ERICACEAE

Erica serrata

Die Latyns serratus (met saagrande) verwys na die blaarrande met hul skerp tandjies.

Beskrywing

Regop struik wat tot 1 m hoog groei met veelvuldige kort takkies waaraan blomsteeltjies groei. Die blare is in kransies van drie, naaldvormig. Jong blare het kliere op die rande; op ouer plante is die blare getand. Drie tot ses blommetjies op die punte van die blomsteeltjies en kort takkies. Die skutblare het met die kelkblare versmelt. Kelkblare is nie ewe lank nie, bakkievormig en groenerig. Die onderste kelkblaar is ook die grootste. Kroonblare vorm ’n slanke bakkie wat 1,5 mm lank is. Hulle is klein en ’n baie ligte groen. Die stempel is baie groot. Volop in die gebiede waar hulle groei.

Blomtyd

Jan, Feb, Mrt, Apr, Mei, Jun, Jul, Okt, Nov, Des

Blomkleur

Groen

Bewaringstatus

Lae risiko

Bedreigings

Habitat en gebied

Teen berghange. Hottentots-Hollandberge tot Riviersonderendberge, Kleinrivierberge tot Bredasdorp.

Vind hierdie spesie by:

9, 10, 11

Meer oor

Erica serrata

Ekologie

Die blomme is windbestuif.

Deel van die genus

Erica
Wat is ’n Erica? Taksonome sukkel al sedert 1700 om ’n duidelike en verstaanbare definisie te gee, sonder noemenswaardige sukses. Ericas is die grootste genus in die Ericaceae-familie. Daar is tans 5 stamme met 15 ander genera in die Ericoideae-subfamilie, almal baie kleiner as die Erica-genus. Ericas is ook die grootste genus in die Kaapse Blomstreek (die klein gebied in die Wes-, Suid- en Noord-Kaap wat die grootste verskeidenheid plantspesies van al die gematigde blomstreke in die wêreld bevat). Daar is al meer as 600 spesies in die Kaapse Blomstreeek aangeteken. ’n Erica is ’n immergroen, meerjarige struik wat van ’n paar sentimeters tot 6 meter hoog kan wees. Die blomme het meestal drie skutblare en vier kelkblare (sepals) terwyl die kroonblare (corolla) baie vorms kan aanneem (onder andere buisvormig, klokvormig en koppievormig). ’n Erica-blom het 8 meeldrade en ’n tweelobbige stamper. Ericas het die meeste blomdele van al die genera in die Ericaceae-familie. Daar is natuurlik uitsonderings op hierdie beskrywing. Kenmerkend van alle Ericas is die klein, smal, omgevoude blare, die sogenaamde erikoïde blare. Die blaarrande vorm amper twee tonneltjies op die onderkant van die blaar. Die harde, wasagtige oppervlakte van die bokant van die blaar voorkom verdamping, dus vind dit slegs op die onderkant van die blaar plaas en ook net in die tonneltjies. Die voortjie tussen die twee blaarrande is harig, wat ook verdamping vertraag. Ericas wat in klam, skaduryke plekke groei, het natuurlik nie spesiale blare nodig nie, en het meestal “gewone” plat blare. Blare is dus kenmerkend, maar identifikasie word veral gedoen na aanleiding van die stuifmeeldrade en bykans elke spesie het ’n unieke stel meeldrade. Ten slotte: omdat die genus so ingewikkeld is, veroorsaak hulle groot probleme aan botaniste en taksonome. As jy sukkel om Ericas uitmekaar te ken, is jy in goeie geselskap. ’n Erica uit Suid-Afrika is vir die eerste keer in 1678 in ’n Europese publikasie genoem, en uit die illustrasie daarby kan afgelei word dat dit Erica cerinthoides was – een van die mees wydverspreide Ericas in Suid-Afrika. Die genusnaam Erica kom van die Grieks ereike (om te breek) en kan verwys na die gemak waarmee takke afgebreek kan word, of ook na die feit dat ’n aftreksel van sekere Ericas destyds gebruik is om nierstene te help opbreek.
ERICACEAE
Die familie is groot en kom oor die hele wêreld voor. Volgens Wikpedia bestaan dit uit 124 genera en meer as 4000 spesies. Hulle groei meestal in suur en arm grond. Met so baie spesies is daar natuurlik heelwat variasie, maar ’+B2:B3n mens kan sê dat hulle meestal kruidagtige plante, struike of klein bompies is, met immergroen, eenvoudige blare. Blomme is dikwels in ritse of trossies gerangskik. Kroonblare is ook dikwels in ’n dun buis, klok- of kruikvorm versmelt. Daar is gewoonlik 8 tot 10 meeldrade en een vrugbeginsel; blomme is meestal tweeslagtig. Bosbessies (cranberries) en bloubessies, sowel as rodedendrons is in hierdie groot familie.

Ander spesies in hierdie familie:

Erica viscaria macrosepala

Erica viscaria macrosepala

Regop struik wat tot 1 m hoog kan wees. Sommige subspesies is herspruiters. Blare in kransies van vier of ses, naaldvormig en fluweelsag.
Blomme word in ’n rits naby die punt van ’n tak gedra, blomsteeltjies is baie kort. Kelkblare is naaldvormig en effens wollerig. Kroonblare is 5-20 mm lank, buisvormig en keep effens in by die nek van die buis. Daar is ’n groot verskeidenheid kleure, maar om Kleinmond is hulle geel. Hulle kan effens harig en ook effens taai wees.
Daar is sewe subspesies.

Erica tristis

Erica tristis

Regop, dig vertakte struik of klein boompie van 1-3 m. Veelvuldige blomdraende takkies. Blare in kransies van drie, naaldvormig, soms skubagtig, soms met kliere op die blaarrande.
Blomme drie-drie op die punte van takkies. Kelkblare is nie ewe groot nie, met die onderste een die grootste en lansvormig. Die ander is skubagtig en leeragtig.
Kroonblare is koppievormig, 1 tot1,5 mm lank, glad en ’n dowwe roomkleur. Die lippe van die kroonblare is regop en rond.

Erica thomae thomae

Erica thomae thomae

’n Regop plant tot 60 cm. Blare in kransies van ses, naaldvormig, buig effens na binne.
Blomme groei in ’n krans om die tak en naby die punt daarvan. Blomsteeltjies is baie kort. Skutblare en kelkblare is naaldvormig. Die kroonblaarbuis is lank (20 tot 30 mm), effens gebuig en ook effens gerif. Die blombuis is baie taai. Die lippe van die buis klok effens uit en effens rond.
Die kroonblaarbuis kan wit, pienkerig, geel, oranje of oranje-pienk wees. Plante met wit blomme is kleiner as die ander. In die Kleinmond-omgewing is hulle wit.
Die blomme groei al om die takke by dit punte daarvan.