PROTEACEAE

Diastella fraterna

Palmiet poeierkwas, Palmiet silkypuff
Diastella van die Grieks diastellein (om te skei) verwys na blomdeksegmente wat tot aan die basis vry is (free perianth lobes). Fraterna van die Latyns fraternus (broederskap) verwys na die feit dat hierdie Diastella baie ooreenkomste het met Diastella divaricata subsp. montana (bergpoeierkwas).

Beskrywing

Dit is ’n ronde klein struikie wat omtrent altyd sagte wit blomme dra. Die takkies is minder houterig as dié van ander Proteaceae. Die struikie is enkelstammig en breër as wat dit hoog is. Die blare is klein, lank en smal met gladde rande, soos dakpanne gerangskik aan die takke. Daar is soms 2 of 3 tande aan die toppunt van die blaar. Jong blare is gedraai. Die klein wit bloeiwyses wat deur die jaar verskyn, het kenmerkende wit omwindselblare wat later bruin en papieragtig word. Hulle lyk soos sagte poeierkwassies. Die saad is ’n gryserige wit neut, gekeep aan die basis en ongeveer 5 mm lank. Dit is groot in vergelyking met die klein blomhofie. Slegs een vrug ontwikkel in elke blomhofie. Dit val uit sodra dit ryp is.

Blomtyd

Jan, Feb, Mrt, Apr, Mei, Jun, Jul, Aug, Sep, Okt, Nov, Des

Blomkleur

Wit, Geel

Bewaringstatus

Seldsaam

Bedreigings

Seldsaam weens die klein verspreidingsgebied (slegs in die Kogelberge). Dit word egter nie bedreig nie omdat dit volop is in die gebied en boonop beskerm word in die Kogelberg Reservaat. Die bevolking is stabiel.

Habitat en gebied

Van seevlak tot 450 m bo seespieël op klam, sanderige of klipperige plekke in die Palmietriviervallei en op die berge van Kleinmond en Bettysbaai.

Vind hierdie spesie by:

9, 10, 11, 12, 13

Meer oor

Diastella fraterna

Ekologie

Diastellas word bestuif deur insekte. Miere of muise dra die saad na hul neste om die elaiosoom-lagie daar te eet. Die saad self bly agter in die nes en ontkiem in die volgende herfs of wanneer toestande gunstig is na ’n brand.

Deel van die genus

Diastella
Diastella het die kleinste verspreidingsgebied van al die genera van die Protea-familie. Die sewe spesies van die genus is beperk tot die suidwestelike uithoek van die Wes-Kaap. Op die oog af lyk die blomme soos speldekussings. Die struikies is klein en spreidend en hul stingels is minder houtagtig as dié van die meeste proteas. Die blare is soos dakpanne gerangskik en het gladde rande (soms is daar twee of drie tande op die blaarpunte). Diastellas het ook nie ’n afgebakende blomtyd nie – hulle blom byna aanhoudend.
PROTEACEAE
Die Proteaceae is ’n baie ou plantfamilie, waarskynlik een van die oudste groepe blomplante. Daar was proteas in Gondwanaland reeds lank voordat dit 140 miljoen jaar gelede uiteen begin dryf het. Suid-Afrika deel geen genus van sy proteas met Australië nie, maar meer as die helfte van die genera in Suid-Amerika kom ook in Australië voor. Uit die ongeveer 360 spesies in Suid-Afrika kom 330 slegs in die Kaapse Blommestreek (tussen Niewoudtville in die noordweste en Grahamstad in die ooste) voor. Die Kaapse plooiberge het veroorsaak dat die plante in isolasie geleef het, en dit is waarskynlik waarom daar so ’n groot verskeidenheid spesies is. Die konsentrasie van die Proteaceae in die Suidwes-Kaap dra by tot die voorkoms van die Kaapse flora, met sy houtagtige struike en gerolde blare. Dit is tipies van gebiede met lang droë somers en arm grond. Proteacea is ’n belangrike deel van die Kaapse fynbos. Dié woord kom van die Hollandse fijn bosch, die naam wat hulle vir die vreemde plantegroei met sy gebrek aan grasweiding gegee het. Al die lede van die Protea-familie het proteoïede wortels, digte klonte harige worteltjies waarvan die oppervlak-area 15 keer groter is as dié van ander wortels. Hierdie tipe wortels vorm in ’n mat van 50 mm diep in die grond net onder die blare-deklaag. Dit is waar die meeste voedingstowwe gevind word. In die veld vorm hulle net tydens die reënseisoen en is ’n aanpassing by die arm grond in die Kaapse berge. Hierdie soort wortels stel die plante in staat om al die beskikbare voedingstowwe op te neem. Hulle is ook aangepas om brande te oorleef. Baie is herspruiters met ’n dik stamvoet of verhoute knol wat die vuur oorleef en dadelik daarna nuwe lote uitstoot. Ander stoor hulle saad jare lank aan die plant. Die plant sterf in ’n brand, maar stel eers in die hitte van die vlamme sy saad vry. Die chemikalieë in die rook van die vuur stimuleer hierdie sade om vinnig te begin groei. Carl Linnaeus het die naam in 1767 aan die familie toegeken. Dit verwys na die Griekse god Proteus wat na willekeur van vorm kon verander, waarskynlik weens die groot verskeidenheid blomme, blare en groeiwyses in hierdie familie.

Ander spesies in hierdie familie:

Staavia radiata

Staavia radiata

’n Ronderige struikie, 60 – 90 cm. Die groen blare is smal, naaldvormig en 4 – 7 mm lank. Jong takkies en blaartjies is bedek met fyn haartjies. Ouer takke is houtagtig. Die wit tot liggeel skutblare wat uitsprei rondom die pienk diggepakte buisvormige blommetjies laat die 30 – 50 mm blomkoppe soos magrietjies lyk. Die blomme verskyn aan die punte van die stamme. Die hoofstam is houtagtig en verskuil onder die grond. Die plant is dus redelik brandbestand en herspruit weer vinnig na brandskade. Dit lyk asof dit “vir altyd” blom omdat die wit skutblare oorbly lank nadat die blomme reeds dood is, vandaar die volksnaam.

Brunia paleacea

Brunia paleacea

Digte ronde struik met baie vertakkings tot 1 m hoog. Smal driehoekige, bykans haarlose blare, buig inwaards, sit styf teen die stingel en is 3 – 6 mm lank. Brandbestand, herspruit vanuit ondergrondse stamvoet. Roomkleurige blomme, elkeen geset in ’n blomkrans van opsigtelike smal wit tot pienk skutblare tot 7 mm in deursnee. Verskyn in trosse op die punte van stingels wat uit die hoofstam vertak.

Brunia noduliflora

Brunia noduliflora

’n Ronderige immergroen struik tussen 0.6 en 1.5 m hoog. Die takkies is bedek met fyn haartjies en 2 – 3 mm naaldagtige blare wat diggepak plat teen die takkies lê. Die wit, welriekende, bolvormige blomkoppe (10 mm deursnit) verskyn kort na die eerste winterreëns in trosse op die punte van takke wat van verskillende plekke op die stamme uitspruit. Na blomtyd val die blomme af en laat die grysbruin vruggies agter wat vir ’n paar jaar op die bos kan bly. Die plant is brandbestand omdat dit na brandskade herspruit uit die ondergrondse houtagtige stamvoet.