PROTEACEAE

Serruria heterophylla

Spinnekopblom
Serruria is vernoem na James Serrurier, ’n botanie-professor in Utrecht in die vroeë 1700’s. Heterophylla kom van die Grieks heteros (verskillend) en phyllon (blaar).

Beskrywing

’n Regop struik met takke wat opwaarts groei. Soos die spesienaam aandui, het die plant meer as een soort blaar. Blare van jong blomstele is net effens ingesny, terwyl dié aan die basis van die blaar diep ingesny is. Die bloeiwyse is op die punt van ’n blomsteel. Anders as by baie ander Serrurias het hierdie een sigbare omwindselblare. Marie Voigts noem die bloeiwyses “onaansienlik”, en dit het inderdaad, soos baie Serrurias, ’n effens slordige voorkoms.

Blomtyd

Mei, Jun, Jul, Aug

Blomkleur

Wit, Pienk, Rooi

Bewaringstatus

Bedreig

Bedreigings

Bedreig hoofsaaklik weens landbou- en stedelike uitbreiding, asook die verspreiding van indringerplante.

Habitat en gebied

Hulle groei in skaliebande in die Kleinmond-omgewing en in die Kleinrivierberge.

Vind hierdie spesie by:

7, 9, 10

Meer oor

Serruria heterophylla

Ekologie

Bestuif deur insekte. Plante sterf tydens ’n brand en is vir oorlewing afhanklik van ’n lewensvatbare ondergrondse saadbank en dus van inheemse miere wat die saad na hul neste dra om die elaiosoom af te eet. Die res van die saad bly veilig tot dit kan ontkiem.

Deel van die genus

Serruria
Die genus bestaan uit alle plante in die Proteaceae-familie waarvan die blare ingesny is om spits, silindriese segmente te vorm. Serrurias het tweeslagtige, reëlmatige blomme met vier blomdeksegmente wat oopsprei of terugbuig en slegs by die basis verenig is. Skutblare is gewoonlik sigbaar en by sommige spesies groot en treffend. Die vrug is ’n harige, harde klein neut. Dr JP Rourke van die Compton-herbarium by Kirstenbosch het die genus in die tagtigerjare hersien.
PROTEACEAE
Die Proteaceae is ’n baie ou plantfamilie, waarskynlik een van die oudste groepe blomplante. Daar was proteas in Gondwanaland reeds lank voordat dit 140 miljoen jaar gelede uiteen begin dryf het. Suid-Afrika deel geen genus van sy proteas met Australië nie, maar meer as die helfte van die genera in Suid-Amerika kom ook in Australië voor. Uit die ongeveer 360 spesies in Suid-Afrika kom 330 slegs in die Kaapse Blommestreek (tussen Niewoudtville in die noordweste en Grahamstad in die ooste) voor. Die Kaapse plooiberge het veroorsaak dat die plante in isolasie geleef het, en dit is waarskynlik waarom daar so ’n groot verskeidenheid spesies is. Die konsentrasie van die Proteaceae in die Suidwes-Kaap dra by tot die voorkoms van die Kaapse flora, met sy houtagtige struike en gerolde blare. Dit is tipies van gebiede met lang droë somers en arm grond. Proteacea is ’n belangrike deel van die Kaapse fynbos. Dié woord kom van die Hollandse fijn bosch, die naam wat hulle vir die vreemde plantegroei met sy gebrek aan grasweiding gegee het. Al die lede van die Protea-familie het proteoïede wortels, digte klonte harige worteltjies waarvan die oppervlak-area 15 keer groter is as dié van ander wortels. Hierdie tipe wortels vorm in ’n mat van 50 mm diep in die grond net onder die blare-deklaag. Dit is waar die meeste voedingstowwe gevind word. In die veld vorm hulle net tydens die reënseisoen en is ’n aanpassing by die arm grond in die Kaapse berge. Hierdie soort wortels stel die plante in staat om al die beskikbare voedingstowwe op te neem. Hulle is ook aangepas om brande te oorleef. Baie is herspruiters met ’n dik stamvoet of verhoute knol wat die vuur oorleef en dadelik daarna nuwe lote uitstoot. Ander stoor hulle saad jare lank aan die plant. Die plant sterf in ’n brand, maar stel eers in die hitte van die vlamme sy saad vry. Die chemikalieë in die rook van die vuur stimuleer hierdie sade om vinnig te begin groei. Carl Linnaeus het die naam in 1767 aan die familie toegeken. Dit verwys na die Griekse god Proteus wat na willekeur van vorm kon verander, waarskynlik weens die groot verskeidenheid blomme, blare en groeiwyses in hierdie familie.

Ander spesies in hierdie familie:

Spatalla mollis

Spatalla mollis

’n Regop struikie wat vanaf die basis vertak en tot 75 cm hoog word. Hulle groei in klein groepies wat wyd verspreid oor ’n gebied voorkom.
Ouer blare is glad, naaldvormig en soos dakpanne op die takke gerangskik.
Die sagte wit, wollerige bloeiwyses is dikwels ’n opvallende gesig in die bergveld. Hulle groei in trosse op die punte van die takke en is sittend (sonder ’n blomsteel) met eenblommige windsels. Die blomme tweeslagtig.
Saad word twee maande na blomtyd vrygestel, is harig en silindries en sit op verkorte steeltjies.

Spatalla racemosa

Spatalla racemosa

’n Klein vertakte struikie, gewoonlik minder as 50 cm hoog.
Die naaldagtige blare is 15-25 mm lank.
Bloeiwyses is klein, los gerangskikte silindriese trosse van 1–30 mm. Lang bloeistele laat die bloeiwyses bokant die blare uitstaan. Die eenblommige windsels het lang bloeisteeltjies. Die blomdek is wollerig en buig sterk na vore. Die stuifmeelaanbieder is effens eiervormig.
Die saad is yl behaar, klewerig aan die basis en baie smal.

Spatalla curvifolia

Spatalla curvifolia

Dit is ’n klein, regop plant wat tussen ander fynbosplante groei.
Die gebuigde, naaldagtige blare is 25-50 mm lank. Hulle is nie altyd skerp gebuig nie; die mate van buiging verskil van bevolking tot bevolking.
Romerige wit of liggeel bloeiwyses met talryke eenblommige windsels vorm digte trosse van 30-70 mm. Blomtrosse word deur die jaar gevorm, dus merk mens hulle makliker as ander Spatallas op.