Bruniaceae

Berzelia albiflora

Koffiebos
Albiflora, van Latyns albus (wit) en flora (blom), beteken wit blom.

Beskrywing

’n Langerige struik met een stam en baie vertakkings, 2 – 3 m hoog. Lang dun takkies is diggepak met sagte naaldagtige donkergroen blare, 10 – 14 mm lank, met swart puntjies en bedek met fyn haartjies. Die klein wit blommetjies, elk ongeveer 7 mm lank, met geel stuifmeeldrade, is diggepak in ’n plat ronde bloeiwyse sowat 15 mm in deursnee wat in trosse aan die punte van die donker takkies verskyn. ’n Ligte koffiegeur kan soms naby die plante waargeneem word, vandaar die volksnaam koffiebos. Aan die einde van die blomtyd word die blommetjies bruin en val af. Die bolvormige saadknoppe wat oorbly, kan vir ’n paar seisoene op die plant bly sit. Vorige jare se saadknoppe kan laer af op die stamme gesien word.

Blomtyd

Feb, Mrt, Apr

Blomkleur

Wit

Bewaringstatus

Lae risiko

Bedreigings

Gewilde snyblom in die blombedryf. Ongelukkig word die plante dikwels deur blomplukkers kaalgestroop sodat die saadvoorraad in die ouer saadknoppe ook verlore gaan en dus druk plaas op hul volhoubaarheid.

Habitat en gebied

Hottentots-Hollandberge tot by Hermanus, veral volop suid van die Kogelberge in vogtige veengrond, moerasse en klowe tussen 300 en 1000 m bo seevlak.

Vind hierdie spesie by:

9, 10, 12

Meer oor

Berzelia albiflora

Ekologie

Die nektarhoudende blommetjies word bestuif deur suikerbekkies, bye, kewers, miere en wespe. B. albiflora verskil van die meeste ander brunia- en berzeliaspesies deurdat hulle na brandskade nie geredelik van ’n ondergrondse stamvoet kan herspruit nie. Kan van saad en steggies gekweek word.

Deel van die genus

Berzelia
Bruniaceae
Bruniaceae is ’n familie wat net in Suid-Afrika voorkom, die meeste in die Kaapse blomstreek en een spesie in KZN. Al die spesies in die familie het klein, harde, erikoïede blare wat hulle in staat stel om die warm, droë somers van die streek te oorleef. Die blomkoppe is digte trosse met tot 400 individuele blommetjies saamgepak in bolvormige bloeiwyses. In die Kleinmond-omgewing is daar drie genera, Berzelia, Brunia en Staavia.

Ander spesies in hierdie familie:

Staavia radiata

Staavia radiata

’n Ronderige struikie, 60 – 90 cm. Die groen blare is smal, naaldvormig en 4 – 7 mm lank. Jong takkies en blaartjies is bedek met fyn haartjies. Ouer takke is houtagtig. Die wit tot liggeel skutblare wat uitsprei rondom die pienk diggepakte buisvormige blommetjies laat die 30 – 50 mm blomkoppe soos magrietjies lyk. Die blomme verskyn aan die punte van die stamme. Die hoofstam is houtagtig en verskuil onder die grond. Die plant is dus redelik brandbestand en herspruit weer vinnig na brandskade. Dit lyk asof dit “vir altyd” blom omdat die wit skutblare oorbly lank nadat die blomme reeds dood is, vandaar die volksnaam.

Brunia paleacea

Brunia paleacea

Digte ronde struik met baie vertakkings tot 1 m hoog. Smal driehoekige, bykans haarlose blare, buig inwaards, sit styf teen die stingel en is 3 – 6 mm lank. Brandbestand, herspruit vanuit ondergrondse stamvoet. Roomkleurige blomme, elkeen geset in ’n blomkrans van opsigtelike smal wit tot pienk skutblare tot 7 mm in deursnee. Verskyn in trosse op die punte van stingels wat uit die hoofstam vertak.

Brunia noduliflora

Brunia noduliflora

’n Ronderige immergroen struik tussen 0.6 en 1.5 m hoog. Die takkies is bedek met fyn haartjies en 2 – 3 mm naaldagtige blare wat diggepak plat teen die takkies lê. Die wit, welriekende, bolvormige blomkoppe (10 mm deursnit) verskyn kort na die eerste winterreëns in trosse op die punte van takke wat van verskillende plekke op die stamme uitspruit. Na blomtyd val die blomme af en laat die grysbruin vruggies agter wat vir ’n paar jaar op die bos kan bly. Die plant is brandbestand omdat dit na brandskade herspruit uit die ondergrondse houtagtige stamvoet.