Bruniaceae

Brunia fragarioides

Aarbei-brunia
Fragarioides, van Latyns fragaria (aarbei), verwys na blaarvorm wat lyk soos klein aarbeiblare. Die aarbeikleurige skutblare van die blommetjies in die bessievormige blomkop ondersteun die volksnaam aarbei-brunia.

Beskrywing

Kompakte struikie, 30 – 60 cm hoog, met ’n digte rangskikkking van vertakte stamme. Smal langwerpige blare, 1 – 3 cm lank, diggepak teen die takke. Roomkleurige blommetjies omring deur smal rooi skutblare word gedra in trosse aan die punte van stamme.

Blomtyd

Nov, Des, Jan, Feb

Blomkleur

Wit

Bewaringstatus

Lae risiko

Bedreigings

Gewilde snyblom.

Habitat en gebied

Goedgedreineerde sandsteenberghange en ander grondtipes van seevlak tot middelhoogte berghange.

Vind hierdie spesie by:

12, 14

Meer oor

Brunia fragarioides

Ekologie

Bestuiwing deur insekte, veral bye. Kan gekweek word van saad en steggies.

Deel van die genus

Brunia
Die nabyverwandte genera Brunia en Berzelia verskil effens. Brunias se meeldrade steek nie uit bokant die blomblare nie. Berzelias se meeldrade steek uit bokant die blom. Brunias se blomkoppe is op die punte van takkies. By Berzelias hou die takke aan groei verby die blomhofies. Brunias sowel as Berzelias het smal diggepakte blare met swart puntjies. Brunias sowel as Berzelias het klein buisvormige blommetjies saamgepak in bolvormige bloeiwyses in trosse aan die punte van die takke. Die meeste spesies in Brunias sowel as Berzelias herspruit geredelik na brandskade uit ’n ondergrondse stamvoet. Die familienaam Bruniaceae en ook die genusnaam Brunia verwys moontlik na Corneille de Brun, die Franse naam vir die Hollandse apteker en reisiger, Cornelis de Bruin.
Bruniaceae
Bruniaceae is ’n familie wat net in Suid-Afrika voorkom, die meeste in die Kaapse blomstreek en een spesie in KZN. Al die spesies in die familie het klein, harde, erikoïede blare wat hulle in staat stel om die warm, droë somers van die streek te oorleef. Die blomkoppe is digte trosse met tot 400 individuele blommetjies saamgepak in bolvormige bloeiwyses. In die Kleinmond-omgewing is daar drie genera, Berzelia, Brunia en Staavia.

Ander spesies in hierdie familie:

Staavia radiata

Staavia radiata

’n Ronderige struikie, 60 – 90 cm. Die groen blare is smal, naaldvormig en 4 – 7 mm lank. Jong takkies en blaartjies is bedek met fyn haartjies. Ouer takke is houtagtig. Die wit tot liggeel skutblare wat uitsprei rondom die pienk diggepakte buisvormige blommetjies laat die 30 – 50 mm blomkoppe soos magrietjies lyk. Die blomme verskyn aan die punte van die stamme. Die hoofstam is houtagtig en verskuil onder die grond. Die plant is dus redelik brandbestand en herspruit weer vinnig na brandskade. Dit lyk asof dit “vir altyd” blom omdat die wit skutblare oorbly lank nadat die blomme reeds dood is, vandaar die volksnaam.

Brunia paleacea

Brunia paleacea

Digte ronde struik met baie vertakkings tot 1 m hoog. Smal driehoekige, bykans haarlose blare, buig inwaards, sit styf teen die stingel en is 3 – 6 mm lank. Brandbestand, herspruit vanuit ondergrondse stamvoet. Roomkleurige blomme, elkeen geset in ’n blomkrans van opsigtelike smal wit tot pienk skutblare tot 7 mm in deursnee. Verskyn in trosse op die punte van stingels wat uit die hoofstam vertak.

Brunia noduliflora

Brunia noduliflora

’n Ronderige immergroen struik tussen 0.6 en 1.5 m hoog. Die takkies is bedek met fyn haartjies en 2 – 3 mm naaldagtige blare wat diggepak plat teen die takkies lê. Die wit, welriekende, bolvormige blomkoppe (10 mm deursnit) verskyn kort na die eerste winterreëns in trosse op die punte van takke wat van verskillende plekke op die stamme uitspruit. Na blomtyd val die blomme af en laat die grysbruin vruggies agter wat vir ’n paar jaar op die bos kan bly. Die plant is brandbestand omdat dit na brandskade herspruit uit die ondergrondse houtagtige stamvoet.