte smal blare is diggepak op dun vertakte stamme. Klein wit tot roomkleurige blommetjies saamgepak in bolvormige blomkoppe, 10 mm in deursnee, verskyn in trosse op prominente rooi blomstingels op die punte van takke. Die stuifmeeldrade steek bo die blomme uit en gee ’n donserige voorkoms daaraan.









