Bruniaceae

Berzelia alopecuroides

Strawberry Berzelia
Die genus Berzelia is vernoem na hertog Jacob J. Berzelius, ’n Sweedse chemikus, dokter en vassteller van die simbole vir die chemiese elemente. Alopecuroides afgelei uit Grieks ekos (jakkals) en oura (stert) en verwys na die vorm van die blomme.

Beskrywing

Stewige regop struik tot 1.5 m. Smal stywe haarlose blare 4 mm lank, diggepak op vele opwaartswysende stamme en takke. Roomkleurige blomkoppe (5 mm deursnee) verskyn in trosse op die punte van die hooftakke. Die blomtrosse is ongeveer 15 cm in deursnee. Na blomtyd bly die rooi vrugte, wat mettertyd verbleik, vir nog ’n seisoen op die plant agter.

Blomtyd

Sep, Okt, Nov, Des, Jan

Blomkleur

Wit

Bewaringstatus

Lae risiko

Bedreigings

Veilig.

Habitat en gebied

Vogtige areas teen berghange.

Vind hierdie spesie by:

10, 12

Meer oor

Berzelia alopecuroides

Ekologie

Bestuiwing hoofsaaklik deur bye, vlieë en kruipende insekte. Gewilde snyblom. Kan van saad en steggies gekweek word.

Deel van die genus

Berzelia
Bruniaceae
Bruniaceae is ’n familie wat net in Suid-Afrika voorkom, die meeste in die Kaapse blomstreek en een spesie in KZN. Al die spesies in die familie het klein, harde, erikoïede blare wat hulle in staat stel om die warm, droë somers van die streek te oorleef. Die blomkoppe is digte trosse met tot 400 individuele blommetjies saamgepak in bolvormige bloeiwyses. In die Kleinmond-omgewing is daar drie genera, Berzelia, Brunia en Staavia.

Ander spesies in hierdie familie:

Staavia radiata

Staavia radiata

’n Ronderige struikie, 60 – 90 cm. Die groen blare is smal, naaldvormig en 4 – 7 mm lank. Jong takkies en blaartjies is bedek met fyn haartjies. Ouer takke is houtagtig. Die wit tot liggeel skutblare wat uitsprei rondom die pienk diggepakte buisvormige blommetjies laat die 30 – 50 mm blomkoppe soos magrietjies lyk. Die blomme verskyn aan die punte van die stamme. Die hoofstam is houtagtig en verskuil onder die grond. Die plant is dus redelik brandbestand en herspruit weer vinnig na brandskade. Dit lyk asof dit “vir altyd” blom omdat die wit skutblare oorbly lank nadat die blomme reeds dood is, vandaar die volksnaam.

Brunia paleacea

Brunia paleacea

Digte ronde struik met baie vertakkings tot 1 m hoog. Smal driehoekige, bykans haarlose blare, buig inwaards, sit styf teen die stingel en is 3 – 6 mm lank. Brandbestand, herspruit vanuit ondergrondse stamvoet. Roomkleurige blomme, elkeen geset in ’n blomkrans van opsigtelike smal wit tot pienk skutblare tot 7 mm in deursnee. Verskyn in trosse op die punte van stingels wat uit die hoofstam vertak.

Brunia noduliflora

Brunia noduliflora

’n Ronderige immergroen struik tussen 0.6 en 1.5 m hoog. Die takkies is bedek met fyn haartjies en 2 – 3 mm naaldagtige blare wat diggepak plat teen die takkies lê. Die wit, welriekende, bolvormige blomkoppe (10 mm deursnit) verskyn kort na die eerste winterreëns in trosse op die punte van takke wat van verskillende plekke op die stamme uitspruit. Na blomtyd val die blomme af en laat die grysbruin vruggies agter wat vir ’n paar jaar op die bos kan bly. Die plant is brandbestand omdat dit na brandskade herspruit uit die ondergrondse houtagtige stamvoet.