PROTEACEAE

Leucospermum conocarpodendron subsp viridum

Groenkreupelhout, kreupelboom, brandhoutboom
Leucospermum van Grieks leukos (wit) en spermum (saad) verwys na die saad wat meestal wit is. Conocarpodendron, van die Grieks konos (keël), karpos (vrug) en dendron (boom) beteken “boom met keëlvormige vrugte”. Die is die eerste spesie in die genus wat opgeskryf is en is ook reeds in ongeveer 1700 in Holland gekweek en in 1710 na Kew in Londen geneem.

Beskrywing

Hierdie speldekussing vorm ’n stewige boom (dit is die grootste speldekussing), en is in blomtyd oortrek van groot heldergeel speldekussings wat druk besoek word deur die Kaapse suikervoëls. Die plant is enkelstammig, tot 5 m hoog en tot 6 m breed. Die laagste takke hang grond toe, wat die boom ’n ronde vorm gee en windskade beperk. Ouer takke het ’n harige oppervlak. Die stam het ’n knoesterige, kurkagtige, dik bas wat die plant help om brande te oorleef. Waar dit te dikwels brand, kom al hoe minder nuwe plante egter op en groot bome word deesdae slegs in beskutte areas gevind. Blare is diepgroen, glad en soms gefraiing. Hulle is ook sittend, dig opmekaar, en het skerp of ronde punte. Die drie tot tien rooierige, klieragtige knoppies op die rande is kenmerkend van speldekussings. Dit helder geel bloeiwyses groei uit stewige, houtagtige takke. Hulle kom dikwels in groepe van drie voor. Die saad word een tot twee maande na blomtyd vrygestel. Die vrug is ’n harde eiervormige neut bedek met wit elaiosoom, die voedsame buitenste gedeelte wat miere lok om die saad na hul neste toe te dra.

Blomtyd

Aug, Sep, Okt, Nov, Des

Blomkleur

Geel

Bewaringstatus

Byna bedreig

Bedreigings

Dit het die afgelope 60 jaar ongeveer ’n kwart van sy natuurlike habitat verloor.

Habitat en gebied

Hulle kom voor van die Hottentots-Hollandberge en Kogelberge tot die Kleinrivierberge, asook langs die kus tussen Kleinmond en Bettysbaai.

Vind hierdie spesie by:

2, 3, 4, 5, 9, 10, 11

Meer oor

Leucospermum conocarpodendron subsp viridum

Ekologie

Kaapse suikervoëls, bye en perdebye is die vernaamste bestuiwers. Miere dra die sade na hulle neste, waar dit ontkiem wanneer toestande gunstig is.

Deel van die genus

Leucospermum
Baie mense beskou die Leucospermum of speldekussings as die mooiste genus in die Protea-familie. Hulle word maklik uitgeken aan hulle lang, sterk en kleurvolle stampers. Hulle het ook klein skutblare en geen omwindselblare nie, en die blare het meestal klein rooierige, klieragtige knoppies aan die veelvuldige punte. Hulle funksie is onbekend. Speldekussings word houterig na ongeveer 8 jaar. Die verskillende spesies verskil baie in grootte en vorm, van klein boompies tot grondbedekkers. Die groot struike en bome word meestal deur suikervoëls bestuif, terwyl die grondbedekkers afhanklik is van knaagdiertjies en miere. Die miere dra die saad na hulle ondergrondse neste, waar hulle die elaiosoom (’n voedsame bedekking) eet en die saad agterlaat. Dit ontkiem dan wanneer toestande gunstig is (dikwels na ’n brand). Die genus bestaan uit 48 spesies en die meeste kom net in die Kaapse Blommeryk voor. Daar is egter 2 spesies wat tot in Namakwaland voorkom, twee wat in KZN groei en een wat in die noorde van die land en Zimbabwe groei. Die Agulhasvlakte huisves 30 verskillende spesies. Sommige spesies, soos L. oleifolium en L. prostratum, verander geleidelik van kleur wanneer die bloeiwyses ouer word. Speldekussings is oorspronklik luisies genoem na die gryswit ronde sade in die blomknoppe wat soos dikgesuipte bosluise lyk. Die lang, opvallende style wat verdik is aan die punte om stuifmeelaanbieders te vorm herinner egter so sterk aan ’n speldekussing vol spelde dat dié naam mettertyd die oorspronklike naam verdring het. Die genusnaam Leucospermum kom van die van Grieks leukos (wit) en spermum (saad).
PROTEACEAE
Die Proteaceae is ’n baie ou plantfamilie, waarskynlik een van die oudste groepe blomplante. Daar was proteas in Gondwanaland reeds lank voordat dit 140 miljoen jaar gelede uiteen begin dryf het. Suid-Afrika deel geen genus van sy proteas met Australië nie, maar meer as die helfte van die genera in Suid-Amerika kom ook in Australië voor. Uit die ongeveer 360 spesies in Suid-Afrika kom 330 slegs in die Kaapse Blommestreek (tussen Niewoudtville in die noordweste en Grahamstad in die ooste) voor. Die Kaapse plooiberge het veroorsaak dat die plante in isolasie geleef het, en dit is waarskynlik waarom daar so ’n groot verskeidenheid spesies is. Die konsentrasie van die Proteaceae in die Suidwes-Kaap dra by tot die voorkoms van die Kaapse flora, met sy houtagtige struike en gerolde blare. Dit is tipies van gebiede met lang droë somers en arm grond. Proteacea is ’n belangrike deel van die Kaapse fynbos. Dié woord kom van die Hollandse fijn bosch, die naam wat hulle vir die vreemde plantegroei met sy gebrek aan grasweiding gegee het. Al die lede van die Protea-familie het proteoïede wortels, digte klonte harige worteltjies waarvan die oppervlak-area 15 keer groter is as dié van ander wortels. Hierdie tipe wortels vorm in ’n mat van 50 mm diep in die grond net onder die blare-deklaag. Dit is waar die meeste voedingstowwe gevind word. In die veld vorm hulle net tydens die reënseisoen en is ’n aanpassing by die arm grond in die Kaapse berge. Hierdie soort wortels stel die plante in staat om al die beskikbare voedingstowwe op te neem. Hulle is ook aangepas om brande te oorleef. Baie is herspruiters met ’n dik stamvoet of verhoute knol wat die vuur oorleef en dadelik daarna nuwe lote uitstoot. Ander stoor hulle saad jare lank aan die plant. Die plant sterf in ’n brand, maar stel eers in die hitte van die vlamme sy saad vry. Die chemikalieë in die rook van die vuur stimuleer hierdie sade om vinnig te begin groei. Carl Linnaeus het die naam in 1767 aan die familie toegeken. Dit verwys na die Griekse god Proteus wat na willekeur van vorm kon verander, waarskynlik weens die groot verskeidenheid blomme, blare en groeiwyses in hierdie familie.

Ander spesies in hierdie familie:

Spatalla mollis

Spatalla mollis

’n Regop struikie wat vanaf die basis vertak en tot 75 cm hoog word. Hulle groei in klein groepies wat wyd verspreid oor ’n gebied voorkom.
Ouer blare is glad, naaldvormig en soos dakpanne op die takke gerangskik.
Die sagte wit, wollerige bloeiwyses is dikwels ’n opvallende gesig in die bergveld. Hulle groei in trosse op die punte van die takke en is sittend (sonder ’n blomsteel) met eenblommige windsels. Die blomme tweeslagtig.
Saad word twee maande na blomtyd vrygestel, is harig en silindries en sit op verkorte steeltjies.

Spatalla racemosa

Spatalla racemosa

’n Klein vertakte struikie, gewoonlik minder as 50 cm hoog.
Die naaldagtige blare is 15-25 mm lank.
Bloeiwyses is klein, los gerangskikte silindriese trosse van 1–30 mm. Lang bloeistele laat die bloeiwyses bokant die blare uitstaan. Die eenblommige windsels het lang bloeisteeltjies. Die blomdek is wollerig en buig sterk na vore. Die stuifmeelaanbieder is effens eiervormig.
Die saad is yl behaar, klewerig aan die basis en baie smal.

Spatalla curvifolia

Spatalla curvifolia

Dit is ’n klein, regop plant wat tussen ander fynbosplante groei.
Die gebuigde, naaldagtige blare is 25-50 mm lank. Hulle is nie altyd skerp gebuig nie; die mate van buiging verskil van bevolking tot bevolking.
Romerige wit of liggeel bloeiwyses met talryke eenblommige windsels vorm digte trosse van 30-70 mm. Blomtrosse word deur die jaar gevorm, dus merk mens hulle makliker as ander Spatallas op.