PROTEACEAE

Leucadendron xanthoconus

Blinkblaartolbos
Leucadendron van Grieks leukos (wit) en dendron (boom) verwys na die witteboom (tans silwerboom). Xanthoconus van Grieks xanthion (geel) en konos (geel) verwys na die kleur van die keël (alhoewel die keël eintlik meestal pienkerig is).

Beskrywing

Dit is ’n mooi struik met blare met ’n silwer skynsel. Dit kan tot 2 m hoog groei, is enkelstammig en het digte loof. Dit groei redelik vinnig, dikwels in digte stanings. Die sagte smal blare is skerp gepunt en effens sekelvormig. Jong blare is bedek met silwer hare en is lig met ’n pienk of rooierige skynsel.. Die omwindselblare is geel, saamgedronge en langer as die blomkoppe. Die skutblare van die keëls is dubbellobbig. Die keël bly jare lank in die keël aan die bos en saad word eers vrygestel as die plant sterf (byvoorbeeld na ’n brand). Die saad is gevlerk.

Blomtyd

Aug

Blomkleur

Groen, Geel, Oranje, Rooi, Bruin, Wit

Bewaringstatus

Lae risiko

Bedreigings

Kom in ’n klein gebied voor, maar is volop daar. Die verspreiding van indringerplante en klimaatsverandering kan ’n bedreiging inhou.

Habitat en gebied

Hulle groei teen lae hellings van goedgedreineerde sandsteengrond en kom voor tot 670 m bo seespieël in die winterreënvalgebied van die Skiereiland tot die Riviersonderend-berge.

Vind hierdie spesie by:

3, 9, 10, 12, 13

Meer oor

Leucadendron xanthoconus

Ekologie

Hulle word bestuif deur klein insekte. Saadontkieming word gestimuleer deur die warm dagtemperature en koel nagte van die herfs wat die reënseisoen voorafgaan.

Deel van die genus

Leucadendron
Die genus se naam is te danke aan die silwerboom of witteboom, die naam wat die Hollandse nedersetters vir Leucadendron argenteum op Tafelberg gegee het. Die plantkundige Plukenet het die genus in 1691 beskryf en die Latynse vertaling van witteboom as genusnaam gebruik. Behalwe vir ’n klein bevolking in die Oos-Kaap en 2 subspesies in KZN, kom die 79 ander spesies almal in die Suid- en Suidwes-Kaap voor. Hulle oortref alle ander Protea-genera in soortverskeidenheid en getalle. Leucadendron en Aulax is die enigste Proteaceae wat tweehuisig is (verskillende manlike en vroulike plante het). By vroulike plante het elke blommetjie ’n dik vlesige blomskutblaar op die blombodem. Dit bedek die blomdekbuis, maar die steriele meeldrade en vrugbare stempel loer oor die rand van die skutblaar. Die skutblare is in ’n spiraal gerangskik en beskerm die ontwikkelende vrug. Laasgenoemde word uiteindelik houtagtig en óf hard en blink óf bedek met fyn haartjies. Dit is die houtagtige skutblare wat die keëls of tolle van die vrugkoppe vorm. Manlike sowel as vroulike blomme skei nektar af uit naaldagtige nektarkliere wat insekte lok. Sommige spesies is nektarloos en geurloos en word waarskynlik deur die wind bestuif. Algemene volksname vir die Leucadendron is tolbos en sonskynbos.
PROTEACEAE
Die Proteaceae is ’n baie ou plantfamilie, waarskynlik een van die oudste groepe blomplante. Daar was proteas in Gondwanaland reeds lank voordat dit 140 miljoen jaar gelede uiteen begin dryf het. Suid-Afrika deel geen genus van sy proteas met Australië nie, maar meer as die helfte van die genera in Suid-Amerika kom ook in Australië voor. Uit die ongeveer 360 spesies in Suid-Afrika kom 330 slegs in die Kaapse Blommestreek (tussen Niewoudtville in die noordweste en Grahamstad in die ooste) voor. Die Kaapse plooiberge het veroorsaak dat die plante in isolasie geleef het, en dit is waarskynlik waarom daar so ’n groot verskeidenheid spesies is. Die konsentrasie van die Proteaceae in die Suidwes-Kaap dra by tot die voorkoms van die Kaapse flora, met sy houtagtige struike en gerolde blare. Dit is tipies van gebiede met lang droë somers en arm grond. Proteacea is ’n belangrike deel van die Kaapse fynbos. Dié woord kom van die Hollandse fijn bosch, die naam wat hulle vir die vreemde plantegroei met sy gebrek aan grasweiding gegee het. Al die lede van die Protea-familie het proteoïede wortels, digte klonte harige worteltjies waarvan die oppervlak-area 15 keer groter is as dié van ander wortels. Hierdie tipe wortels vorm in ’n mat van 50 mm diep in die grond net onder die blare-deklaag. Dit is waar die meeste voedingstowwe gevind word. In die veld vorm hulle net tydens die reënseisoen en is ’n aanpassing by die arm grond in die Kaapse berge. Hierdie soort wortels stel die plante in staat om al die beskikbare voedingstowwe op te neem. Hulle is ook aangepas om brande te oorleef. Baie is herspruiters met ’n dik stamvoet of verhoute knol wat die vuur oorleef en dadelik daarna nuwe lote uitstoot. Ander stoor hulle saad jare lank aan die plant. Die plant sterf in ’n brand, maar stel eers in die hitte van die vlamme sy saad vry. Die chemikalieë in die rook van die vuur stimuleer hierdie sade om vinnig te begin groei. Carl Linnaeus het die naam in 1767 aan die familie toegeken. Dit verwys na die Griekse god Proteus wat na willekeur van vorm kon verander, waarskynlik weens die groot verskeidenheid blomme, blare en groeiwyses in hierdie familie.

Ander spesies in hierdie familie:

Spatalla mollis

Spatalla mollis

’n Regop struikie wat vanaf die basis vertak en tot 75 cm hoog word. Hulle groei in klein groepies wat wyd verspreid oor ’n gebied voorkom.
Ouer blare is glad, naaldvormig en soos dakpanne op die takke gerangskik.
Die sagte wit, wollerige bloeiwyses is dikwels ’n opvallende gesig in die bergveld. Hulle groei in trosse op die punte van die takke en is sittend (sonder ’n blomsteel) met eenblommige windsels. Die blomme tweeslagtig.
Saad word twee maande na blomtyd vrygestel, is harig en silindries en sit op verkorte steeltjies.

Spatalla racemosa

Spatalla racemosa

’n Klein vertakte struikie, gewoonlik minder as 50 cm hoog.
Die naaldagtige blare is 15-25 mm lank.
Bloeiwyses is klein, los gerangskikte silindriese trosse van 1–30 mm. Lang bloeistele laat die bloeiwyses bokant die blare uitstaan. Die eenblommige windsels het lang bloeisteeltjies. Die blomdek is wollerig en buig sterk na vore. Die stuifmeelaanbieder is effens eiervormig.
Die saad is yl behaar, klewerig aan die basis en baie smal.

Spatalla curvifolia

Spatalla curvifolia

Dit is ’n klein, regop plant wat tussen ander fynbosplante groei.
Die gebuigde, naaldagtige blare is 25-50 mm lank. Hulle is nie altyd skerp gebuig nie; die mate van buiging verskil van bevolking tot bevolking.
Romerige wit of liggeel bloeiwyses met talryke eenblommige windsels vorm digte trosse van 30-70 mm. Blomtrosse word deur die jaar gevorm, dus merk mens hulle makliker as ander Spatallas op.