PROTEACEAE

Aulax umbellata

Breëblaarveertjiebos, kuikenbos
Aulax kom van die Grieks aulax (groef of voortjie), en dit verwys moontlik na die gegroefde blomdele van A. cancellata wat net met ’n mikroskoop sigbaar is. Umbellata kom van die Latyns umbella (blomskerm) en verwys na die vorm van die vroulike bloeiwyse.

Beskrywing

Enkelstammige struik met dun takke wat opwaarts groei tot 2,5 m. Met digte loof. Plant is tweehuisig (verskillende manlike en vroulike plante). Blare is plat, langwerpig en spatelvormig. Boonste punt is 15 mm breed en die blaar word al smaller na onder. Hierdie spesie het die breedste blare van die drie. Nuwe blare is pers-bruin wanneer hulle in September verskyn en word geleidelik groen. Die blomme lyk soortgelyk aan die van Aulax cancellata. Bloeiwyses aan manlike plant is helder geel, soos regop veertjies en in ’n rits op die punte van blomstele. Bloeiwyses van vroulike plant het ’n koppievormige struktuur gevorm deur gewysigde klein takkies. Hierbinne is klein roomkleurige blommetjies gerangskik in ’n spiraal op ’n keëlvormige struktuur in die middel. Hulle groei in trosse op die punte van takke. Die saad is ’n klein eiervormige neut bedek met digte lang wit hare. Dit kan tot ses jaar op die plant bly, maar na twee jaar word die saad al minder vrugbaar.

Blomtyd

Nov, Des, Jan, Feb

Blomkleur

Geel, Groen, Rooi

Bewaringstatus

Lae risiko

Bedreigings

Ongeveer 20% van die habitat is reeds onomkeerbaar verloor aan ontwikkeling.

Habitat en gebied

Laer hange en vlaktes vanaf die Kogelberg tot Stilbaai.

Vind hierdie spesie by:

9, 10, 11

Meer oor

Aulax umbellata

Ekologie

Stuifmeel word nie deur wind versprei nie (anders as wat die manlike blomme mens laat dink), maar deur insekte, al is daar geen nektar in die bloeiwyses nie.

Deel van die genus

Aulax
Daar is slegs drie Aulax-spesies in Suid-Afrika, almal in die Suid- en Suidwes-Kaap. ’n Sweedse plantkundige en arts, dr PJ Bergius, het hulle beskryf en benoem in 1767, ’n maand voor Linnaeus se boek oor die Protea-familie verskyn het. Die drie spesies kom elk in sy eie kerngebied voor, maar die spesies oorvleuel en hibridiseer. Dit is duidelik te sien in Kleinmond se plante. Twee spesies kom in Kleinmond se omgewing voor. Die derde spesie, A. pallasia, kom in die berge van Piketberg tot Genadendal en tussen Swellendam en Riversdal voor. Die drie spesies het dieselfde algemene voorkoms. Almal groei regop en het digte loof. Die blaarvorms is belangrik om die drie spesies te onderskei. Die genus is een van slegs twee Suid Afrikaanse Proteaceae wat eenslagtige blomme aan afsonderlike plante dra.
PROTEACEAE
Die Proteaceae is ’n baie ou plantfamilie, waarskynlik een van die oudste groepe blomplante. Daar was proteas in Gondwanaland reeds lank voordat dit 140 miljoen jaar gelede uiteen begin dryf het. Suid-Afrika deel geen genus van sy proteas met Australië nie, maar meer as die helfte van die genera in Suid-Amerika kom ook in Australië voor. Uit die ongeveer 360 spesies in Suid-Afrika kom 330 slegs in die Kaapse Blommestreek (tussen Niewoudtville in die noordweste en Grahamstad in die ooste) voor. Die Kaapse plooiberge het veroorsaak dat die plante in isolasie geleef het, en dit is waarskynlik waarom daar so ’n groot verskeidenheid spesies is. Die konsentrasie van die Proteaceae in die Suidwes-Kaap dra by tot die voorkoms van die Kaapse flora, met sy houtagtige struike en gerolde blare. Dit is tipies van gebiede met lang droë somers en arm grond. Proteacea is ’n belangrike deel van die Kaapse fynbos. Dié woord kom van die Hollandse fijn bosch, die naam wat hulle vir die vreemde plantegroei met sy gebrek aan grasweiding gegee het. Al die lede van die Protea-familie het proteoïede wortels, digte klonte harige worteltjies waarvan die oppervlak-area 15 keer groter is as dié van ander wortels. Hierdie tipe wortels vorm in ’n mat van 50 mm diep in die grond net onder die blare-deklaag. Dit is waar die meeste voedingstowwe gevind word. In die veld vorm hulle net tydens die reënseisoen en is ’n aanpassing by die arm grond in die Kaapse berge. Hierdie soort wortels stel die plante in staat om al die beskikbare voedingstowwe op te neem. Hulle is ook aangepas om brande te oorleef. Baie is herspruiters met ’n dik stamvoet of verhoute knol wat die vuur oorleef en dadelik daarna nuwe lote uitstoot. Ander stoor hulle saad jare lank aan die plant. Die plant sterf in ’n brand, maar stel eers in die hitte van die vlamme sy saad vry. Die chemikalieë in die rook van die vuur stimuleer hierdie sade om vinnig te begin groei. Carl Linnaeus het die naam in 1767 aan die familie toegeken. Dit verwys na die Griekse god Proteus wat na willekeur van vorm kon verander, waarskynlik weens die groot verskeidenheid blomme, blare en groeiwyses in hierdie familie.

Ander spesies in hierdie familie:

Staavia radiata

Staavia radiata

’n Ronderige struikie, 60 – 90 cm. Die groen blare is smal, naaldvormig en 4 – 7 mm lank. Jong takkies en blaartjies is bedek met fyn haartjies. Ouer takke is houtagtig. Die wit tot liggeel skutblare wat uitsprei rondom die pienk diggepakte buisvormige blommetjies laat die 30 – 50 mm blomkoppe soos magrietjies lyk. Die blomme verskyn aan die punte van die stamme. Die hoofstam is houtagtig en verskuil onder die grond. Die plant is dus redelik brandbestand en herspruit weer vinnig na brandskade. Dit lyk asof dit “vir altyd” blom omdat die wit skutblare oorbly lank nadat die blomme reeds dood is, vandaar die volksnaam.

Brunia paleacea

Brunia paleacea

Digte ronde struik met baie vertakkings tot 1 m hoog. Smal driehoekige, bykans haarlose blare, buig inwaards, sit styf teen die stingel en is 3 – 6 mm lank. Brandbestand, herspruit vanuit ondergrondse stamvoet. Roomkleurige blomme, elkeen geset in ’n blomkrans van opsigtelike smal wit tot pienk skutblare tot 7 mm in deursnee. Verskyn in trosse op die punte van stingels wat uit die hoofstam vertak.

Brunia noduliflora

Brunia noduliflora

’n Ronderige immergroen struik tussen 0.6 en 1.5 m hoog. Die takkies is bedek met fyn haartjies en 2 – 3 mm naaldagtige blare wat diggepak plat teen die takkies lê. Die wit, welriekende, bolvormige blomkoppe (10 mm deursnit) verskyn kort na die eerste winterreëns in trosse op die punte van takke wat van verskillende plekke op die stamme uitspruit. Na blomtyd val die blomme af en laat die grysbruin vruggies agter wat vir ’n paar jaar op die bos kan bly. Die plant is brandbestand omdat dit na brandskade herspruit uit die ondergrondse houtagtige stamvoet.