IRIDADEAE

Aristea africana

Blousuurkanol, maagbossie
Aristea kom van Latyns arista (koringaar se “baarde”) en verwys na die blare se skerp punte. Africana beteken dat die spesie van Afrika af kom.

Beskrywing

Die plantjie is gewoonlik tussen 10 en 15 cm hoog. Die stam is dun en vertak. Blare is baie smal van die basis af en het skerp punte. Die blomme is helder blou en word een-een op die punte van takkies gedra. Die meeldrade eindig in helder geel helmknoppe. Die blomme maak soggens vroeg oop en verlep teen die namiddag. Skutblare en blomskede is groen en hul rande is breed en deurskynend en het krullerige fraiings.

Blomtyd

Okt, Nov, Des, Jan

Blomkleur

Blou

Bewaringstatus

Lae risiko

Bedreigings

Die bevolking is stabiel.

Habitat en gebied

Sandvlaktes en berghellings. Gifberg tot Bredasdorp en Riversdal. Kom voor vanaf Vanrhynsdorp deur die Skiereiland en dan kuslangs tot in die Oos-Kaap en selfs in die berge van Lesotho, tot op ’n hoogte van 1800 m. Hulle is aanpasbaar by baie tipes grond en toestande, solank as wat hulle voete nat bly.

Vind hierdie spesie by:

3, 4, 7, 10, 11

Meer oor

Aristea africana

Ekologie

A. africana is die eerste klein Aristeatjie wat in die Kleinmond-omgewing begin blom. Hulle word deur bye bestuif in hul soektog na nektar.

Deel van die genus

Aristea
Immergroen, meerjarige bolplante. Die risoom kan kort of lank wees. Blare is gewoonlik swaard- tot naaldvormig, soms rond. Hulle het altyd ’n skerp punt. Blomme is dikwels sittend (sonder blomsteeltjies) en meestal helder blou. ’n Mens kry ook ligblou, lila en wit blomme. Blomme gaan vroeg soggens oop en verlep in die namiddag. Kelkblare spiraal in mekaar wanneer die blom verlep. Nektar is reukloos. Meeldrade is regop en los van mekaar. Aristea kom voor van Suid-Afrika tot in Senegal en Ethiopië, met sewe spesies in Madagaskar. Die meeste spesies (ongeveer 50) kom in die winterreënvalstreke van Suid-Afrika voor, 32 daarvan in die Wes-Kaap. Hier word blomme gestimuleer deur vuur.
IRIDADEAE
Dit is ’n groot familie meerjarige plante, baie met pragtige, opsigtelike blomme. Blare groei gewoonlik vertikaal tot die stam en omsluit die blomsteel by die basis daarvan. Baie spesies se blare het ’n verdikte hoofaar. Blomme word ’n klein trossies of in ’n rits gerangskik. Daar is meestal ses kroonblare, almal ewe groot of van verskillende groottes, met die boonstes (dorsale kroonblare) gewoonlik groter as die res. Baie is helderkleurig met kenmerkende strepe of kolle. Baie eindig in ’n buis, en baie hou net vir een dag. Baie is welriekend. Saad is dikwels in ’n droë saadhuis wat aan drie kante oopskiet om die sade vry te stel. Daar is wêreldwyd ongeveer 65 genera in die familie met 1800 spesies. In die Kaapse blomstreek is daar al 27 genera opgeteken met 707 spesies. Die meeste spesies verkies klipperige leemgrond, aangesien dit dreinering verbeter. Party groei ook in vleie en selfs in sand. Hulle word gevind van die hoogwatermerk tot ’n hoogte van meer as 3 000 m. Die grootste genera is Gladiolus, Iris en Moraea (almal met meer as 200 spesies). Baie spesies kom in ’n baie klein gebied voor, en stedelike en landbou-ontwikkeling hou vir hulle ’n groot bedreiging in. Die naam IRIDACEAE is in 1753 deur Linaeus toegeken en verwys na die Griekse godin Iris wat met die reënboog afgegly het om boodskappe van die berg Olimpus na die aarde te neem. Die baie kleure van hierdie familie het Linaeus klaarblyklik aan die reënboog laat dink. Die meeste IRIDACEAE verkies ’n klimaat met ’n droë of koue seisoen wanneer die bolle dormant is. Die meeste verloor hul blare in daardie seisoen. Immergroen spesies is beperk tot areas met baie reën of wat deur die jaar klam is. Die blare en stam sterf wanneer die bol dormant is. Die bol kan in tye wat nie geskik is vir groei nie (soos droogte of brande) ondergronds oorleef. Sodra die eerste reën na ’n brand of droogte val, verskyn die plante weer bogronds; trouens baie is op hulle beste en blom op hul weligste na ’n brand.

Ander spesies in hierdie familie:

Staavia radiata

Staavia radiata

’n Ronderige struikie, 60 – 90 cm. Die groen blare is smal, naaldvormig en 4 – 7 mm lank. Jong takkies en blaartjies is bedek met fyn haartjies. Ouer takke is houtagtig. Die wit tot liggeel skutblare wat uitsprei rondom die pienk diggepakte buisvormige blommetjies laat die 30 – 50 mm blomkoppe soos magrietjies lyk. Die blomme verskyn aan die punte van die stamme. Die hoofstam is houtagtig en verskuil onder die grond. Die plant is dus redelik brandbestand en herspruit weer vinnig na brandskade. Dit lyk asof dit “vir altyd” blom omdat die wit skutblare oorbly lank nadat die blomme reeds dood is, vandaar die volksnaam.

Brunia paleacea

Brunia paleacea

Digte ronde struik met baie vertakkings tot 1 m hoog. Smal driehoekige, bykans haarlose blare, buig inwaards, sit styf teen die stingel en is 3 – 6 mm lank. Brandbestand, herspruit vanuit ondergrondse stamvoet. Roomkleurige blomme, elkeen geset in ’n blomkrans van opsigtelike smal wit tot pienk skutblare tot 7 mm in deursnee. Verskyn in trosse op die punte van stingels wat uit die hoofstam vertak.

Brunia noduliflora

Brunia noduliflora

’n Ronderige immergroen struik tussen 0.6 en 1.5 m hoog. Die takkies is bedek met fyn haartjies en 2 – 3 mm naaldagtige blare wat diggepak plat teen die takkies lê. Die wit, welriekende, bolvormige blomkoppe (10 mm deursnit) verskyn kort na die eerste winterreëns in trosse op die punte van takke wat van verskillende plekke op die stamme uitspruit. Na blomtyd val die blomme af en laat die grysbruin vruggies agter wat vir ’n paar jaar op die bos kan bly. Die plant is brandbestand omdat dit na brandskade herspruit uit die ondergrondse houtagtige stamvoet.