’n Ronderige struikie, 60 – 90 cm. Die groen blare is smal, naaldvormig en 4 – 7 mm lank. Jong takkies en blaartjies is bedek met fyn haartjies. Ouer takke is houtagtig. Die wit tot liggeel skutblare wat uitsprei rondom die pienk diggepakte buisvormige blommetjies laat die 30 – 50 mm blomkoppe soos magrietjies lyk. Die blomme verskyn aan die punte van die stamme. Die hoofstam is houtagtig en verskuil onder die grond. Die plant is dus redelik brandbestand en herspruit weer vinnig na brandskade. Dit lyk asof dit “vir altyd” blom omdat die wit skutblare oorbly lank nadat die blomme reeds dood is, vandaar die volksnaam.
Bruniaceae
Brunia noduliflora
Fonteinstompie, volstruisies
Noduliflora, van Latyns nodulus (knoppie) en flora (blom), verwys na die bolvormige blomme. Die wit trosse blomkoppe met lang meeldrade lyk, met ’n bietjie verbeelding, na ’n broeisel volstruisies, vandaar die volksnaam volstruisies.
Beskrywing
’n Ronderige immergroen struik tussen 0.6 en 1.5 m hoog. Die takkies is bedek met fyn haartjies en 2 – 3 mm naaldagtige blare wat diggepak plat teen die takkies lê. Die wit, welriekende, bolvormige blomkoppe (10 mm deursnit) verskyn kort na die eerste winterreëns in trosse op die punte van takke wat van verskillende plekke op die stamme uitspruit. Na blomtyd val die blomme af en laat die grysbruin vruggies agter wat vir ’n paar jaar op die bos kan bly. Die plant is brandbestand omdat dit na brandskade herspruit uit die ondergrondse houtagtige stamvoet.
Blomtyd
Mrt, Apr, Mei, Jun
Blomkleur
Wit
Bewaringstatus
Lae risiko
Bedreigings
Veilig.
Habitat en gebied
Sonnige sandsteenberghange in goedgedreineerde vogtige areas naby bergstrome. Endemies aan die Wes-Kaap.
Vind hierdie spesie by:
9, 10, 12
Meer oor
Brunia noduliflora
Ekologie
Die blomme word besoek deur kewers, vlieë en bye. Dit sorg vir effektiewe bestuiwing.
Kan van saad en steggies gekweek word.
Deel van die genus
Brunia
Bruniaceae
Bruniaceae is ’n familie wat net in Suid-Afrika voorkom, die meeste in die Kaapse blomstreek en een spesie in KZN.
Al die spesies in die familie het klein, harde, erikoïede blare wat hulle in staat stel om die warm, droë somers van die streek te oorleef.
Die blomkoppe is digte trosse met tot 400 individuele blommetjies saamgepak in bolvormige bloeiwyses.
In die Kleinmond-omgewing is daar drie genera, Berzelia, Brunia en Staavia.
Ander spesies in hierdie familie:
Brunia paleacea
Digte ronde struik met baie vertakkings tot 1 m hoog. Smal driehoekige, bykans haarlose blare, buig inwaards, sit styf teen die stingel en is 3 – 6 mm lank. Brandbestand, herspruit vanuit ondergrondse stamvoet. Roomkleurige blomme, elkeen geset in ’n blomkrans van opsigtelike smal wit tot pienk skutblare tot 7 mm in deursnee. Verskyn in trosse op die punte van stingels wat uit die hoofstam vertak.
Brunia fragarioides
Kompakte struikie, 30 – 60 cm hoog, met ’n digte rangskikkking van vertakte stamme. Smal langwerpige blare, 1 – 3 cm lank, diggepak teen die takke. Roomkleurige blommetjies omring deur smal rooi skutblare word gedra in trosse aan die punte van stamme.


