Orchidaceae

Eulophia bolusii

Onderstebo sand-Aspoestertjie
Eulophia Bolusii ter ere van Harry Bolus (1834 - 1911).

Beskrywing

Stewige plant tot 80 cm hoog met spiesvormige, oorvleuelende, leeragtige blare. Blare het 'n skerp vou in die lengte. Heelwat bruinerige, dowwe geel of wit blomme in los rits op dun blomsteeltjies, soms pers op rande. Blomme nie onderstebo nie. Kort skutblare. Kelk- en kroonblare eners en spreidend. Die lip vorm 'n dakkie met 10 - 20 knoppies. Die spoor is kegelvormig en 1 mm lank.

Blomtyd

Okt, Nov, Des

Blomkleur

Bruin, Geel

Bewaringstatus

Kwesbaar

Bedreigings

Verstedeliking (Kaapse Vlakte) en onoordeelkundige brandstigting. Spesies in die Orchidaceae-familie word dikwels wortel en tak deur versamelaars gestroop. Hulle ligging word daarom op hierdie webwerf verberg.

Habitat en gebied

Hoofsaaklik in laagliggende kusgebiede vanaf Hopefield tot Bredasdorp, maar in die Kaapse Skiereiland tot 450 m bo seevlak. Dit verkies rotsagtige, baie suur sandsteengrond op bergplato's, hange, kus-sandvlaktes en kalkagtige grond naby die kus.

Vind hierdie spesie by:

Ligging verberg

Meer oor

Eulophia bolusii

Ekologie

Hoewel die bestuiwers van E. bolusii onbekend is, dui feit dat hierdie spesie saam met ander Eulophia-spesies in dieselfde gebied voorkom, op 'n genetiese voorkomings-maatreël wat keer dat hibridisering plaasvind.

Deel van die genus

Eulophia
Orchidaceae
Na raming is daar 730 genera en 25 000 spesies orgideë wêreldwyd. In Suid-Afrika is bykans 500 spesies; in die Kleinmond-omgewing is daar ongeveer 70 spesies. Die familie is baie gevarieerd, maar almal het die volgende kenmerke: Die meeste blomme is onderstebo. Voordat die blom oopgaan, roteer (resupinate) die blomsteel 180°. Blomme is bilateraal simmetries. As jy die blom vertikaal in twee deel, is die twee helftes spieëlbeelde van mekaar. Die blom het drie kelkblare en drie kroonblare. Een van die kroonblare is omvorm tot ’n lip (labellum) wat ’n horisontale landingsplek vir bestuiwers vorm. ’n Blom het een of twee meeldrade wat saamgesmelt is met die stamper om 'n kolom te vorm. Bestuiwing word deur 'n spesifieke insek per spesie uitgevoer en in uitsonderlike gevalle deur 'n voël of vlermuis. Elke blom het tot miljoene mikroskopies klein saadjies. Ontkieming en ontwikkeling van saad is afhanklik van swamme. Plantjies ontwikkel uit ’n knol-agtige organisme, die proto-knol (protocorm). Origideë word in twee groepe verdeel: die epifiete, wat op boomstamme en organiese materiaal groei en hoofsaaklik in die trope voorkom, en die grond-orgideë. Die epifiete, skaars in Suid-Afrika, het lugwortels wat dien as anker, stoorruimte, voedselopnemers, respirators en selfs fotosinteerders. Die wortels is tot naby die punte bedek met ’n wit weefsel, velamien, wat water kan stoor, die lugwortels teen koue en hitte beskerm en as hegmiddel aan die gasheerplant dien. Die punte van die lugwortels absorbeer voedingstowwe uit reënverdunde voëlmis en verrotte plantreste. Grond-orgideë groei teen berghange, op vlaktes en sandduine en in vleilande. Die meeste het geswolle stamme of wortels wat water en reserwe-voedsel stoor. Die meeste blom net na die reënseisoen en is dormant in die droë seisoen.

Ander spesies in hierdie familie:

Satyrium rhynchanthum

Satyrium rhynchanthum

Slank plant tot bykans 70 cm met 2 tot 6 stamstandige, spiesvormige blare. Tot 60 wit tot ligpienk blomme in ‘n rits. Daar is pers kolle op die basis van die kroonblare en binnekant van die lip en spore. Spore groen aan buitekant. Skutblare heeltemal teruggebuig, ietwat korter as vrugbeginsel. Kelk en kroonblare baie eners, middelste kelkblaar eiervormig met ‘n skerp punt. Lip vorm ‘n vlak, gepunte kappie, spore agteroor gebuig.

Satyrium stenopetalum ssp. brevicalcaratum

Satyrium stenopetalum ssp. brevicalcaratum

Slank tot stewige plant tot 56 cm hoog met 3 – 7 stamstandige blare, meestal laag teen die stam. Blaarbasisse om stam gevou. Tot 27 wit blomme met roomkleurige of pienk tinte in ‘n los rits, skutblare regop en tot 2 keer so lank as die vrugbeginsel. Swaardvormige kelkblare losstaande byna tot by basis waar dit saamsmelt tot ‘n bult. Kroonblare soortgelyk maar meer teruggekrul. Lip se flap na agter gebuig. Spore tot 1,5 cm.

Satyrium odorum

Satyrium odorum

Stewige plant tot 56 cm hoog met 2 tot 6 groot eier- tot swaardvormige blare wat om stam vou. Tot 40 liggroen tot gelerige blomme in taamlik digte rits. Buitenste dele is dof-bruin tot dof-pers getint. Skutblare tot 2,5 keer langer as die vrugbeginsel, ovaalvormig, skerp na onder gebuig. Kelkblare buig af, met middelste kelkblaar effens kleiner as sy-kelkblare. Kroonblare heelwat korter as kelkblare en minder gebuig. Kroonblare by basis versmelt met lip om ‘n kort buis te vorm. Spore tot 1,8 cm lank.