IRIDADEAE

Aristea oligocephala

Silwer aristea
Aristea kom van Latyns arista (koringaar se “baarde”) en verwys na die blare se skerp punte. Oligocephala kom van die Grieks oligos (min) en cephalus (kop). Daar is dus nooit baie blomme aan ’n blomsteel nie.

Beskrywing

Hierdie klein Aristea groei selde hoër as 25 cm. Stammetjies is effens silindries en vertak. Die blare is lank, rond en regop. Die blom is ’n sagte blou. Die blomskede en skutblare is silwer en deurskynend met ’n smal, donker kiel. Die plant kan hieraan uitgeken word.

Blomtyd

Nov, Des, Jan

Blomkleur

Blou

Bewaringstatus

Byna bedreig

Bedreigings

Ongeveer 40% van sy habitat het verlore gegaan weens kusontwikkeling en landbou-uitbreiding. Te gereelde brande en indringerplant-uitbreiding is bykomende risiko’s.

Habitat en gebied

Lae sandsteenhellings. Hottentots-Holland-berge tot Bredasdorp.

Vind hierdie spesie by:

3, 11, 13

Meer oor

Aristea oligocephala

Ekologie

Blomme word deur bye bestuif.

Deel van die genus

Aristea
Immergroen, meerjarige bolplante. Die risoom kan kort of lank wees. Blare is gewoonlik swaard- tot naaldvormig, soms rond. Hulle het altyd ’n skerp punt. Blomme is dikwels sittend (sonder blomsteeltjies) en meestal helder blou. ’n Mens kry ook ligblou, lila en wit blomme. Blomme gaan vroeg soggens oop en verlep in die namiddag. Kelkblare spiraal in mekaar wanneer die blom verlep. Nektar is reukloos. Meeldrade is regop en los van mekaar. Aristea kom voor van Suid-Afrika tot in Senegal en Ethiopië, met sewe spesies in Madagaskar. Die meeste spesies (ongeveer 50) kom in die winterreënvalstreke van Suid-Afrika voor, 32 daarvan in die Wes-Kaap. Hier word blomme gestimuleer deur vuur.
IRIDADEAE
Dit is ’n groot familie meerjarige plante, baie met pragtige, opsigtelike blomme. Blare groei gewoonlik vertikaal tot die stam en omsluit die blomsteel by die basis daarvan. Baie spesies se blare het ’n verdikte hoofaar. Blomme word ’n klein trossies of in ’n rits gerangskik. Daar is meestal ses kroonblare, almal ewe groot of van verskillende groottes, met die boonstes (dorsale kroonblare) gewoonlik groter as die res. Baie is helderkleurig met kenmerkende strepe of kolle. Baie eindig in ’n buis, en baie hou net vir een dag. Baie is welriekend. Saad is dikwels in ’n droë saadhuis wat aan drie kante oopskiet om die sade vry te stel. Daar is wêreldwyd ongeveer 65 genera in die familie met 1800 spesies. In die Kaapse blomstreek is daar al 27 genera opgeteken met 707 spesies. Die meeste spesies verkies klipperige leemgrond, aangesien dit dreinering verbeter. Party groei ook in vleie en selfs in sand. Hulle word gevind van die hoogwatermerk tot ’n hoogte van meer as 3 000 m. Die grootste genera is Gladiolus, Iris en Moraea (almal met meer as 200 spesies). Baie spesies kom in ’n baie klein gebied voor, en stedelike en landbou-ontwikkeling hou vir hulle ’n groot bedreiging in. Die naam IRIDACEAE is in 1753 deur Linaeus toegeken en verwys na die Griekse godin Iris wat met die reënboog afgegly het om boodskappe van die berg Olimpus na die aarde te neem. Die baie kleure van hierdie familie het Linaeus klaarblyklik aan die reënboog laat dink. Die meeste IRIDACEAE verkies ’n klimaat met ’n droë of koue seisoen wanneer die bolle dormant is. Die meeste verloor hul blare in daardie seisoen. Immergroen spesies is beperk tot areas met baie reën of wat deur die jaar klam is. Die blare en stam sterf wanneer die bol dormant is. Die bol kan in tye wat nie geskik is vir groei nie (soos droogte of brande) ondergronds oorleef. Sodra die eerste reën na ’n brand of droogte val, verskyn die plante weer bogronds; trouens baie is op hulle beste en blom op hul weligste na ’n brand.

Ander spesies in hierdie familie:

Staavia radiata

Staavia radiata

’n Ronderige struikie, 60 – 90 cm. Die groen blare is smal, naaldvormig en 4 – 7 mm lank. Jong takkies en blaartjies is bedek met fyn haartjies. Ouer takke is houtagtig. Die wit tot liggeel skutblare wat uitsprei rondom die pienk diggepakte buisvormige blommetjies laat die 30 – 50 mm blomkoppe soos magrietjies lyk. Die blomme verskyn aan die punte van die stamme. Die hoofstam is houtagtig en verskuil onder die grond. Die plant is dus redelik brandbestand en herspruit weer vinnig na brandskade. Dit lyk asof dit “vir altyd” blom omdat die wit skutblare oorbly lank nadat die blomme reeds dood is, vandaar die volksnaam.

Brunia paleacea

Brunia paleacea

Digte ronde struik met baie vertakkings tot 1 m hoog. Smal driehoekige, bykans haarlose blare, buig inwaards, sit styf teen die stingel en is 3 – 6 mm lank. Brandbestand, herspruit vanuit ondergrondse stamvoet. Roomkleurige blomme, elkeen geset in ’n blomkrans van opsigtelike smal wit tot pienk skutblare tot 7 mm in deursnee. Verskyn in trosse op die punte van stingels wat uit die hoofstam vertak.

Brunia noduliflora

Brunia noduliflora

’n Ronderige immergroen struik tussen 0.6 en 1.5 m hoog. Die takkies is bedek met fyn haartjies en 2 – 3 mm naaldagtige blare wat diggepak plat teen die takkies lê. Die wit, welriekende, bolvormige blomkoppe (10 mm deursnit) verskyn kort na die eerste winterreëns in trosse op die punte van takke wat van verskillende plekke op die stamme uitspruit. Na blomtyd val die blomme af en laat die grysbruin vruggies agter wat vir ’n paar jaar op die bos kan bly. Die plant is brandbestand omdat dit na brandskade herspruit uit die ondergrondse houtagtige stamvoet.