Kleinmond
Plantspesies (waarvan 77 net hier voorkom)
Die Kogelberg Biosfeer bied ‘n tuiste aan meer as 1 880 plantspesies waarvan 77 op geen ander plek op aarde voorkom nie.
In die kern van hierdie fynbosparadys lê Kleinmond met ’n netwerk van toeganklike voetslaanpaadjies langs die kus, langs rivieroewers, deur vleilande, oor sandvlaktes, in klowe, teen berghellings, oor plato’s en tot bo-op hoë pieke. Dit bied vir natuurliefhebbers van byna enige fiksheidsgraad ongeëwenaarde geleenthede om die rykdom en biodiversiteit van die inheemse fynbos in sy natuurlike omgewing waar te neem.
Met Kleinmond Fynbos fokus ons op die spesies wat redelik algemeen in Kleinmond en omgewing voorkom.
Ons vertel waar en wanneer ons hulle raakloop. Ons gee nie alleen die botaniese name nie, maak ook die volksname en interessante inligting oor hulle habitat, ekologie en bewaringstatus. Die verskillende soekfunksies en groot verskeidenheid foto’s maak die identifisering van spesies vir almal, van die beginner tot die kundige, maklik.
Soek hier deur ons plantspesies:
Kyk uit vir hierdie spesies wat nou blom:
Satyrium carneum
Stewige, regop plant tot 85 cm hoog met vlesige blare. Onderste 2 blare deels plat op die grond, verder op teen die stam word hulle kleiner tot slegs blaarskedes. Tot 45 blomme in digte rits, lig tot donker pienk, soms wit. Skutblare na onder gebuig. Kelk- en kroonblare so te sê los van mekaar, krul terug. Flap by lip se ingang heeltemal teruggebuig, baie kort. Twee spore tot 2 cm lank.
Erica spumosa
Kompakte struikie van ongeveer 45 cm, met spreidende, dun takke en veelvuldige kort blomdraende takkies.
Die blomhofies se drie blomme is tussen die blare op die punte van die takkies genestel. Skutblare is groot, lyk soos kelkblare en leun teen hulle. Hulle is blink, het dieselfde kleur as die kelkblare en is losserig. Die kelkblare is prominent en pienk en amper so lank soos die kroonblare. Die kroonblare is bakkievormig, ongeveer 4 mm en wit of kleurloos. Die lippe van die buis vou effens na binne. Die meeldrade is swart en gepunt en steek uit by die blom. Die blommetjies lyk soos skuimvlokkies.
Ceratandra atrata
Regop plant tot 35 cm. Baie spiesvormige blare met fyn haartjies wat uit die stam groei. Baie groen-geel blomme in los tot taamlike digte rits. Rande van spiesvormige skutblare het fyn haartjies. Middelste kelkblaar swaardvormig, versmelt met kroonblare; sy-kelkblare gebuig. Kroonblare driehoekig konkaaf. Lip regop ankervormig, gewoonlik met vlesige eelt. Rostellum-arms (struktuur tussen stamper en meeldrade wat belangrike rol speel in bestuiwing) soos horings. Hele plant word gitswart wanneer verdroog.
Ixia dubia
Hierdie bolplant groei 25 tot 50 cm hoog, soms met een of twee kort takkies.
Blare is swaardvormig tot baie smal.
Daar is 4 tot 10 blomme in ’n rits op die lang, dun blomsteel, dig opmekaar gerangskik. Hulle is geel of oranje, dikwels met ’n donker oog. Kroonblare is spreidend. Skutblare is ’n deurskynende pienk.
Erica serrata
Regop struik wat tot 1 m hoog groei met veelvuldige kort takkies waaraan blomsteeltjies groei. Die blare is in kransies van drie, naaldvormig. Jong blare het kliere op die rande; op ouer plante is die blare getand.
Drie tot ses blommetjies op die punte van die blomsteeltjies en kort takkies. Die skutblare het met die kelkblare versmelt. Kelkblare is nie ewe lank nie, bakkievormig en groenerig. Die onderste kelkblaar is ook die grootste. Kroonblare vorm ’n slanke bakkie wat 1,5 mm lank is. Hulle is klein en ’n baie ligte groen. Die stempel is baie groot.
Volop in die gebiede waar hulle groei.
Staavia radiata
’n Ronderige struikie, 60 – 90 cm. Die groen blare is smal, naaldvormig en 4 – 7 mm lank. Jong takkies en blaartjies is bedek met fyn haartjies. Ouer takke is houtagtig. Die wit tot liggeel skutblare wat uitsprei rondom die pienk diggepakte buisvormige blommetjies laat die 30 – 50 mm blomkoppe soos magrietjies lyk. Die blomme verskyn aan die punte van die stamme. Die hoofstam is houtagtig en verskuil onder die grond. Die plant is dus redelik brandbestand en herspruit weer vinnig na brandskade. Dit lyk asof dit “vir altyd” blom omdat die wit skutblare oorbly lank nadat die blomme reeds dood is, vandaar die volksnaam.





