PROTEACEAE

Leucadendron gandogeri

Berggeelbos
Leucadendron, van Grieks leukos (wit) en dendron (boom), verwys na die silwerboom of witteboom soos dit eers genoem is. Die spesienaam, gandogeri, verwys na die Franse botanis Michel Gandoger.

Beskrywing

Dit vorm ’n stewige struik tot 1,6 m hoog Blare is ellipties, glad en blink en tot 80 mm lank. Jong blare het sagte haartjies en is rooi in die laatsomer en herfs. Die groot boonste blare vorm heldergeel omwindsels met ’n rooi en oranje skynsel in Augustus. Dit bly dieselfde kleur ook nadat manlike bloeiwyses afgeval en vroulike keëls ontwikkel het. Vrugkoppe is bolrond, langer as breed en het breë, gladde skutblare. Omwindselblare is oop en die blomkoppe duidelik sigbaar. L laureolum, daarenteen, se blomkoppe is versteek onder die omwindselblare. Vrugte is gevlerk en kan jare lank in die keëls bly voordat hulle vrygestel word.

Blomtyd

Aug, Sep, Okt, Nov

Blomkleur

Geel, Oranje, Rooi, Bruin

Bewaringstatus

Lae risiko

Bedreigings

Die Leucadendron het ’n klein voorkomsgebied, maar getalle is stabiel in daardie gebied.

Habitat en gebied

Hulle groei in sandgrond teen klipperige sandsteenhellings van seevlak tot 1350 m bo seespieël en van Kogelberg tot Bredasdorp en noordwaards tot die Hottentots-Hollandberge. Hulle is ook volop op die Hermanus-berge.

Vind hierdie spesie by:

12, 14

Meer oor

Leucadendron gandogeri

Ekologie

Klein torre is die vernaamste bestuiwers. Sade word vrygestel na ’n brand, val op die grond en word dan deur die wind versprei.

Deel van die genus

Leucadendron
Die genus se naam is te danke aan die silwerboom of witteboom, die naam wat die Hollandse nedersetters vir Leucadendron argenteum op Tafelberg gegee het. Die plantkundige Plukenet het die genus in 1691 beskryf en die Latynse vertaling van witteboom as genusnaam gebruik. Behalwe vir ’n klein bevolking in die Oos-Kaap en 2 subspesies in KZN, kom die 79 ander spesies almal in die Suid- en Suidwes-Kaap voor. Hulle oortref alle ander Protea-genera in soortverskeidenheid en getalle. Leucadendron en Aulax is die enigste Proteaceae wat tweehuisig is (verskillende manlike en vroulike plante het). By vroulike plante het elke blommetjie ’n dik vlesige blomskutblaar op die blombodem. Dit bedek die blomdekbuis, maar die steriele meeldrade en vrugbare stempel loer oor die rand van die skutblaar. Die skutblare is in ’n spiraal gerangskik en beskerm die ontwikkelende vrug. Laasgenoemde word uiteindelik houtagtig en óf hard en blink óf bedek met fyn haartjies. Dit is die houtagtige skutblare wat die keëls of tolle van die vrugkoppe vorm. Manlike sowel as vroulike blomme skei nektar af uit naaldagtige nektarkliere wat insekte lok. Sommige spesies is nektarloos en geurloos en word waarskynlik deur die wind bestuif. Algemene volksname vir die Leucadendron is tolbos en sonskynbos.
PROTEACEAE
Die Proteaceae is ’n baie ou plantfamilie, waarskynlik een van die oudste groepe blomplante. Daar was proteas in Gondwanaland reeds lank voordat dit 140 miljoen jaar gelede uiteen begin dryf het. Suid-Afrika deel geen genus van sy proteas met Australië nie, maar meer as die helfte van die genera in Suid-Amerika kom ook in Australië voor. Uit die ongeveer 360 spesies in Suid-Afrika kom 330 slegs in die Kaapse Blommestreek (tussen Niewoudtville in die noordweste en Grahamstad in die ooste) voor. Die Kaapse plooiberge het veroorsaak dat die plante in isolasie geleef het, en dit is waarskynlik waarom daar so ’n groot verskeidenheid spesies is. Die konsentrasie van die Proteaceae in die Suidwes-Kaap dra by tot die voorkoms van die Kaapse flora, met sy houtagtige struike en gerolde blare. Dit is tipies van gebiede met lang droë somers en arm grond. Proteacea is ’n belangrike deel van die Kaapse fynbos. Dié woord kom van die Hollandse fijn bosch, die naam wat hulle vir die vreemde plantegroei met sy gebrek aan grasweiding gegee het. Al die lede van die Protea-familie het proteoïede wortels, digte klonte harige worteltjies waarvan die oppervlak-area 15 keer groter is as dié van ander wortels. Hierdie tipe wortels vorm in ’n mat van 50 mm diep in die grond net onder die blare-deklaag. Dit is waar die meeste voedingstowwe gevind word. In die veld vorm hulle net tydens die reënseisoen en is ’n aanpassing by die arm grond in die Kaapse berge. Hierdie soort wortels stel die plante in staat om al die beskikbare voedingstowwe op te neem. Hulle is ook aangepas om brande te oorleef. Baie is herspruiters met ’n dik stamvoet of verhoute knol wat die vuur oorleef en dadelik daarna nuwe lote uitstoot. Ander stoor hulle saad jare lank aan die plant. Die plant sterf in ’n brand, maar stel eers in die hitte van die vlamme sy saad vry. Die chemikalieë in die rook van die vuur stimuleer hierdie sade om vinnig te begin groei. Carl Linnaeus het die naam in 1767 aan die familie toegeken. Dit verwys na die Griekse god Proteus wat na willekeur van vorm kon verander, waarskynlik weens die groot verskeidenheid blomme, blare en groeiwyses in hierdie familie.

Ander spesies in hierdie familie:

Staavia radiata

Staavia radiata

’n Ronderige struikie, 60 – 90 cm. Die groen blare is smal, naaldvormig en 4 – 7 mm lank. Jong takkies en blaartjies is bedek met fyn haartjies. Ouer takke is houtagtig. Die wit tot liggeel skutblare wat uitsprei rondom die pienk diggepakte buisvormige blommetjies laat die 30 – 50 mm blomkoppe soos magrietjies lyk. Die blomme verskyn aan die punte van die stamme. Die hoofstam is houtagtig en verskuil onder die grond. Die plant is dus redelik brandbestand en herspruit weer vinnig na brandskade. Dit lyk asof dit “vir altyd” blom omdat die wit skutblare oorbly lank nadat die blomme reeds dood is, vandaar die volksnaam.

Brunia paleacea

Brunia paleacea

Digte ronde struik met baie vertakkings tot 1 m hoog. Smal driehoekige, bykans haarlose blare, buig inwaards, sit styf teen die stingel en is 3 – 6 mm lank. Brandbestand, herspruit vanuit ondergrondse stamvoet. Roomkleurige blomme, elkeen geset in ’n blomkrans van opsigtelike smal wit tot pienk skutblare tot 7 mm in deursnee. Verskyn in trosse op die punte van stingels wat uit die hoofstam vertak.

Brunia noduliflora

Brunia noduliflora

’n Ronderige immergroen struik tussen 0.6 en 1.5 m hoog. Die takkies is bedek met fyn haartjies en 2 – 3 mm naaldagtige blare wat diggepak plat teen die takkies lê. Die wit, welriekende, bolvormige blomkoppe (10 mm deursnit) verskyn kort na die eerste winterreëns in trosse op die punte van takke wat van verskillende plekke op die stamme uitspruit. Na blomtyd val die blomme af en laat die grysbruin vruggies agter wat vir ’n paar jaar op die bos kan bly. Die plant is brandbestand omdat dit na brandskade herspruit uit die ondergrondse houtagtige stamvoet.