Okt, Nov, Des | Plantspesies wat nou in Kleinmond blom
Erica pulchella
Klein, aantreklike struikie wat tot 60 cm hoog word. Baie takke, almal oortrek van helder pienk blomme. Die blomme groei in ritse naby die punt van die takke.
Jonger plante dra meer blomme as ouer plante; laasgenoemde word takkerig en blom al minder, hoe ouer hulle word.
Die kroonblaarbuis is ongeveer 4 mm lank, soos ’n smal kruik wat effens inkeep voordat dit by die mond uitklok. Die helmknoppe en stamper steek nie by die blom uit nie.
Nuwe blommetjies hang dikwels na onder.
Blomme wissel in vorm en kleur en blomtyd volgens die area waar hulle groei. Om Kleinmond is hulle meestal helder pienk.
Satyrium odorum
Stewige plant tot 56 cm hoog met 2 tot 6 groot eier- tot swaardvormige blare wat om stam vou. Tot 40 liggroen tot gelerige blomme in taamlik digte rits. Buitenste dele is dof-bruin tot dof-pers getint. Skutblare tot 2,5 keer langer as die vrugbeginsel, ovaalvormig, skerp na onder gebuig. Kelkblare buig af, met middelste kelkblaar effens kleiner as sy-kelkblare. Kroonblare heelwat korter as kelkblare en minder gebuig. Kroonblare by basis versmelt met lip om ‘n kort buis te vorm. Spore tot 1,8 cm lank.
Pterygodium bicolorum
Stewige plant tot 40 cm, blare gekartel, smal tot spiesvormig met breë basis, groei uit die stam. Skutblare eiervormig met skerp punt. Baie groen-geel blomme in digte rits om blomsteel. Sy-kelkblare versmelt en konkaaf, kroonblare sakvormig. Lip tweelobbig. Plant word swart wanneer verdroog.
Erica intervallaris
Kan maklik verwar word met Erica parviflora; die twee lyk baie eners.
Erica intervallaris het ’n sagte voorkoms en groei tot 60 cm. Takke is slap.
Blare in viere, naaldvormig en bedek met kort haartjies.
Blomme is pers of rooipienk. Die kroonblare is meestal glad, kruikvormig en ongeveel 4 mm lank. Hulle is vierhoekig.
Disa tenuis
Slanke plant tot 50 cm. Smal, reguit blare ontwikkel na blomtyd uit die plantbasis; daar is ook slap blare teen die blomsteel. Tot 25 wit, groenerige, ligpers of pienk blomme in rits teen blomsteel. Middelste kelkblaar vorm vlak kappie met baie skerp punt, spoor skaars sigbaar. Smal ovaalvormige sy-kelkblare met skerp punt staan weg van die blom. Kroonblare regop langs helmknop, voorste rand glad of effens getand. Reguit lip wys eers weg, hang dan af; rande glad of getand. Blomme se voorkoms taamlik veranderlik.
Erica articularis
E. articularis is ’n regop struik (1-2 m) met slank, regop takke en die blomme soos pluime op die punte van die blomstele. Dit is ’n herspruiter met ’n stamvoet wat brande kan oorleef. Hulle blom spoedig na ’n brand.
Blomme wys op of na kante toe. Hulle het klein, regop skutblare by die blombasis, styf teen die kelkblare en met dieselfde kleur as die kelkblare.
Die vier groot kelkblare is effens gerond, met skerp punte en donkerder as die pienk kelkblare.
Die helmknoppe en stempel is binne die buis van die kroonblare, maar tog heel sigbaar.
Die blare is effens oormekaar en styf teen die tak gerangskik. Hulle is smal met ’n skerp punt, vlesig, soms gelerig by die basis en met baie kort blaarsteeltjies. Die blaarrande is omgekrul na onder.
Erica sitiens
Die plant is soms ’n plat, kompakte struikie, maar kan ook regop groei, tot 60 cm hoog. Blare in kransies van drie, naaldvormig.
In die somer is die plant gewoonlik oortrek van massas klein blommetjies. Hulle vorm digte ritsies teen die takke op. Kelkblare is lank en naaldvormig, maar breër by die blombasis. Die kroonblare is kruikvormig, maar a-simmetries rond, 7 mm lank en kan pienk, rooi of wit wees, of rooi met wit lippe. In Kleinmond is hulle wit. Die blomme kan horisontaal groei of effens afbuig. Die agt helmknoppe steek nie uit nie.
Ceratandra atrata
Regop plant tot 35 cm. Baie spiesvormige blare met fyn haartjies wat uit die stam groei. Baie groen-geel blomme in los tot taamlike digte rits. Rande van spiesvormige skutblare het fyn haartjies. Middelste kelkblaar swaardvormig, versmelt met kroonblare; sy-kelkblare gebuig. Kroonblare driehoekig konkaaf. Lip regop ankervormig, gewoonlik met vlesige eelt. Rostellum-arms (struktuur tussen stamper en meeldrade wat belangrike rol speel in bestuiwing) soos horings. Hele plant word gitswart wanneer verdroog.
Mimetus cucullatus
Hierdie Mimetus, die enigste een wat nie bedreig is nie, word met reg beskou as ’n onafskeidbare deel van die Kaapse fynbos.
Die struik word tot 1,5 m hoog met talryke takke wat uit die basis van die plant groei. Dit is die enigste Mimetus wat ’n herspruiter is, waarskynlik een van die redes waarom dit tans nie bedreig is nie. Die ondergrondse stamvoet bly lewe tydens veldbrande, en begin dadelik weer lote uitstoot.
Die takke is van bo tot onder met blare bedek. Hulle verander in kleur van groen na rooi op die punte van elke tak. Hier vou die blare om die blomhofies om die bekende rooi bloeiwyses te vorm.
Klein windsels het elk 4 tot 8 blomme en is korter as die draagblare van die bloeiwyse. Elke helder rooi blaar vou styf om die windsel van ’n blomhofie; die res van die blaarskyf is soos ’n kappie vir die los, wit pluimpies en rooi style van die blomdele.
Die vrug is ’n geronde, witterige neut. Die sade word bedek deur elaiosoom op elke punt, verbind deur ’n rif aan een kant.
Micranthus plantagineus
Die plant word 25 tot 45 cm hoog.
Dit het gewoonlik 3 tot 4 blare, met klein knolletjies in die onderste blaaroksels. Blare is silindries en hol, 2 tot 3 mm in deursnee.
Die blomme vorm ’n rits van twee rye en is gewoonlik donkerblou, soms wit. Die onderste skutblare is soms steriel. Skutblare is droog, hard en bruin met vliesagtige rande.
Moraea neglecta
’n Bolplant wat tot 50 cm hoog word en ’n enkele blomsteel het. Die blomsteel is soms taai. Blare is langer as die blomsteel, staan regop en is silindries. Die blomskede is leeragtig en afgeplat aan die bokant.
Blomme is helder geel met swart kolletjies as nektargidse. Dit ruik na vanielje. Kroonblare is nie ewe groot nie; die buitenstes is uitgesprei en tot 50 mm lank. Dit binneste kroonblare is regop.
Die blomme gaan vroegmiddag oop en verlep teen sononder.
Erica muscosa
’n Regop, taai struik tot 1 m hoog. Blare in kransies van drie gerangskik, naaldvormig en baie klein.
Die blomme is piepklein en keëlvormig. Hulle is naaswit en het ’n baie groot stempel.
Erica placentiflora
Kan verwar word met die pienk vorm van Erica imbricata. Die plant groei ook regop, het ook lang takke en klein, kruikvormige blomme met meeldrade wat uitsteek.
E. placentiflora word egter langer (tot 90 cm) en die takke is effens slapper. Die blomme is eerder pers as pienk en het gewoonlik ’n sterk heuninggeur.
Die kroonblare is weggesteek onder die kelkblare en is 2 mm lank en effens platter as E. imbricata s’n. Die kroonblaarbuis se lippe hou die meeldrade, wat by die buis uitsteek, styf vas.
Micranthus alopecuroides
Die plant word 25 tot 40 cm hoog. Blare is swaardvormig met ’n duidelike sentrale aar.
Daar is twee rye blomme in ’n digte rits op die blomsteel. Elke blom is ongeveer 8 mm lank en donkerblou of ligblou. Die harde skutblare is droog en bruin met vliesagtige rande.
Berzelia ecklonii
Kompakte plant met takke wat 1 – 2 m hoog uitsprei. Die smal blink blare is diggepak om vertakkende stamme. Die individuele klein buisvormige blommetjies is dig saamgepak in ’n 1 – 2 cm bolvormige bloeiwyse. Die bloeiwyses verskyn in trosse aan die punte van die stamme. Die plant is brandbestand en herspruit geredelik vanuit die ondergrondse stamvoet.
Berzelia alopecuroides
Stewige regop struik tot 1.5 m. Smal stywe haarlose blare 4 mm lank, diggepak op vele opwaartswysende stamme en takke. Roomkleurige blomkoppe (5 mm deursnee) verskyn in trosse op die punte van die hooftakke. Die blomtrosse is ongeveer 15 cm in deursnee.
Na blomtyd bly die rooi vrugte, wat mettertyd verbleik, vir nog ’n seisoen op die plant agter.
Gladiolus undulatus
’n Bolplant wat 40 tot 80 cm hoog groei en soms selfs hoër word. Blare is swaardvormig met ’n effens verdikte midrib en blaarrande. Blare en blomstele is glad en blomstele nie vertak nie.
Drie tot twaalf blomme groei in ’n rits op die blomsteel. Hulle is wit tot roomkleurig, nou en dan lila, en het dikwels ligte pienk merke op die onderste kroonblare. Blomme is sittend.
Die blomdekbuis is silindries en lank. Kroonblare word dunner na die punt en het kartelrande. Die dorsale kroonblaar is die grootste en oor die helmknoppe gebuig. Die onderste kroonblare is effens kleiner en wys vorentoe.
Disa bracteata
Slank tot taamlik stewige plant tot 50 cm. Spiesvormige regop blare groei uit stam. Baie blomme in lang rits, skutblare soms langer as blom. Blomme groen, kelkblare maroen getint. Middelste kelkblaar soos vlak kappie, sy-kelkblare langwerpig, staan weg, kroonblare regop. Lip smal, hang af. Spoor effens driehoekig, hang af.
Erica discolor
’n Stewige struik wat tot 2 meter hoog kan groei, en tussen 1 en 2 meter in deursnee. Die blare is in drieë om die takke gerangskik.
Die blomme is lang buise met los punte wat gewoonlik ’n ander kleur as die buis is (wit, roomkleurig of effens groen). Die blombuis is gewoonlik effens gebuig en soms effens taai.
Om Kleinmond wissel die kleur van bloedrooi of donkerpienk tot ’n baie ligte pienk. Hulle blom feitlik die hele jaar lank, maar nie altyd almal gelyk nie.
Erica discolor groei van saad, maar is ook een van die min Ericas wat kan herspruit omdat die stamvoet onder die grond die hitte van ’n brand kan oorleef. Hulle begin ook gou-gou blom.
Berzelia abrotanoides
Regop struik tot 1.5 m. Die sagte smal blare is diggepak op dun vertakte stamme. Klein wit tot roomkleurige blommetjies saamgepak in bolvormige blomkoppe, 10 mm in deursnee, verskyn in trosse op prominente rooi blomstingels op die punte van takke. Die stuifmeeldrade steek bo die blomme uit en gee ’n donserige voorkoms daaraan.
Moraea ramosissima
Die bolplant kan tot 120 cm hoog groei en die stam is vertak. Dit het verskeie blare wat twee-twee uitwaaier. Blare is dun, gegroef en blinkgroen.
Die blomskede is liggroen met skerp punte.
Die blom is geel met donkerder nektaraanwysers op die buitenste kroonblare. Die buitenste kroonblare is effens groter as die binnestes. Kroonblare is efffens omgebuig by die punte. Helmknoppe is vasgegroei aan die breë styltakke, en die kroon het lansvormige punte.
Erica cerinthoides
’n Kompakte struikie wat normaalweg ongeveer 30 cm hoog groei, maar soms hoër as 1 m. Die blare is in kransies van vier gerangskik.
Die blomme is helder rooi, groot, harig, buisvormig en in trossies op die punte van die takkies gerangskik.
Die plant het ’n stamvoet wat brande kan oorleef. Hulle steek gou na ’n brand nuwe lote uit, en blom ook gou daarna.
Satyrium carneum
Stewige, regop plant tot 85 cm hoog met vlesige blare. Onderste 2 blare deels plat op die grond, verder op teen die stam word hulle kleiner tot slegs blaarskedes. Tot 45 blomme in digte rits, lig tot donker pienk, soms wit. Skutblare na onder gebuig. Kelk- en kroonblare so te sê los van mekaar, krul terug. Flap by lip se ingang heeltemal teruggebuig, baie kort. Twee spore tot 2 cm lank.
Brunia paleacea
Digte ronde struik met baie vertakkings tot 1 m hoog. Smal driehoekige, bykans haarlose blare, buig inwaards, sit styf teen die stingel en is 3 – 6 mm lank. Brandbestand, herspruit vanuit ondergrondse stamvoet. Roomkleurige blomme, elkeen geset in ’n blomkrans van opsigtelike smal wit tot pienk skutblare tot 7 mm in deursnee. Verskyn in trosse op die punte van stingels wat uit die hoofstam vertak.
Pterygodium catholicum
Slanke plant tot 45 cm hoog. 2 – 4 spiesvormige blare. Blomme in los rits met 1 – 14 blomme wat effens afbuig. Kelkblare groen, kroonblare en lip geelgroen, soms met rooi tint. Ouer blomme word rooi. Skutblare ellipties. Middelste kelkblaar kappievormig en met kroonblare versmelt. Sy-kelkblare horisontaal, kroonblare byna vierkantig en effe konkaaf. Lip driehoekig met regop, driehoekige aanhangsel, punt effens vorentoe gebuig.
Berzelia lanuginosa
Immergroen struik wat uitsprei met slanke vertakkende stamme tot 2 m hoog. Die klein smal blare is diggepak in kronkels om die stamme. Wit tot roomkleurige blomkoppe, ongeveer 7 mm in deursnit, verskyn in trosse aan die punte van kort stingels met kenmerkende rooipers basisse. Die rooipers blomstingels help om lanuginosa te onderskei van die soortgelyke Berzelius alopecuroides wat in die veld na deeglike inspeksie van die blomme van mekaar onderskei kan word. Na blomtyd bly sit die groen tot rooi saadknoppe vir ’n jaar of twee op die plant.
Satyrium lupulinum
Slank tot taamlik stewige plant tot 25 cm met twee tot drie eiervormige blare byna teen die grond, dikwels pers aan onderkant. Tot 20 dowwe geel-groen blomme, dikwels met donkerpers tinte in taamlik digte rits. Skutblare meer as 2 maal langer as vrugbeginsel en skerp na onder gebuig. Kelkblare los tot byna by basis, afgebuig. Onderste twee-derdes van die kroonblare vorm ‘n los buis met die sye van die lip. Punt van die buis sekelvormig, skerp na onder gebuig, harig. Flap van die lip teruggebuig, twee spore tot 1,8 cm lank.
Protea cynaroides
Dit is ’n houterige struik met dik takke wat tot 2 m hoog kan word. Die volwasse struik is egter selde hoër as 1 m. ’n Herspruiter.
Blare is groot, blink en donkergroen.
Die bloeiwyses is baie groot, tot 30 cm in deursnee. Hulle het opvallende, kleurvolle omwindselblare en ’n menigte spierwit blomme in die middel. Omwindselblare wissel van wit tot diep rooi, maar die sagte pienk met ’n silwer skynsel is waarskynlik die gewildste.
Erica macowanii
Waar die plant met restio’s en biesies kompeteer, kan dit tot 1,2 m hoog word.
Die blomme groei in ritse op die dun boonste takke. Die mees algemene vorm het ’n kroonblaarbuis van ongeveer 20 mm, is donkerrooi by die basis en word geel of oranje by die wye mond van die buis. Die blomme is harig. ’n Mens kry pienk en liggeel variasies, asook blomme wat heeltemal wit, geel of pienk is.
Watsonia angusta
’n Bolplant wat tot 1,2 m hoog groei. Blare is swaardvormig. Dit lyk diwels asof hulle met ’n waslagie bedek is.
Blomme is in ’n lang rits geranskik en die blomsteel is vertak. Hulle is helder rooi. Die blombuis is lank en dun en die kroonblare maak wyd oop.
Watsonia meriana
Die bolplant word tussen 60 cm en 2 m hoog. Daar is soms klein knolletjies by die nodusse.
Blare is swaardvormig, het gewoonlik verdikte rande en is tussen 2 en 3,5 cm wyd.
Blomme is in ’n lang rits gerangskik en kan rooi tot oranje of pienk tot pers wees. Die blomdekbuis is tot 5 cm lank en buisvormig aan die bokant. Skutblare is meestal ongeveer 2 tot 3 cm lank.
Aristea oligocephala
Hierdie klein Aristea groei selde hoër as 25 cm. Stammetjies is effens silindries en vertak. Die blare is lank, rond en regop.
Die blom is ’n sagte blou. Die blomskede en skutblare is silwer en deurskynend met ’n smal, donker kiel. Die plant kan hieraan uitgeken word.
Serruria adscendens
’n Enkelstammige ronde struikie wat tot 1 m hoog kan groei. Die stam is gewoonlik so 2 cm in deursnee en takke groei opwaarts.
Die gladde blare is naaldvormig en kan nog verder verdeel.
Pienk bloeiwyses wat lekker ruik, verskyn in die lente. Elkeen bestaan uit verskeie blomhofies.
Thereianthus bracteolatus
Dit is ’n bolplantjie wat tot 25 cm hoog kan word met ronde blare sonder duidelike are.
Blomme is in ’n digte rits en wys na die kante toe. Hulle is donkerblou tot pers, en nou en dan wit. Die blombuis is silindries of soos ’n smal tregter en die kroonblare het drie tot ses duidelike are. Die regop meeldrade steek uit bokant die onderste kroonblaar. Skutblare is 7 tot 15 mm lank.
Erica obliqua
Die groeiwyse is kenmerkend. Die plant word selde hoër as 40 tot 50 cm en bestaan uit ’n enkele regop stam, soms met twee of drie sytakke. Die onderste deel van die stam of takke is gewoonlik blaarloos.
Die punt van die stam of takke eindig in ’n pienk blomskerm (blommetjies groei op ewe lang blomsteeltjies wat almal uit dieselfde plek in die tak groei en ’n klein trossie vorm).
Daar is groot variasie in die kleur en getal van die blomme. Die kroonblare is perspienk, harig, taai en 7 tot 8 mm lank. Hulle is ingekeep by die keel.
Hulle vorm dikwels klein kolonietjies.
Disa bivalvata
Regop plant tot 45 cm. Spiesvormige blare groei uit stam; onderste blare dig gerangskik om stambasis; hoër op teen die stam is hulle meer eweredig gespasieer. Blomme nie onderstebo nie; tot 30 blomme in ‘n plat blomskerm. Kelkblare wit, middelste kelkblare gebuig tot horisontaal en vlak kappievormig. Kroonblare en lip maroen tot swart. Lip staan weg, boonste gedeelte dikwels na bo gebuig.
Leucospermum prostratum
Hierdie speldekussing vorm ’n ronde spreidende mat met bloeiwyses wat eers geel, dan appelkooskleurig en dan rooi is en lekker ruik. Dit is ’n grondbedekker met lang takke (tot 4 m) wat grondlangs groei. Die ondergrondse stamvoet kan brande herhaaldelik oorleef.
Die smal blare groei vertikaal op van die plat tak af. Hulle is sittend, gysgroen en effens harig, met een klein knobbeltjie op die punt.
Die bloeiwyse is rond en 20-25 mm in deursnee. Die styl is reguit.
Saad word 2 maande na die blomtyd vrygestel. Inheemse miere dra die saad na hul ondergrondse neste ter wille van die elaiosoom (voedsame bedekking), waar die saad ontkiem as toestande gunstig is.
Erica tenella
Lang slap takke met ritse blomme op die punte is kenmerkend van die spesie. Blare is in kransies van drie en naaldvormig.
Die kleur van die blomme wissel van donkerpienk tot ’n baie ligte pienk. Kelkblare is groot en naaldvormig, maar breër by die basis en rooierig. Die kroonblaarbuis is kruikvormig, glad en 4-6 mm lank. Meeldrade is binne die buis.
Hulle vorm soms groot stanings.
Leucadendron salignum
’n Meerstammige struik met ’n ondergrondse stamvoet wat brande kan oorleef. Die plant is ’n herspruiter – die bogrondse plant oorleef nie ’n brand nie, maar lote verskyn byna dadelik weer uit die onbeskadigde stamvoet. Die struik kan tot 2 m hoog word, maar is meestal korter. Manlike plante se takke is dunner as vroulike plante s’n. Ten spyte van die uitgestrekte verspreidingsgebied is daar min variasie in die plante in verskillende streke.
Manlike plante se blare is korter as vroulike plante s’n. Die omwindselblare van manlike blare lyk net soos die res van blare, behalwe dat dit effens langer, rooi of geel en min in getal is. Die klein ronde blomkoppe word nie weggesteek nie. Vroulike plante se omwindselblare is gewoonlik ivoorkleurig en breed en steek die blomkoppe weg.
Volwasse saad is gevlerk. Dit word vir lang tye in die keëls gehou. ’n Groot verskeidenheid kultivars en hibriede word in kwekerye in SA en oorsee verkoop.
Erica spumosa
Kompakte struikie van ongeveer 45 cm, met spreidende, dun takke en veelvuldige kort blomdraende takkies.
Die blomhofies se drie blomme is tussen die blare op die punte van die takkies genestel. Skutblare is groot, lyk soos kelkblare en leun teen hulle. Hulle is blink, het dieselfde kleur as die kelkblare en is losserig. Die kelkblare is prominent en pienk en amper so lank soos die kroonblare. Die kroonblare is bakkievormig, ongeveer 4 mm en wit of kleurloos. Die lippe van die buis vou effens na binne. Die meeldrade is swart en gepunt en steek uit by die blom. Die blommetjies lyk soos skuimvlokkies.
Erica massonii
Die struikie self is ylerig en spreidend en selde hoër as 50 cm. Die blare is styf gepak van die basis tot die punt van die tak en harig. Dit gee die plant ’n wollerige voorkoms.
Die blomme is soos ’n wawiel om die punt van die tak gerangskik. Die buis is ongeveer 25 mm lank en helder rooi met ’n geswolle geel punt en groen lippe. Die blomme is baie taai en blink.
Erica exleeana
Dit is ’n klein, taai struikie wat tot 30 cm hoog groei. Die blare is in drieë om die takkies gerangskik. Die blomme lyk soos baie klein kruikies en wissel van vaalgroen of roomkleurig tot pienk. Die stempel is vergroot en steek ver uit.
Disa filicornis
Slanke plantjie tot 25 cm hoog. Verskeie smal, grondstandige blare; stamstandige blare spiesvormig en feitlik volledige blaarskedes. Tot 10 blomme in los rits, wit tot donker pienk of pers. Binnekant van kappie dikwels donkerder, met kolle of strepe. Middelste kelkblaar soms wit as die blom pienk is, lepelvormig met kort klou, konkaaf en teruggebuig. Spoor onopsigtelik klein. Sy-kelkblare horisontaal, wys weg van die blom, punt dikwels omgebuig. Smal, reguit kroonblare vorm om die styl. Lip hang af.
Erica holosericea
Yl, regop plant tot 90 cm hoog wat min blomme dra.
Blare is smal met skerp punte en sagte haartjies op die rande van jong blare.
Die blomme is fluweelsag, effens harig en pienk. Altyd in groepies van drie op die punte van takkies. Skutblare is soos skubbe teen takkies. Die kelkblare is groot en lansvormig. Dit hou die kroonblare vas en is en byna net so lank soos laasgenoemde. Hulle hou langer as die kroonblare, wat vinnig verdroog. Wanneer die kelkblare later doodgaan, vorm hulle ’n harde dop om die vrugbeginsel.
Holothrix cernua
Slanke plant tot 24 cm hoog, harige stam. Twee ronde blare plat op grond met kort, stywe haartjies of haartjies op blaarrande. Blare soms reeds verdroog in blomtyd. Blomme in los tot digte rits tot 7 cm lank, meestal net een kant van die stam. Blomsteel sonder skutblare, met lang haartjies. Kelkblare harig, kroonblare vlesig op die punte, lip vlesig met lelle, spoor tot 4 mm.
Erica fastigiata
’n Regop struik wat tot 1 m hoog kan word. Blare is glad en groei dig opmekaar in kranse van vier om die takke.
Die blomme is buisvormig en die kroonblare eindig in vier los, plat, breë lippe. Die lippe het soms skerp punte. Daar is altyd vier blomme op die punt van ’n blaarsteeltjie. Die buis-gedeelte van die blom is donkerpienk en ongeveer 10 mm lank. Daar is ’n donkergroen of pienk ring by die mond van die buis. Die punte is ’n ligter pienk as die buis self.
Pterygodium acutifolium
Plant tot 470 mm hoog met 3 – 4 langwerpige blare teen die stam. 1 – 14 blomme in ‘n los tot digte rits. Skutblare eiervormig. Middelste kelkblaar is bakkievormig en vas aan kroonblare. Sy-kelkblare ook bakkievormig. Punte van die kroonblare is effens konkaaf. Die lip is driehoekig met ‘n driehoekige aanhangsel wat af buig.
Disperis paludosa
Slanke plant tot 46 cm. Drie smal reguit blare groei uit die stam, alternerend. Tot 4 donker pienk en groen blomme met pers kolle op kroonblare. Middelste kelkblaar vorm kappie wat nouer na onder word en harig is. Sy-kelkblare is horisontaal, buig dan af en verdeel – lyk soos bottel-oopmaker. Kroonblare sit teenaan middelste kelkblaar, harig en klouvormig. Lip teen die kolom ook klouvormig. Skutblare sit styf teen stam.
Erica thomae thomae
’n Regop plant tot 60 cm. Blare in kransies van ses, naaldvormig, buig effens na binne.
Blomme groei in ’n krans om die tak en naby die punt daarvan. Blomsteeltjies is baie kort. Skutblare en kelkblare is naaldvormig. Die kroonblaarbuis is lank (20 tot 30 mm), effens gebuig en ook effens gerif. Die blombuis is baie taai. Die lippe van die buis klok effens uit en effens rond.
Die kroonblaarbuis kan wit, pienkerig, geel, oranje of oranje-pienk wees. Plante met wit blomme is kleiner as die ander. In die Kleinmond-omgewing is hulle wit.
Die blomme groei al om die takke by dit punte daarvan.
Satyrium bicallosum
Slank tot stewige plant tot 22 cm met 1 – 3 lang ovaalvormige blare naby die grond. Skutblare eers horisontaal, wys dan na bo. Blomme in rits met tot 150 blomme, dofwit, effens groen, ligpers kol bokant die bek van elke spoor. Kroonblare effens korter as middelste kelkblaar. Lip vorm breë kappie met twee lobbe. Flap van kappie buig af tot dit amper aan die middelste kelkblaar raak en die ingang van die blom in twee deel. Spore baie kort.

















































