PROTEACEAE

Brabejum stellatifolium

Wilde-amandel, bitteramandel, ghoeboontjie, ghoekoffie. SA Boom nr 72
Brabejum kom van die Grieks brabeion (pryse in Griekse spele) en stellatifolium van die Latynse stella (ster) en folium (blaar) omdat die blare soos sterre om die tak gerangskik is.

Beskrywing

’n Groot spreidende, veelstammige struik van tot 5 m. Kan gesnoei word om ’n boom te vorm. Takke groei horisontaal. Bas is dik, glad en het ’n ligte grysbruin kleur. Blare is donkergroen, hard en leeragtig, sterk getand met ’n duidelike middel-aar. Blare vorm ’n lang, smal, gepunte ovaal en groei op ’n kort blaarsteel. Hulle word in kranse van ses om die dun takke gedra; elke krans lyk soos ’n ster. Roomkleurige blomme met ’n soet geur word in trosse in die oksels van die boonste blare gedra. Skutblare is roesbruin en val mettertyd af. Die meeste blomme is tweeslagtig; hier en daar is daar wel eenslagtiges. Anders as by ander Proteaceae is die saad ’n steenvrug. Die ryp vrug het die vorm en groottte van ’n amandel en is bedek met goudbruin, fluweelsagte hare.

Blomtyd

Feb

Blomkleur

Wit

Bewaringstatus

Lae risiko

Bedreigings

Kom wyd verspreid voor en is baie algemeen in gepaste habitat met geen noemenswaardige bevolkingsafname nie.

Habitat en gebied

Klam plekke op rivierwalle en in klowe van die Cederberge tot Riversdal.

Vind hierdie spesie by:

11, 12

Meer oor

Brabejum stellatifolium

Ekologie

Blomme verskyn in Februarie. Die blomme van die wilde-amandel is die enigstes in die Protea-familie met lang los helmdrade wat alleen aan die basis van die blomdeksegmente vasgeheg is. Die vrug word in Maart ryp.

Deel van die genus

Brabejum
Hierdie genus is die enigste Suid Afrikaanse lid van die Grevilleoideae-subfamilie van die Proteacea, en die enigste een van ons proteas wat naby verwant is aan die Australiese Proteaceae. Daar is slegs een spesie in hierdie genus, Brabejum stellatifolium oftewel die wilde amandelboom, maar dit het ’n lang en veelbewoë geskiedenis. Die wilde amandel was die eerste inheemse plant wat verbou is. Jan van Riebeeck het in 1660 ’n heining van die bome geplant om te keer dat vee in die Kompanjie se graanlande kom. Gedeeltes van die heining bestaan nog in Kirstenbosch en is ’n nasionale monument. Die tamaai stamvoete of verhoute knolle dui op die ouderdom van die wortelstelsel, alhoewel die bogrondse dele van die bome ongetwyfeld deur die jare afgekap is of afgebrand het. Van Riebeeck het die boom reeds in 1654 (2 jaar na sy koms) bitteramandel genoem en gemeen dit kon potensieel as varkkos gebruik word. Hy het geweet die vrugte is giftig en dat die Khoi dit behandel het om van die gif ontslae te raak en dit eetbaar te maak. Bitteramandels was die oorsaak van die eerste noodlottige geval van vergiftiging wat deur die Hollanders in Suid Afrika opgeteken is. Een van die lede van Jan Wintervogel se ekspedisie in 1655 is dood nadat hy van die behandelde amandels geëet het. Die naam bitter-amandel is in 1662 vervang met wilde amandel, en die boom word steeds so genoem. Ghoeboontjie is die Khoi-naam.
PROTEACEAE
Die Proteaceae is ’n baie ou plantfamilie, waarskynlik een van die oudste groepe blomplante. Daar was proteas in Gondwanaland reeds lank voordat dit 140 miljoen jaar gelede uiteen begin dryf het. Suid-Afrika deel geen genus van sy proteas met Australië nie, maar meer as die helfte van die genera in Suid-Amerika kom ook in Australië voor. Uit die ongeveer 360 spesies in Suid-Afrika kom 330 slegs in die Kaapse Blommestreek (tussen Niewoudtville in die noordweste en Grahamstad in die ooste) voor. Die Kaapse plooiberge het veroorsaak dat die plante in isolasie geleef het, en dit is waarskynlik waarom daar so ’n groot verskeidenheid spesies is. Die konsentrasie van die Proteaceae in die Suidwes-Kaap dra by tot die voorkoms van die Kaapse flora, met sy houtagtige struike en gerolde blare. Dit is tipies van gebiede met lang droë somers en arm grond. Proteacea is ’n belangrike deel van die Kaapse fynbos. Dié woord kom van die Hollandse fijn bosch, die naam wat hulle vir die vreemde plantegroei met sy gebrek aan grasweiding gegee het. Al die lede van die Protea-familie het proteoïede wortels, digte klonte harige worteltjies waarvan die oppervlak-area 15 keer groter is as dié van ander wortels. Hierdie tipe wortels vorm in ’n mat van 50 mm diep in die grond net onder die blare-deklaag. Dit is waar die meeste voedingstowwe gevind word. In die veld vorm hulle net tydens die reënseisoen en is ’n aanpassing by die arm grond in die Kaapse berge. Hierdie soort wortels stel die plante in staat om al die beskikbare voedingstowwe op te neem. Hulle is ook aangepas om brande te oorleef. Baie is herspruiters met ’n dik stamvoet of verhoute knol wat die vuur oorleef en dadelik daarna nuwe lote uitstoot. Ander stoor hulle saad jare lank aan die plant. Die plant sterf in ’n brand, maar stel eers in die hitte van die vlamme sy saad vry. Die chemikalieë in die rook van die vuur stimuleer hierdie sade om vinnig te begin groei. Carl Linnaeus het die naam in 1767 aan die familie toegeken. Dit verwys na die Griekse god Proteus wat na willekeur van vorm kon verander, waarskynlik weens die groot verskeidenheid blomme, blare en groeiwyses in hierdie familie.

Ander spesies in hierdie familie:

Staavia radiata

Staavia radiata

’n Ronderige struikie, 60 – 90 cm. Die groen blare is smal, naaldvormig en 4 – 7 mm lank. Jong takkies en blaartjies is bedek met fyn haartjies. Ouer takke is houtagtig. Die wit tot liggeel skutblare wat uitsprei rondom die pienk diggepakte buisvormige blommetjies laat die 30 – 50 mm blomkoppe soos magrietjies lyk. Die blomme verskyn aan die punte van die stamme. Die hoofstam is houtagtig en verskuil onder die grond. Die plant is dus redelik brandbestand en herspruit weer vinnig na brandskade. Dit lyk asof dit “vir altyd” blom omdat die wit skutblare oorbly lank nadat die blomme reeds dood is, vandaar die volksnaam.

Brunia paleacea

Brunia paleacea

Digte ronde struik met baie vertakkings tot 1 m hoog. Smal driehoekige, bykans haarlose blare, buig inwaards, sit styf teen die stingel en is 3 – 6 mm lank. Brandbestand, herspruit vanuit ondergrondse stamvoet. Roomkleurige blomme, elkeen geset in ’n blomkrans van opsigtelike smal wit tot pienk skutblare tot 7 mm in deursnee. Verskyn in trosse op die punte van stingels wat uit die hoofstam vertak.

Brunia noduliflora

Brunia noduliflora

’n Ronderige immergroen struik tussen 0.6 en 1.5 m hoog. Die takkies is bedek met fyn haartjies en 2 – 3 mm naaldagtige blare wat diggepak plat teen die takkies lê. Die wit, welriekende, bolvormige blomkoppe (10 mm deursnit) verskyn kort na die eerste winterreëns in trosse op die punte van takke wat van verskillende plekke op die stamme uitspruit. Na blomtyd val die blomme af en laat die grysbruin vruggies agter wat vir ’n paar jaar op die bos kan bly. Die plant is brandbestand omdat dit na brandskade herspruit uit die ondergrondse houtagtige stamvoet.