Kleinmond

Plantspesies (waarvan 77 net hier voorkom)

Die Kogelberg Biosfeer bied ‘n tuiste aan meer as 1 880 plantspesies waarvan 77 op geen ander plek op aarde voorkom nie.

 

In die kern van hierdie fynbosparadys lê Kleinmond met ’n netwerk van toeganklike voetslaanpaadjies langs die kus, langs rivieroewers, deur vleilande, oor sandvlaktes, in klowe, teen berghellings, oor plato’s en tot bo-op hoë pieke. Dit bied vir natuurliefhebbers van byna enige fiksheidsgraad ongeëwenaarde geleenthede om die rykdom en biodiversiteit van die inheemse fynbos in sy natuurlike omgewing waar te neem.

Met Kleinmond Fynbos fokus ons op die spesies wat redelik algemeen in Kleinmond en omgewing voorkom.

 

Ons vertel waar en wanneer ons hulle raakloop. Ons gee nie alleen die botaniese name nie, maak ook die volksname en interessante inligting oor hulle habitat, ekologie en bewaringstatus. Die verskillende soekfunksies en groot verskeidenheid foto’s maak die identifisering van spesies vir almal, van die beginner tot die kundige, maklik.

Soek hier deur ons plantspesies:

Bewaringstatus
Blomtyd
Blomkleur
Blomvorm
Area

Kyk uit vir hierdie spesies wat nou blom:

Moraea neglecta

Moraea neglecta

’n Bolplant wat tot 50 cm hoog word en ’n enkele blomsteel het. Die blomsteel is soms taai. Blare is langer as die blomsteel, staan regop en is silindries. Die blomskede is leeragtig en afgeplat aan die bokant.
Blomme is helder geel met swart kolletjies as nektargidse. Dit ruik na vanielje. Kroonblare is nie ewe groot nie; die buitenstes is uitgesprei en tot 50 mm lank. Dit binneste kroonblare is regop.
Die blomme gaan vroegmiddag oop en verlep teen sononder.

Disa tripetaloides

Disa tripetaloides

Slanke plant tot 60 cm, versprei deur middel van uitlopers. Tot 10 smal grondstandige blare. Tot 25 blomme in lang slap ritse, wit tot verskeie skakerings van pienk. Middelste kelkblare en kroonblare het dikwels rooi kolle. Middelste kelkbaar kappievormig, spoor horisontaal of effens na onder gebuig, keëlvormig. Sy-kelkblare staan weg, ovaal tot langwerpig. Kroonblare smal en reguit. Lip horisontaal, effens na bo gebuig.

Pillansia templemannii

Pillansia templemannii

Dit is ’n immergroen bolplant wat tot 90 cm hoog kan word. Blare is smal en reguit, effens gedraai en sonder ’n duidelike sentrale aar.
Die blomme groei in ’n trosvorm wat platterig aan die bokant is. Elke blom het sy eie blomsteeltjie. Hulle is helder oranje. Die blombuis is baie kort. Skutblare is groen by die basis en droog by die punte.

Erica macowanii

Erica macowanii

Waar die plant met restio’s en biesies kompeteer, kan dit tot 1,2 m hoog word.
Die blomme groei in ritse op die dun boonste takke. Die mees algemene vorm het ’n kroonblaarbuis van ongeveer 20 mm, is donkerrooi by die basis en word geel of oranje by die wye mond van die buis. Die blomme is harig. ’n Mens kry pienk en liggeel variasies, asook blomme wat heeltemal wit, geel of pienk is.

Geissorhiza juncea

Geissorhiza juncea

Die bolplant word tot 40 cm hoog. Die knol is houterig met konsentriese wortelrokke.
Blare is silindries met ’n skerp punt. Hulle het vier smal groewe oor die lengte van die blaar.
Blomme is gerangskik in ritse van 5 tot 8 blomme en is klein en wit tot liggeel met ’n blomdekbuis van 2,5 mm. Kroonblare is spreidend.
Skutblare is groen aan die onderkant en droog by die rande.

Berzelia alopecuroides

Berzelia alopecuroides

Stewige regop struik tot 1.5 m. Smal stywe haarlose blare 4 mm lank, diggepak op vele opwaartswysende stamme en takke. Roomkleurige blomkoppe (5 mm deursnee) verskyn in trosse op die punte van die hooftakke. Die blomtrosse is ongeveer 15 cm in deursnee.
Na blomtyd bly die rooi vrugte, wat mettertyd verbleik, vir nog ’n seisoen op die plant agter.