PROTEACEAE

Mimetus cucullatus

Rooistompie
Die rede vir die naam Mimetes, van die Grieks mimetes (nabootser), is onbekend. Cucullatus van die Latyns cucullatus (kappie of mantelkap) verwys na die rooi blaar wat soos ’n kappie om die blomhoof vou.

Beskrywing

Hierdie Mimetus, die enigste een wat nie bedreig is nie, word met reg beskou as ’n onafskeidbare deel van die Kaapse fynbos. Die struik word tot 1,5 m hoog met talryke takke wat uit die basis van die plant groei. Dit is die enigste Mimetus wat ’n herspruiter is, waarskynlik een van die redes waarom dit tans nie bedreig is nie. Die ondergrondse stamvoet bly lewe tydens veldbrande, en begin dadelik weer lote uitstoot. Die takke is van bo tot onder met blare bedek. Hulle verander in kleur van groen na rooi op die punte van elke tak. Hier vou die blare om die blomhofies om die bekende rooi bloeiwyses te vorm. Klein windsels het elk 4 tot 8 blomme en is korter as die draagblare van die bloeiwyse. Elke helder rooi blaar vou styf om die windsel van ’n blomhofie; die res van die blaarskyf is soos ’n kappie vir die los, wit pluimpies en rooi style van die blomdele. Die vrug is ’n geronde, witterige neut. Die sade word bedek deur elaiosoom op elke punt, verbind deur ’n rif aan een kant.

Blomtyd

Jan, Feb, Mrt, Apr, Mei, Jun, Jul, Aug, Sep, Okt, Nov, Des

Blomkleur

Rooi, Wit

Bewaringstatus

Lae risiko

Bedreigings

Die enigste Mimetes wat wydverspreid voorkom en ’n herspruiter is. Die stamvoet oorleef brande en stoot gou nuwe lote uit. Indringerplante is nog nie ’n groot bedreiging nie.

Habitat en gebied

Hulle hou van goed gedreineerde suur sand- of gruisgrond wat uit Tafelbergsandsteen onstaan het. Hulle moet genoeg water kry.

Vind hierdie spesie by:

2, 3, 4, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14

Meer oor

Mimetus cucullatus

Ekologie

Miere hou van die elaiosoom op die vrug en dra dus die sade na hulle neste, waar hulle dié gryswit vetterige bedekking afeet. Die saad, wat nie daardeur beskadig word nie, bly agter in die nes waar dit kan bly tot toestande reg is vir ontkieming, soms jare lank. Knaagdiere eet ook die elaiosoom van sade wat op die grond beland.

Deel van die genus

Mimetes
Die ongewone blomkoppe onderskei hierdie genus van al die ander Protea-genera. Volgens SANBI se rooi datalys is daar 13 spesies in die genus. Hulle is beperk tot ’n klein gebied in die suidwestelike en suidelike Kaap. Mimetes cucullatus is die enigste spesie wat wydverspreid voorkom; die ander is beperk tot baie klein gebiede en word almal as bedreig beskou. Mimetes stokoei is byvoorbeeld beperk tot ’n enkele gebied in die Kogelberge en word selfs daar selde gesien. Die blomme kom in klein windsels voor en elke blomhofie van 3 tot 16 blomme word in die oksel van ’n loofblaar gedra. Die 15 of meer blomhofies word op verskillende maniere en in verskillende kleure op die stingel gegroepeer. Mimetes kom van die Grieks mimetes (nabootser). Waar die naam vandaan kom, is nie seker nie. Een moontlikheid is die feit dat die verskillende spesies nie veel van mekaar verskil nie.
PROTEACEAE
Die Proteaceae is ’n baie ou plantfamilie, waarskynlik een van die oudste groepe blomplante. Daar was proteas in Gondwanaland reeds lank voordat dit 140 miljoen jaar gelede uiteen begin dryf het. Suid-Afrika deel geen genus van sy proteas met Australië nie, maar meer as die helfte van die genera in Suid-Amerika kom ook in Australië voor. Uit die ongeveer 360 spesies in Suid-Afrika kom 330 slegs in die Kaapse Blommestreek (tussen Niewoudtville in die noordweste en Grahamstad in die ooste) voor. Die Kaapse plooiberge het veroorsaak dat die plante in isolasie geleef het, en dit is waarskynlik waarom daar so ’n groot verskeidenheid spesies is. Die konsentrasie van die Proteaceae in die Suidwes-Kaap dra by tot die voorkoms van die Kaapse flora, met sy houtagtige struike en gerolde blare. Dit is tipies van gebiede met lang droë somers en arm grond. Proteacea is ’n belangrike deel van die Kaapse fynbos. Dié woord kom van die Hollandse fijn bosch, die naam wat hulle vir die vreemde plantegroei met sy gebrek aan grasweiding gegee het. Al die lede van die Protea-familie het proteoïede wortels, digte klonte harige worteltjies waarvan die oppervlak-area 15 keer groter is as dié van ander wortels. Hierdie tipe wortels vorm in ’n mat van 50 mm diep in die grond net onder die blare-deklaag. Dit is waar die meeste voedingstowwe gevind word. In die veld vorm hulle net tydens die reënseisoen en is ’n aanpassing by die arm grond in die Kaapse berge. Hierdie soort wortels stel die plante in staat om al die beskikbare voedingstowwe op te neem. Hulle is ook aangepas om brande te oorleef. Baie is herspruiters met ’n dik stamvoet of verhoute knol wat die vuur oorleef en dadelik daarna nuwe lote uitstoot. Ander stoor hulle saad jare lank aan die plant. Die plant sterf in ’n brand, maar stel eers in die hitte van die vlamme sy saad vry. Die chemikalieë in die rook van die vuur stimuleer hierdie sade om vinnig te begin groei. Carl Linnaeus het die naam in 1767 aan die familie toegeken. Dit verwys na die Griekse god Proteus wat na willekeur van vorm kon verander, waarskynlik weens die groot verskeidenheid blomme, blare en groeiwyses in hierdie familie.

Ander spesies in hierdie familie:

Spatalla mollis

Spatalla mollis

’n Regop struikie wat vanaf die basis vertak en tot 75 cm hoog word. Hulle groei in klein groepies wat wyd verspreid oor ’n gebied voorkom.
Ouer blare is glad, naaldvormig en soos dakpanne op die takke gerangskik.
Die sagte wit, wollerige bloeiwyses is dikwels ’n opvallende gesig in die bergveld. Hulle groei in trosse op die punte van die takke en is sittend (sonder ’n blomsteel) met eenblommige windsels. Die blomme tweeslagtig.
Saad word twee maande na blomtyd vrygestel, is harig en silindries en sit op verkorte steeltjies.

Spatalla racemosa

Spatalla racemosa

’n Klein vertakte struikie, gewoonlik minder as 50 cm hoog.
Die naaldagtige blare is 15-25 mm lank.
Bloeiwyses is klein, los gerangskikte silindriese trosse van 1–30 mm. Lang bloeistele laat die bloeiwyses bokant die blare uitstaan. Die eenblommige windsels het lang bloeisteeltjies. Die blomdek is wollerig en buig sterk na vore. Die stuifmeelaanbieder is effens eiervormig.
Die saad is yl behaar, klewerig aan die basis en baie smal.

Spatalla curvifolia

Spatalla curvifolia

Dit is ’n klein, regop plant wat tussen ander fynbosplante groei.
Die gebuigde, naaldagtige blare is 25-50 mm lank. Hulle is nie altyd skerp gebuig nie; die mate van buiging verskil van bevolking tot bevolking.
Romerige wit of liggeel bloeiwyses met talryke eenblommige windsels vorm digte trosse van 30-70 mm. Blomtrosse word deur die jaar gevorm, dus merk mens hulle makliker as ander Spatallas op.