Orchidaceae

Disa cornuta

Goue disa
Cornuta, van Latyns cornutus (met 'n horing), verwys na die spoor.

Beskrywing

Stewige regop plant tot 1 m. Blare groei uit stam, effens gekartel. Onderste blare vou om stam en is rooi gestippel of gestreep. Tot 35 blomme in digte rits, effens na onder gebuig, pers en silwer-groen. Middelste kelkblaar diep kappievormig; sy-kelkblare wys vorentoe; kroonblare smal. Lip eiervormig en vlesig, spoor silindries. Kleur en vorm van die kelkblare is baie veranderlik.

Blomtyd

Okt, Nov, Des, Jan, Feb

Blomkleur

Pers, Groen

Bewaringstatus

Lae risiko

Bedreigings

Spesies in die Orchidaceae-familie word dikwels wortel en tak deur versamelaars gestroop. Hulle ligging word daarom op hierdie webwerf verberg.

Habitat en gebied

Wydverspreid in die Kaapse Blomstreek, Lesotho, KwaZulu-Natal, Mpumalanga en Zimbabwe tot 'n hoogte van 2500 m. Verkies goedgedreineerde, soms klipperige sandsteengrond en is van die min spesies wat in somer- en winterreënvalstreke aard. Blom veral na 'n brand.

Vind hierdie spesie by:

Ligging verberg

Meer oor

Disa cornuta

Ekologie

Bestuif deur die skrynwerkerby (Xylocopa).

Deel van die genus

Disa
Die nabyverwandte genera Brunia en Berzelia verskil effens. Brunias se meeldrade steek nie uit bokant die blomblare nie. Berzelias se meeldrade steek uit bokant die blom. Brunias se blomkoppe is op die punte van takkies. By Berzelias hou die takke aan groei verby die blomhofies. Brunias sowel as Berzelias het smal diggepakte blare met swart puntjies. Brunias sowel as Berzelias het klein buisvormige blommetjies saamgepak in bolvormige bloeiwyses in trosse aan die punte van die takke. Die meeste spesies in Brunias sowel as Berzelias herspruit geredelik na brandskade uit ’n ondergrondse stamvoet. Die familienaam Bruniaceae en ook die genusnaam Brunia verwys moontlik na Corneille de Brun, die Franse naam vir die Hollandse apteker en reisiger, Cornelis de Bruin.
Orchidaceae
Na raming is daar 730 genera en 25 000 spesies orgideë wêreldwyd. In Suid-Afrika is bykans 500 spesies; in die Kleinmond-omgewing is daar ongeveer 70 spesies. Die familie is baie gevarieerd, maar almal het die volgende kenmerke: Die meeste blomme is onderstebo. Voordat die blom oopgaan, roteer (resupinate) die blomsteel 180°. Blomme is bilateraal simmetries. As jy die blom vertikaal in twee deel, is die twee helftes spieëlbeelde van mekaar. Die blom het drie kelkblare en drie kroonblare. Een van die kroonblare is omvorm tot ’n lip (labellum) wat ’n horisontale landingsplek vir bestuiwers vorm. ’n Blom het een of twee meeldrade wat saamgesmelt is met die stamper om 'n kolom te vorm. Bestuiwing word deur 'n spesifieke insek per spesie uitgevoer en in uitsonderlike gevalle deur 'n voël of vlermuis. Elke blom het tot miljoene mikroskopies klein saadjies. Ontkieming en ontwikkeling van saad is afhanklik van swamme. Plantjies ontwikkel uit ’n knol-agtige organisme, die proto-knol (protocorm). Origideë word in twee groepe verdeel: die epifiete, wat op boomstamme en organiese materiaal groei en hoofsaaklik in die trope voorkom, en die grond-orgideë. Die epifiete, skaars in Suid-Afrika, het lugwortels wat dien as anker, stoorruimte, voedselopnemers, respirators en selfs fotosinteerders. Die wortels is tot naby die punte bedek met ’n wit weefsel, velamien, wat water kan stoor, die lugwortels teen koue en hitte beskerm en as hegmiddel aan die gasheerplant dien. Die punte van die lugwortels absorbeer voedingstowwe uit reënverdunde voëlmis en verrotte plantreste. Grond-orgideë groei teen berghange, op vlaktes en sandduine en in vleilande. Die meeste het geswolle stamme of wortels wat water en reserwe-voedsel stoor. Die meeste blom net na die reënseisoen en is dormant in die droë seisoen.

Ander spesies in hierdie familie:

Satyrium rhynchanthum

Satyrium rhynchanthum

Slank plant tot bykans 70 cm met 2 tot 6 stamstandige, spiesvormige blare. Tot 60 wit tot ligpienk blomme in ‘n rits. Daar is pers kolle op die basis van die kroonblare en binnekant van die lip en spore. Spore groen aan buitekant. Skutblare heeltemal teruggebuig, ietwat korter as vrugbeginsel. Kelk en kroonblare baie eners, middelste kelkblaar eiervormig met ‘n skerp punt. Lip vorm ‘n vlak, gepunte kappie, spore agteroor gebuig.

Satyrium stenopetalum ssp. brevicalcaratum

Satyrium stenopetalum ssp. brevicalcaratum

Slank tot stewige plant tot 56 cm hoog met 3 – 7 stamstandige blare, meestal laag teen die stam. Blaarbasisse om stam gevou. Tot 27 wit blomme met roomkleurige of pienk tinte in ‘n los rits, skutblare regop en tot 2 keer so lank as die vrugbeginsel. Swaardvormige kelkblare losstaande byna tot by basis waar dit saamsmelt tot ‘n bult. Kroonblare soortgelyk maar meer teruggekrul. Lip se flap na agter gebuig. Spore tot 1,5 cm.

Satyrium odorum

Satyrium odorum

Stewige plant tot 56 cm hoog met 2 tot 6 groot eier- tot swaardvormige blare wat om stam vou. Tot 40 liggroen tot gelerige blomme in taamlik digte rits. Buitenste dele is dof-bruin tot dof-pers getint. Skutblare tot 2,5 keer langer as die vrugbeginsel, ovaalvormig, skerp na onder gebuig. Kelkblare buig af, met middelste kelkblaar effens kleiner as sy-kelkblare. Kroonblare heelwat korter as kelkblare en minder gebuig. Kroonblare by basis versmelt met lip om ‘n kort buis te vorm. Spore tot 1,8 cm lank.