Okt, Nov, Des | Plantspesies wat nou in Kleinmond blom

Disa atricapilla

Disa atricapilla

Plant tot 40 cm. Blare smal tot spiesvormig. Tot 20 blomme in plat blomskerm. Blomme nie onderstebo nie. Middelste wit kelkblaar wys na onder, vorm vlak kappie, plat na agter. Sy-kelkblare rooi met swart punte, smal ovaalvormig, sprei opwaarts uit. Kroonblare en lip maroen, groen en gespikkeld. Lip staan weg, effens diamantvormig, boonste deel buig opwaarts.

Watsonia angusta

Watsonia angusta

’n Bolplant wat tot 1,2 m hoog groei. Blare is swaardvormig. Dit lyk diwels asof hulle met ’n waslagie bedek is.
Blomme is in ’n lang rits geranskik en die blomsteel is vertak. Hulle is helder rooi. Die blombuis is lank en dun en die kroonblare maak wyd oop.

Serruria inconspicua

Serruria inconspicua

’n Plat struikie wat slegs tot 30 cm hoog groei.
Die blare is harig en die bloeiwyse onopvallend, klein en kleurloos. Elke bloeiwyse het 1 tot 5 blomhofies, elk met 3 tot 7 blomme in digte trosse op die punte van die slap takkies. Die blomme word grotendeels verberg deur die diep ingesnyde boonste blare.

Erica hispidula

Erica hispidula

’n Regop struik tussen 1 en 2 m hoog.
Blare en takke is harig en die blare is in drieë om die takke gerangskik.
In blomtyd is die struik oortrek van blommetjies wat wit of pienk en meestal klokvormig en effens taai is. Die kroonblare is maar 1 mm lank. Die stempel is helder rooi en steek bokant die kroonblare uit, en dit is ook hoe jy hom kan onderskei van ander piepklein Erica-blommetjies.
Kom wydverspreid voor en elke gebied het sy eie blomtyd. Hulle groei in groot stanings en is dikwels die volopste spesie in die gebied.

Erica curviflora

Erica curviflora

Hierdie Erica vorm ’n regop stewige bos met ’n “sagte” voorkoms. Blare is in viere gerangskik en harig. Die blomme is buisvormig, lank en gebuig. Die punte van die buis is los en oop. Die blomme kan glad of harig wees. Meeldrade is taai, sonder ’n aanhegsel en steek nie by die buis uit nie.

Diastella fraterna

Diastella fraterna

Dit is ’n ronde klein struikie wat omtrent altyd sagte wit blomme dra. Die takkies is minder houterig as dié van ander Proteaceae. Die struikie is enkelstammig en breër as wat dit hoog is.
Die blare is klein, lank en smal met gladde rande, soos dakpanne gerangskik aan die takke. Daar is soms 2 of 3 tande aan die toppunt van die blaar. Jong blare is gedraai.
Die klein wit bloeiwyses wat deur die jaar verskyn, het kenmerkende wit omwindselblare wat later bruin en papieragtig word. Hulle lyk soos sagte poeierkwassies.
Die saad is ’n gryserige wit neut, gekeep aan die basis en ongeveer 5 mm lank. Dit is groot in vergelyking met die klein blomhofie. Slegs een vrug ontwikkel in elke blomhofie. Dit val uit sodra dit ryp is.

Erica nivea

Erica nivea

Erica nivea vorm ’n ronde struik wat 60 tot 150 cm hoog word. In blomtyd is die struik oortrek van spierwit blomme.
Die ovaalvormige wit blombuis is ongeveer 4 mm lank en die ewe wit kelkblare is sterk gerif. Dit kan verwar word met die wydverspreide Erica palliiflora maar die styl is langer en steek in die jong blomfases ver by die blombuis uit. Die kelkblare is omtrent die helfte so lank as die kroonblare.

Erica holosericea

Erica holosericea

Yl, regop plant tot 90 cm hoog wat min blomme dra.
Blare is smal met skerp punte en sagte haartjies op die rande van jong blare.
Die blomme is fluweelsag, effens harig en pienk. Altyd in groepies van drie op die punte van takkies. Skutblare is soos skubbe teen takkies. Die kelkblare is groot en lansvormig. Dit hou die kroonblare vas en is en byna net so lank soos laasgenoemde. Hulle hou langer as die kroonblare, wat vinnig verdroog. Wanneer die kelkblare later doodgaan, vorm hulle ’n harde dop om die vrugbeginsel.

Disa tenuis

Disa tenuis

Slanke plant tot 50 cm. Smal, reguit blare ontwikkel na blomtyd uit die plantbasis; daar is ook slap blare teen die blomsteel. Tot 25 wit, groenerige, ligpers of pienk blomme in rits teen blomsteel. Middelste kelkblaar vorm vlak kappie met baie skerp punt, spoor skaars sigbaar. Smal ovaalvormige sy-kelkblare met skerp punt staan weg van die blom. Kroonblare regop langs helmknop, voorste rand glad of effens getand. Reguit lip wys eers weg, hang dan af; rande glad of getand. Blomme se voorkoms taamlik veranderlik.

Bobartia gladiata

Bobartia gladiata

Die plant groei tot 80 cm hoog. Blomstele is gewoonlik plat.
Blare is smal en ellipties in deursnee.
Blomme is geel met groen blomskedes. Daar is gewoonlike 8 tot 12 blomme gerangskik in ’n plat tros op die punt van die blomsteel.

Erica multumbellifera

Erica multumbellifera

’n Klein ronde struikie met ’n menigte blomskerms van ronde, persrooi blommetjies wat amper soos krale lyk.
Die blommetjies groei op ewe lang takkies wat almal uit dieselfde plek in die blomsteel groei en ’n klein trossie of blomskerm vorm.
Die kroonblare is bolvormig en ongeveer 4 mm lank.

Watsonia borbonica

Watsonia borbonica

’n Bolplant wat tussen 50 cm en 2 m hoog word. Blomstele is gewoonlik vertak en dikwels pers.
Blare is swaardvormig, blink en tot 4 cm breed.
Blomme is in lang, vertakte ritse gerangskik en is pers-pienk, soms wit. Die smal blombuis word effens wyer by die nek. Die skutblare is dikwels taai, maar is nie styf teen die blomsteel nie.

Erica perspicua

Erica perspicua

’n Stewige struik tot 2 m hoog. Blare is naaldvormig en in kransies van drie of vier om die takke.
Die blomme word in lang ritse gedra. Kroonblare is tussen 1 en 2 cm lank en gewoonlik baie harig. Teen die lig lyk hulle deurskynend.
Om Kleinmond is hulle meestal wit of wit en pienk. Hulle kom ook in rooi of wit en rooi voor. Die wit en pienk-en-wit variasies is voorheen sikspens-heide genoem omdat hulle so volop was. Die donkerrooi of pers en wit variasies het hoog in die berge gegroei en was heelwat skaarser.
Hoog in die berge om Kleinmond is daar ’n rooi-en-wit variasie en op Kogelberg is daar ’n kleinerige plant met klein rooi blomme. Op die boonste gedeelte van die Klipspringer-paadjie en op die rand van die plato is hulle spierwit.
Kom voor in groot stanings as die toestande gunstig is.

Satyrium lupulinum

Satyrium lupulinum

Slank tot taamlik stewige plant tot 25 cm met twee tot drie eiervormige blare byna teen die grond, dikwels pers aan onderkant. Tot 20 dowwe geel-groen blomme, dikwels met donkerpers tinte in taamlik digte rits. Skutblare meer as 2 maal langer as vrugbeginsel en skerp na onder gebuig. Kelkblare los tot byna by basis, afgebuig. Onderste twee-derdes van die kroonblare vorm ‘n los buis met die sye van die lip. Punt van die buis sekelvormig, skerp na onder gebuig, harig. Flap van die lip teruggebuig, twee spore tot 1,8 cm lank.

Brunia fragarioides

Brunia fragarioides

Kompakte struikie, 30 – 60 cm hoog, met ’n digte rangskikkking van vertakte stamme. Smal langwerpige blare, 1 – 3 cm lank, diggepak teen die takke. Roomkleurige blommetjies omring deur smal rooi skutblare word gedra in trosse aan die punte van stamme.

Erica axillaris

Erica axillaris

Regop struik tot 80 cm. Blare word in kransies van drie gedra.
Blomme is klein (1-5 mm), ovaal tot bakkievormig, liggroen met ’n baie groot stempel.

Bobartia indica

Bobartia indica

Die plant word tot 130 cm hoog.
Blare is rond en slap, langer as die blomstele en sleep op die grond.
Blomme is geel, omsluit deur groen blomskedes en op die punt van die blomsteel gerangskik. Daar kan tussen 20 en 40 blomme op een blomsteel wees.
Dit lyk baie soos B. longicyma, maar lg. se blare is gewoonlik korter as die blomstele.

Erica capillaris

Erica capillaris

Dit is ’n klein, kompakte struikie wat selde hoër as 30 cm groei. Die blaartjies is klein en sit styf teen die takkies. Die blomme is wit of ligpienk met ’n effense klokkievorm en kenmerkende stuifmeeldrade wat by die kelkblare uitsteek. Die kroonblare is maar ongeveer 3 mm lank.

Protea acaulos

Protea acaulos

’n Klein dwergstruikie wat ’n digte mat vorm. Die plant kan tot ’n meter in deursnee word. Die ondergrondse takstelsel kan brande oorleef en dadelik na ’n brand nuwe blare uitstoot.
Die blaarvorm kan baie wissel. Dit is soms breed met ronde punte, soms eiervormig en soms baie smal (10 mm). Die blare wys almal na een kant toe (secund leaves).
Blomme is koppievormig en 30-60 cm in deursnee. Die omwindselblare is groen met rooi punte.

Evotella carnosa

Evotella carnosa

Plant tot 55 cm hoog. Swart wanneer verdroog. Veelvuldige blare groei uit stam, smal tot spiesvormig. Baie vlesige blomme in digte rits; kelkblare groen, kroonblare pienk, lip baie ligte pienk. Middelste kelkblaar ovaalvormig, sy-kelkblare ietwat breër en los. Kroonblare sakvormig. Lip het twee breë lobbe, aanhegsel vorm kappie oor die kolom.

Erica pycnantha

Erica pycnantha

’n Regop struik tot 40 cm met slap takke. Blare is breed en sit styf teen die takke. Trossies wit blomme sit op die punte van die takke; elke blom het sy eie blomsteeltjie. Die kroonblaarbuis is ongeveer 9 mm lank met ’n stervormige mond.

Erica cerinthoides

Erica cerinthoides

’n Kompakte struikie wat normaalweg ongeveer 30 cm hoog groei, maar soms hoër as 1 m. Die blare is in kransies van vier gerangskik.
Die blomme is helder rooi, groot, harig, buisvormig en in trossies op die punte van die takkies gerangskik.
Die plant het ’n stamvoet wat brande kan oorleef. Hulle steek gou na ’n brand nuwe lote uit, en blom ook gou daarna.

Disa racemosa

Disa racemosa

Slanke plant tot 1 m. Tot 10 grondstandige, spiesvormige blare. Tot 8 blomme in los rits, pienk tot ligpienk met donkerder are, kroonblare en lip wit tot geel, kroonblare het ook horisontale pers strepe. Middelste kelkblaar vorm vlak kappie, spoor skaars sigbaar. Sy-kelkblare langwerpig tot ovaal, wys weg van blom. Kroonblare ovaal tot vierhoekig, om styl gebuig. Lip smal, wys weg van blom.

Gladiolus carneus

Gladiolus carneus

Die bolplant groei tot 50 cm hoog. Die blougroen blare is swaardvormig tot smal en blaarrande en midrib is effens verdik.
Blomme is pienk of wit, dikwels met donker merke op die onderste kroonblare en word gedra in ’n rits van 3 tot 6 blomme. Die blomdekbuis is amper silindries en tussen 25 mm en 40 mm lank. Die dorsale kroonblaar is die grootste en buig effens na vore.
In Kleinmond blom G. Carneus vroeg in die lente langs die kus. Die blomme is groot en flambojant. ’n Ander bevolking groei in nat erwe in die berglane en langs die Middelrivier. Hulle blom later in die lente en is kleiner en ligter (soms heeltemal wit).

Leucadendron gandogeri

Leucadendron gandogeri

Dit vorm ’n stewige struik tot 1,6 m hoog
Blare is ellipties, glad en blink en tot 80 mm lank. Jong blare het sagte haartjies en is rooi in die laatsomer en herfs.
Die groot boonste blare vorm heldergeel omwindsels met ’n rooi en oranje skynsel in Augustus. Dit bly dieselfde kleur ook nadat manlike bloeiwyses afgeval en vroulike keëls ontwikkel het. Vrugkoppe is bolrond, langer as breed en het breë, gladde skutblare. Omwindselblare is oop en die blomkoppe duidelik sigbaar. L laureolum, daarenteen, se blomkoppe is versteek onder die omwindselblare.
Vrugte is gevlerk en kan jare lank in die keëls bly voordat hulle vrygestel word.

Disperis paludosa

Disperis paludosa

Slanke plant tot 46 cm. Drie smal reguit blare groei uit die stam, alternerend. Tot 4 donker pienk en groen blomme met pers kolle op kroonblare. Middelste kelkblaar vorm kappie wat nouer na onder word en harig is. Sy-kelkblare is horisontaal, buig dan af en verdeel – lyk soos bottel-oopmaker. Kroonblare sit teenaan middelste kelkblaar, harig en klouvormig. Lip teen die kolom ook klouvormig. Skutblare sit styf teen stam.

Brunia paleacea

Brunia paleacea

Digte ronde struik met baie vertakkings tot 1 m hoog. Smal driehoekige, bykans haarlose blare, buig inwaards, sit styf teen die stingel en is 3 – 6 mm lank. Brandbestand, herspruit vanuit ondergrondse stamvoet. Roomkleurige blomme, elkeen geset in ’n blomkrans van opsigtelike smal wit tot pienk skutblare tot 7 mm in deursnee. Verskyn in trosse op die punte van stingels wat uit die hoofstam vertak.

Satyrium humile

Satyrium humile

Slanke plant tot 40 cm hoog, meestal met 2 eiervormige blare op die grond. Tot 40 roomkleurige blomme met groen, pienk of bruinerige tinte in ‘n digte rits. Skutblare swaardvormig en wys na onder. Kelk- en kroonblare versmelt aan lip, vorm buis vir helfte van die lengte en buig dan af. Van voor gesien is lip dieper as hoog met kort flap wat effens terugbuig. Twee spore tot 2,6 cm wys weg van die vrugbeginsel.

Pillansia templemannii

Pillansia templemannii

Dit is ’n immergroen bolplant wat tot 90 cm hoog kan word. Blare is smal en reguit, effens gedraai en sonder ’n duidelike sentrale aar.
Die blomme groei in ’n trosvorm wat platterig aan die bokant is. Elke blom het sy eie blomsteeltjie. Hulle is helder oranje. Die blombuis is baie kort. Skutblare is groen by die basis en droog by die punte.

Disa purpurascens

Disa purpurascens

Slanke plant tot 50 cm. Ongeveer 10 spiesvormige grondstandige blare, hard en regop. Stamstandige blare vorm volledige blaarskedes om stam. Tot 7 blou blomme in los rits, lip donkerder as kelkblare, agterste lobbe van kroonblare geel of groen. Middelste kelkblaar eiervormig, vorm kappie, spoor keëlvormig, horisontaal of effens na bo gebuig. Sy-kelkblare langwerpig, wys weg van plant. Kroonblare reguit, waaiervormig by bopunt, rand effens getand. Lip eiervormig met kort klou, rande gekartel, buig na bo.

Erica pulchella

Erica pulchella

Klein, aantreklike struikie wat tot 60 cm hoog word. Baie takke, almal oortrek van helder pienk blomme. Die blomme groei in ritse naby die punt van die takke.
Jonger plante dra meer blomme as ouer plante; laasgenoemde word takkerig en blom al minder, hoe ouer hulle word.
Die kroonblaarbuis is ongeveer 4 mm lank, soos ’n smal kruik wat effens inkeep voordat dit by die mond uitklok. Die helmknoppe en stamper steek nie by die blom uit nie.
Nuwe blommetjies hang dikwels na onder.
Blomme wissel in vorm en kleur en blomtyd volgens die area waar hulle groei. Om Kleinmond is hulle meestal helder pienk.

Watsonia laccata

Watsonia laccata

’n Bolplant wat tot 40 cm hoog word.
Blare is swaardvormig met effens verdikte rande, meestal tot 15 mm breed. Hulle is gewoonlik die helfte van die lengte van die blomsteel.
Blomme is in ’n kort rits gerangskik en is pienk tot pers, oranje of wit (wat nou en dan ’n pienk kiel het). Die blombuis is lank en die kroonblare maak dan wyd oop. Skutblare is styf teen die blomsteel.

Erica quadrangularis

Erica quadrangularis

Kom wydverspreid voor en is maklik om te bekom en te kweek.
Regop, ronde struik tot 60 cm. Gedurende die blomseisoen is die plante oortrek van blomme. Die blomsteeltjies is haarloos en die blommetjies is klein en bakkievormig en wissel van wit tot amper rooi. Kroonblare is ongeveer 3 mm lank.

Erica corifolia

Erica corifolia

Enkelstammige regop, yl struik wat tot 1 m hoog word. Die blare word in drieë om die takke gerangskik en sit styf teen die takke. Blomme groei in trossies op die punte van die takke. Die kelkblare is vergroot en bedek die kroonblare byna geheel en al. Hulle bly lank vars en pienk, maar die kroonblare word gou bruin by die punte. Dit lyk asof die blom se onderrok uithang.

Erica obliqua

Erica obliqua

Die groeiwyse is kenmerkend. Die plant word selde hoër as 40 tot 50 cm en bestaan uit ’n enkele regop stam, soms met twee of drie sytakke. Die onderste deel van die stam of takke is gewoonlik blaarloos.
Die punt van die stam of takke eindig in ’n pienk blomskerm (blommetjies groei op ewe lang blomsteeltjies wat almal uit dieselfde plek in die tak groei en ’n klein trossie vorm).
Daar is groot variasie in die kleur en getal van die blomme. Die kroonblare is perspienk, harig, taai en 7 tot 8 mm lank. Hulle is ingekeep by die keel.
Hulle vorm dikwels klein kolonietjies.

Aristea spiralis

Aristea spiralis

Die plante groei tot 50 cm hoog. Die stamme is plat en vertak gewoonlik nie.
Blare is 4 tot 7 mm breed en sag.
Die blomme is besonder groot vir Aristeas en sittend aan die stammetjies. Blomme wys altyd na die kant toe, en is wit of ligblou.
Blomskedes is groen met gladde, deurskynende rande.

Serruria adscendens

Serruria adscendens

’n Enkelstammige ronde struikie wat tot 1 m hoog kan groei. Die stam is gewoonlik so 2 cm in deursnee en takke groei opwaarts.
Die gladde blare is naaldvormig en kan nog verder verdeel.
Pienk bloeiwyses wat lekker ruik, verskyn in die lente. Elkeen bestaan uit verskeie blomhofies.

Gladiolus undulatus

Gladiolus undulatus

’n Bolplant wat 40 tot 80 cm hoog groei en soms selfs hoër word. Blare is swaardvormig met ’n effens verdikte midrib en blaarrande. Blare en blomstele is glad en blomstele nie vertak nie.
Drie tot twaalf blomme groei in ’n rits op die blomsteel. Hulle is wit tot roomkleurig, nou en dan lila, en het dikwels ligte pienk merke op die onderste kroonblare. Blomme is sittend.
Die blomdekbuis is silindries en lank. Kroonblare word dunner na die punt en het kartelrande. Die dorsale kroonblaar is die grootste en oor die helmknoppe gebuig. Die onderste kroonblare is effens kleiner en wys vorentoe.

Erica intervallaris

Erica intervallaris

Kan maklik verwar word met Erica parviflora; die twee lyk baie eners.
Erica intervallaris het ’n sagte voorkoms en groei tot 60 cm. Takke is slap.
Blare in viere, naaldvormig en bedek met kort haartjies.
Blomme is pers of rooipienk. Die kroonblare is meestal glad, kruikvormig en ongeveel 4 mm lank. Hulle is vierhoekig.

Disa atrorubens

Disa atrorubens

Slanke plant tot 50 cm met ‘n donker rooi stam, groen tot rooi spiesvormige blare wat uit stam groei en groen skutblare. Tot 18 blomme in ‘n rits met donkerrooi kelkblare en pers, byna swart kroonblare en lip. Middelste kelkblaar effens konkaaf; sy-kelkblare gebuig; kroonblare ovaal. Die lip is gelyksydig en vlesig.

Disa cornuta

Disa cornuta

Stewige regop plant tot 1 m. Blare groei uit stam, effens gekartel. Onderste blare vou om stam en is rooi gestippel of gestreep. Tot 35 blomme in digte rits, effens na onder gebuig, pers en silwer-groen. Middelste kelkblaar diep kappievormig; sy-kelkblare wys vorentoe; kroonblare smal. Lip eiervormig en vlesig, spoor silindries. Kleur en vorm van die kelkblare is baie veranderlik.

Erica sitiens

Erica sitiens

Die plant is soms ’n plat, kompakte struikie, maar kan ook regop groei, tot 60 cm hoog. Blare in kransies van drie, naaldvormig.
In die somer is die plant gewoonlik oortrek van massas klein blommetjies. Hulle vorm digte ritsies teen die takke op. Kelkblare is lank en naaldvormig, maar breër by die blombasis. Die kroonblare is kruikvormig, maar a-simmetries rond, 7 mm lank en kan pienk, rooi of wit wees, of rooi met wit lippe. In Kleinmond is hulle wit. Die blomme kan horisontaal groei of effens afbuig. Die agt helmknoppe steek nie uit nie.

Satyrium carneum

Satyrium carneum

Stewige, regop plant tot 85 cm hoog met vlesige blare. Onderste 2 blare deels plat op die grond, verder op teen die stam word hulle kleiner tot slegs blaarskedes. Tot 45 blomme in digte rits, lig tot donker pienk, soms wit. Skutblare na onder gebuig. Kelk- en kroonblare so te sê los van mekaar, krul terug. Flap by lip se ingang heeltemal teruggebuig, baie kort. Twee spore tot 2 cm lank.

Erica imbricata

Erica imbricata

’n Stewige struik wat gewoonlik tussen 60 en 90 cm hoog groei met regop takke en naaldvormige blaartjies. Verskeie kleure kom voor, maar in Kleinmond is hulle wit met lang bruin of swart helmknoppe, netjies saamgebondel of uitgesprei. Die meeldrade het geen aanhegsels nie.
Die blomme is meestal in groepies van drie op die punte van takkies. Skutblare is groot en lê styf teen die blomkelk. Skutblare, kelkblare en kroonblare lê netjies oormekaar soos dakteëltjies. Die kroonblare is effens taai, maar is skaars sigbaar onder die skutblare en kelkblare.
E. imbricata is ’n algemene gesig in die fynbos.

Micranthus plantagineus

Micranthus plantagineus

Die plant word 25 tot 45 cm hoog.
Dit het gewoonlik 3 tot 4 blare, met klein knolletjies in die onderste blaaroksels. Blare is silindries en hol, 2 tot 3 mm in deursnee.
Die blomme vorm ’n rits van twee rye en is gewoonlik donkerblou, soms wit. Die onderste skutblare is soms steriel. Skutblare is droog, hard en bruin met vliesagtige rande.

Pterygodium catholicum

Pterygodium catholicum

Slanke plant tot 45 cm hoog. 2 – 4 spiesvormige blare. Blomme in los rits met 1 – 14 blomme wat effens afbuig. Kelkblare groen, kroonblare en lip geelgroen, soms met rooi tint. Ouer blomme word rooi. Skutblare ellipties. Middelste kelkblaar kappievormig en met kroonblare versmelt. Sy-kelkblare horisontaal, kroonblare byna vierkantig en effe konkaaf. Lip driehoekig met regop, driehoekige aanhangsel, punt effens vorentoe gebuig.

Tritoniopsis parviflora

Tritoniopsis parviflora

Die bolplant word tot 40 cm hoog. Blare is baie smal met een of twee are. Na die bopunt word dit nog smaller tot ’n plat vals blaarsteel.
Blomme is in ’n digte rits gerangskik. Hulle is geel met donkerbruin of donkerpers merke en het ’n soet spesery-geur. Die blomdekbuis is tot 5 mm lank en die dorsale kroonblare is groter as die ander. Die skutblare is groen onder en droog bo.

Bonatea speciosa

Bonatea speciosa

Stewige plant tot bykans 1 m. Reguit tot spiesvormige blare groei uit die stam. Tot veertig groen en wit blomme in digte rits. Middelste kelkblaar regop, sy-kelkblare uitgesprei. Kroonblare verdeel. Boonste kelkblaarsegment smal, word dunner na punt. Onderste kelkblaarsegment smal tot spiesvormig, wys vorentoe. Lip het drie lobbe vanuit ‘n kort, smal basis; middelste een smal en skerp gebuig in middel. Sy-lobbe baie smal, na onder gebuig met punte wat terugkrul. Spoor effens geswel by bopunt.

Disa bivalvata

Disa bivalvata

Regop plant tot 45 cm. Spiesvormige blare groei uit stam; onderste blare dig gerangskik om stambasis; hoër op teen die stam is hulle meer eweredig gespasieer. Blomme nie onderstebo nie; tot 30 blomme in ‘n plat blomskerm. Kelkblare wit, middelste kelkblare gebuig tot horisontaal en vlak kappievormig. Kroonblare en lip maroen tot swart. Lip staan weg, boonste gedeelte dikwels na bo gebuig.

Erica amphigena

Erica amphigena

Regop struikie tot 60 cm hoog met slap takke. Blare is liggroen.
Blomme klein, koppievormig en smal. Hulle is wit met ’n pienkerige of perserige skynsel op die kroonblaarbuis. Kroonblare is 5 mm lank en effens ovaal.
Blomme hang na die grond toe. Helmknoppe steek uit.
Die plant is seldsaam en word nie maklik opgespoor nie. Hulle groei een-een hier en daar teen berghellings, ongeveer 700 m bo seevlak van Palmietrivier-vallei tot in die Houwhoek-omgewing.