PROTEACEAE

Spatalla mollis

Wolkoppie, slangkoppie
Spatalla van die Latyns spathalus (spatel of lepelvormig) verwys na die lepelvorm van die blomme. Mollis kom van die Latyns mollis (sag).

Beskrywing

’n Regop struikie wat vanaf die basis vertak en tot 75 cm hoog word. Hulle groei in klein groepies wat wyd verspreid oor ’n gebied voorkom. Ouer blare is glad, naaldvormig en soos dakpanne op die takke gerangskik. Die sagte wit, wollerige bloeiwyses is dikwels ’n opvallende gesig in die bergveld. Hulle groei in trosse op die punte van die takke en is sittend (sonder ’n blomsteel) met eenblommige windsels. Die blomme tweeslagtig. Saad word twee maande na blomtyd vrygestel, is harig en silindries en sit op verkorte steeltjies.

Blomtyd

Jul, Aug, Sep, Okt, Nov, Des

Blomkleur

Wit, Geel, Rooi

Bewaringstatus

Seldsaam

Bedreigings

Brande wat in sekere gebiede te kort op mekaar gevolg het, het veroorsaak dat daar nie tyd was om ’n saadbank op te bou wat groot genoeg was vir die spesie om daar te oorleef nie.

Habitat en gebied

Hierdie spesie floreer bokant 450 m bo seevlak. Hulle groei meestal in klam kolle in swart, veenagtige grond.

Vind hierdie spesie by:

10, 12, 13

Meer oor

Spatalla mollis

Ekologie

Hulle word deur insekte bestuif. Inheemse miere dra saad na ondergrondse neste waar hulle ontkiem wanneer die omgewing- en klimaatsfaktore reg is.

Deel van die genus

Spatalla
Die klein Spatalla-struikies met hulle piepklein bloeiwyses word dikwels in die veld misgekyk. Die bloeiwyse is meestal silindries en bestaan uit ’n hoofas met klein, laterale windsels. Daar is 1 tot 3 blomme in elke windsel en elke windsel word omring deur 4 skutblaartjies. Die blomme buig vorentoe en weg van die plant se as. Die saad is harig en aan sy basis bokant die steel afgeknot. Spatallas is beperk tot Suidwes- en Suid-Kaap en groei binne ’n groot hoogtespeling. Ses spesies groei net in die Kogelberge en ses net op die Riviersonderendberge. In 2012 is twintig verskillende spesies opgeskryf; daar is tans waarskynlik al meer. Om ’n brand te oorleef, is die genus afhanklik van miere wat hulle saad in die goeie jare ondergronds bêre. Die naam het ook ’n interessante oorsprong. Spatalla van die Latyns spathalus (spatel- of lepelvormig) verwys na die lepelvorm van die blomme, maar dit kan ook kom van ’n Griekse woord wat “wulps” beteken en daaroor skryf ons Protea-doyenne Marie Vogts dat ene meneer Loudon in 1829 “taamlik kil” opgemerk het dat die naam met “meer geestigheid as welvoeglikheid” uitgedink is vanweë die plante se buitengewoon groot stempels.
PROTEACEAE
Die Proteaceae is ’n baie ou plantfamilie, waarskynlik een van die oudste groepe blomplante. Daar was proteas in Gondwanaland reeds lank voordat dit 140 miljoen jaar gelede uiteen begin dryf het. Suid-Afrika deel geen genus van sy proteas met Australië nie, maar meer as die helfte van die genera in Suid-Amerika kom ook in Australië voor. Uit die ongeveer 360 spesies in Suid-Afrika kom 330 slegs in die Kaapse Blommestreek (tussen Niewoudtville in die noordweste en Grahamstad in die ooste) voor. Die Kaapse plooiberge het veroorsaak dat die plante in isolasie geleef het, en dit is waarskynlik waarom daar so ’n groot verskeidenheid spesies is. Die konsentrasie van die Proteaceae in die Suidwes-Kaap dra by tot die voorkoms van die Kaapse flora, met sy houtagtige struike en gerolde blare. Dit is tipies van gebiede met lang droë somers en arm grond. Proteacea is ’n belangrike deel van die Kaapse fynbos. Dié woord kom van die Hollandse fijn bosch, die naam wat hulle vir die vreemde plantegroei met sy gebrek aan grasweiding gegee het. Al die lede van die Protea-familie het proteoïede wortels, digte klonte harige worteltjies waarvan die oppervlak-area 15 keer groter is as dié van ander wortels. Hierdie tipe wortels vorm in ’n mat van 50 mm diep in die grond net onder die blare-deklaag. Dit is waar die meeste voedingstowwe gevind word. In die veld vorm hulle net tydens die reënseisoen en is ’n aanpassing by die arm grond in die Kaapse berge. Hierdie soort wortels stel die plante in staat om al die beskikbare voedingstowwe op te neem. Hulle is ook aangepas om brande te oorleef. Baie is herspruiters met ’n dik stamvoet of verhoute knol wat die vuur oorleef en dadelik daarna nuwe lote uitstoot. Ander stoor hulle saad jare lank aan die plant. Die plant sterf in ’n brand, maar stel eers in die hitte van die vlamme sy saad vry. Die chemikalieë in die rook van die vuur stimuleer hierdie sade om vinnig te begin groei. Carl Linnaeus het die naam in 1767 aan die familie toegeken. Dit verwys na die Griekse god Proteus wat na willekeur van vorm kon verander, waarskynlik weens die groot verskeidenheid blomme, blare en groeiwyses in hierdie familie.

Ander spesies in hierdie familie:

Spatalla racemosa

Spatalla racemosa

’n Klein vertakte struikie, gewoonlik minder as 50 cm hoog.
Die naaldagtige blare is 15-25 mm lank.
Bloeiwyses is klein, los gerangskikte silindriese trosse van 1–30 mm. Lang bloeistele laat die bloeiwyses bokant die blare uitstaan. Die eenblommige windsels het lang bloeisteeltjies. Die blomdek is wollerig en buig sterk na vore. Die stuifmeelaanbieder is effens eiervormig.
Die saad is yl behaar, klewerig aan die basis en baie smal.

Spatalla curvifolia

Spatalla curvifolia

Dit is ’n klein, regop plant wat tussen ander fynbosplante groei.
Die gebuigde, naaldagtige blare is 25-50 mm lank. Hulle is nie altyd skerp gebuig nie; die mate van buiging verskil van bevolking tot bevolking.
Romerige wit of liggeel bloeiwyses met talryke eenblommige windsels vorm digte trosse van 30-70 mm. Blomtrosse word deur die jaar gevorm, dus merk mens hulle makliker as ander Spatallas op.

Serruria heterophylla

Serruria heterophylla

’n Regop struik met takke wat opwaarts groei.
Soos die spesienaam aandui, het die plant meer as een soort blaar. Blare van jong blomstele is net effens ingesny, terwyl dié aan die basis van die blaar diep ingesny is.
Die bloeiwyse is op die punt van ’n blomsteel. Anders as by baie ander Serrurias het hierdie een sigbare omwindselblare.
Marie Voigts noem die bloeiwyses “onaansienlik”, en dit het inderdaad, soos baie Serrurias, ’n effens slordige voorkoms.