PROTEACEAE

Leucadendron tinctum

Toffie-appeltolbos, bergroos, speserybos, spicy conebush
Leucadendron van Grieks leukos (wit) en dendron (boom) verwys na die witteboom (tans silwerboom). Tinctum van Latyns tinctura (kleurstof) verwys na dele van die plant wat lyk asof dit gekleur is.

Beskrywing

’n Kleurvolle, spreidende struik met groot blare wat meestal teen berghange groei. Die takke buig af na die grond. Hulle groei tot ’n hoogte van 1,3 m en is enkelstammig met baie takke wat laag uit die stam groei. Die sittende blare is ’n bleek grysgroen en langwerpig met ronde punte. Hulle word groter hoe nader aan die blomkop, ook digter opmekaar. Die plant het groot omwindselblare wat geel word in die winter as dit blomtyd is. Die blink, gladde skutblare is omgebuig. In die blomtyd is die skutblare van die vroulike plant blink en donkerrooi, omring deur 50 olierige basale skubbe. Die keël van vroulike plant is ook donkerrooi. Vrugtekoppe gaan 4 maande na bestuiwing oop en die saad val op die grond. Volwasse saad is ’n bikonvekse neut. Saadverspreiding is beperk omdat die plant afhanklik is van diere om dit te versprei.

Blomtyd

Jul

Blomkleur

Groen, Geel, Oranje, Rooi, Bruin, Wit

Bewaringstatus

Byna bedreig

Bedreigings

Sensitief vir droogte, daar word voorspel dat klimaatsverandering sal lei tot ’n bevolkingsafname van 20 - 30% teen 2025.

Habitat en gebied

Hulle groei in goedgedreineerde klipperige sandsteengrond tussen 20 m en 300 m bo seevlak en kom wydverspreid voor van die Hexrivier- en Hottentots-Holland- tot die Langeberge.

Vind hierdie spesie by:

10, 11

Meer oor

Leucadendron tinctum

Ekologie

Die sterk spesery-geur, helderkleurige skutblare en nektar-produserende skubbe van die bloeiwyse dui op insekbestuiwing. Bosse kan baie oud word.

Deel van die genus

Leucadendron
Die genus se naam is te danke aan die silwerboom of witteboom, die naam wat die Hollandse nedersetters vir Leucadendron argenteum op Tafelberg gegee het. Die plantkundige Plukenet het die genus in 1691 beskryf en die Latynse vertaling van witteboom as genusnaam gebruik. Behalwe vir ’n klein bevolking in die Oos-Kaap en 2 subspesies in KZN, kom die 79 ander spesies almal in die Suid- en Suidwes-Kaap voor. Hulle oortref alle ander Protea-genera in soortverskeidenheid en getalle. Leucadendron en Aulax is die enigste Proteaceae wat tweehuisig is (verskillende manlike en vroulike plante het). By vroulike plante het elke blommetjie ’n dik vlesige blomskutblaar op die blombodem. Dit bedek die blomdekbuis, maar die steriele meeldrade en vrugbare stempel loer oor die rand van die skutblaar. Die skutblare is in ’n spiraal gerangskik en beskerm die ontwikkelende vrug. Laasgenoemde word uiteindelik houtagtig en óf hard en blink óf bedek met fyn haartjies. Dit is die houtagtige skutblare wat die keëls of tolle van die vrugkoppe vorm. Manlike sowel as vroulike blomme skei nektar af uit naaldagtige nektarkliere wat insekte lok. Sommige spesies is nektarloos en geurloos en word waarskynlik deur die wind bestuif. Algemene volksname vir die Leucadendron is tolbos en sonskynbos.
PROTEACEAE
Die Proteaceae is ’n baie ou plantfamilie, waarskynlik een van die oudste groepe blomplante. Daar was proteas in Gondwanaland reeds lank voordat dit 140 miljoen jaar gelede uiteen begin dryf het. Suid-Afrika deel geen genus van sy proteas met Australië nie, maar meer as die helfte van die genera in Suid-Amerika kom ook in Australië voor. Uit die ongeveer 360 spesies in Suid-Afrika kom 330 slegs in die Kaapse Blommestreek (tussen Niewoudtville in die noordweste en Grahamstad in die ooste) voor. Die Kaapse plooiberge het veroorsaak dat die plante in isolasie geleef het, en dit is waarskynlik waarom daar so ’n groot verskeidenheid spesies is. Die konsentrasie van die Proteaceae in die Suidwes-Kaap dra by tot die voorkoms van die Kaapse flora, met sy houtagtige struike en gerolde blare. Dit is tipies van gebiede met lang droë somers en arm grond. Proteacea is ’n belangrike deel van die Kaapse fynbos. Dié woord kom van die Hollandse fijn bosch, die naam wat hulle vir die vreemde plantegroei met sy gebrek aan grasweiding gegee het. Al die lede van die Protea-familie het proteoïede wortels, digte klonte harige worteltjies waarvan die oppervlak-area 15 keer groter is as dié van ander wortels. Hierdie tipe wortels vorm in ’n mat van 50 mm diep in die grond net onder die blare-deklaag. Dit is waar die meeste voedingstowwe gevind word. In die veld vorm hulle net tydens die reënseisoen en is ’n aanpassing by die arm grond in die Kaapse berge. Hierdie soort wortels stel die plante in staat om al die beskikbare voedingstowwe op te neem. Hulle is ook aangepas om brande te oorleef. Baie is herspruiters met ’n dik stamvoet of verhoute knol wat die vuur oorleef en dadelik daarna nuwe lote uitstoot. Ander stoor hulle saad jare lank aan die plant. Die plant sterf in ’n brand, maar stel eers in die hitte van die vlamme sy saad vry. Die chemikalieë in die rook van die vuur stimuleer hierdie sade om vinnig te begin groei. Carl Linnaeus het die naam in 1767 aan die familie toegeken. Dit verwys na die Griekse god Proteus wat na willekeur van vorm kon verander, waarskynlik weens die groot verskeidenheid blomme, blare en groeiwyses in hierdie familie.

Ander spesies in hierdie familie:

Spatalla mollis

Spatalla mollis

’n Regop struikie wat vanaf die basis vertak en tot 75 cm hoog word. Hulle groei in klein groepies wat wyd verspreid oor ’n gebied voorkom.
Ouer blare is glad, naaldvormig en soos dakpanne op die takke gerangskik.
Die sagte wit, wollerige bloeiwyses is dikwels ’n opvallende gesig in die bergveld. Hulle groei in trosse op die punte van die takke en is sittend (sonder ’n blomsteel) met eenblommige windsels. Die blomme tweeslagtig.
Saad word twee maande na blomtyd vrygestel, is harig en silindries en sit op verkorte steeltjies.

Spatalla racemosa

Spatalla racemosa

’n Klein vertakte struikie, gewoonlik minder as 50 cm hoog.
Die naaldagtige blare is 15-25 mm lank.
Bloeiwyses is klein, los gerangskikte silindriese trosse van 1–30 mm. Lang bloeistele laat die bloeiwyses bokant die blare uitstaan. Die eenblommige windsels het lang bloeisteeltjies. Die blomdek is wollerig en buig sterk na vore. Die stuifmeelaanbieder is effens eiervormig.
Die saad is yl behaar, klewerig aan die basis en baie smal.

Spatalla curvifolia

Spatalla curvifolia

Dit is ’n klein, regop plant wat tussen ander fynbosplante groei.
Die gebuigde, naaldagtige blare is 25-50 mm lank. Hulle is nie altyd skerp gebuig nie; die mate van buiging verskil van bevolking tot bevolking.
Romerige wit of liggeel bloeiwyses met talryke eenblommige windsels vorm digte trosse van 30-70 mm. Blomtrosse word deur die jaar gevorm, dus merk mens hulle makliker as ander Spatallas op.