PROTEACEAE

Leucospermum oleifolium

Overberg-speldekussing
Leucospermum kom van die Grieks leukos (wit) en spermum (saad). Oleifolium van die Grieks elaia (olyf) en phyllum (blaar) verwys na die vorm van die blare.

Beskrywing

’n Regop struik, breër as lank en enkelstammig. Dit het groterige olyfkleurige, ovaal blare (3,5 cm lank) met duidelike are en harde punte. Daar is meestal twee tot vyf klieragtige knobbeltjies op die rande. Bloeiwyses is elk ongeveer 4 cm in deursnee, in groepies van tot vyf blomhofies op die punt van die takke. Blomhofies maak een na die ander oop en is aanvanklik geel, dan oranje en dan rooi. Die plant is ’n kleurvolle gesig vir ongeveer 4 maande lank.

Blomtyd

Aug, Sep, Okt, Nov, Des, Jan

Blomkleur

Geel, Oranje, Rooi

Bewaringstatus

Byna bedreig

Bedreigings

Kom in ’n klein gebied voor, maar in beskermde gebied soos die Kogelberg Biosfeer Reservaat is die bevolking stabiel. Indringerplante in ander areas hou ’n groot bedreiging in.

Habitat en gebied

Hulle groei van seevlak tot 1000 m bo seevlak op suur sandgrond wat uit Tafelbergsandsteen onstaan het. Mis- en wolkbanke in die berge verskaf ekstra vogtigheid. Volgens dr. Rourke word variasies in groeivorm veroorsaak deur die hoogte bo seevlak. Naby die see veroorsaak stormwinde dat hulle gerond en dig is met harige blare met gladde rande. Omwindselblare word ook langer hoe hoër die habitat. Hulle kom voor van Hangklip oor die Kogelberg tot die Hottentots-Holland-, Franschhoek- en Riviersonderendberge.

Vind hierdie spesie by:

2, 3, 9, 10, 11, 12

Meer oor

Leucospermum oleifolium

Ekologie

Hulle word bestuif deur voëls en insekte.

Deel van die genus

Leucospermum
Baie mense beskou die Leucospermum of speldekussings as die mooiste genus in die Protea-familie. Hulle word maklik uitgeken aan hulle lang, sterk en kleurvolle stampers. Hulle het ook klein skutblare en geen omwindselblare nie, en die blare het meestal klein rooierige, klieragtige knoppies aan die veelvuldige punte. Hulle funksie is onbekend. Speldekussings word houterig na ongeveer 8 jaar. Die verskillende spesies verskil baie in grootte en vorm, van klein boompies tot grondbedekkers. Die groot struike en bome word meestal deur suikervoëls bestuif, terwyl die grondbedekkers afhanklik is van knaagdiertjies en miere. Die miere dra die saad na hulle ondergrondse neste, waar hulle die elaiosoom (’n voedsame bedekking) eet en die saad agterlaat. Dit ontkiem dan wanneer toestande gunstig is (dikwels na ’n brand). Die genus bestaan uit 48 spesies en die meeste kom net in die Kaapse Blommeryk voor. Daar is egter 2 spesies wat tot in Namakwaland voorkom, twee wat in KZN groei en een wat in die noorde van die land en Zimbabwe groei. Die Agulhasvlakte huisves 30 verskillende spesies. Sommige spesies, soos L. oleifolium en L. prostratum, verander geleidelik van kleur wanneer die bloeiwyses ouer word. Speldekussings is oorspronklik luisies genoem na die gryswit ronde sade in die blomknoppe wat soos dikgesuipte bosluise lyk. Die lang, opvallende style wat verdik is aan die punte om stuifmeelaanbieders te vorm herinner egter so sterk aan ’n speldekussing vol spelde dat dié naam mettertyd die oorspronklike naam verdring het. Die genusnaam Leucospermum kom van die van Grieks leukos (wit) en spermum (saad).
PROTEACEAE
Die Proteaceae is ’n baie ou plantfamilie, waarskynlik een van die oudste groepe blomplante. Daar was proteas in Gondwanaland reeds lank voordat dit 140 miljoen jaar gelede uiteen begin dryf het. Suid-Afrika deel geen genus van sy proteas met Australië nie, maar meer as die helfte van die genera in Suid-Amerika kom ook in Australië voor. Uit die ongeveer 360 spesies in Suid-Afrika kom 330 slegs in die Kaapse Blommestreek (tussen Niewoudtville in die noordweste en Grahamstad in die ooste) voor. Die Kaapse plooiberge het veroorsaak dat die plante in isolasie geleef het, en dit is waarskynlik waarom daar so ’n groot verskeidenheid spesies is. Die konsentrasie van die Proteaceae in die Suidwes-Kaap dra by tot die voorkoms van die Kaapse flora, met sy houtagtige struike en gerolde blare. Dit is tipies van gebiede met lang droë somers en arm grond. Proteacea is ’n belangrike deel van die Kaapse fynbos. Dié woord kom van die Hollandse fijn bosch, die naam wat hulle vir die vreemde plantegroei met sy gebrek aan grasweiding gegee het. Al die lede van die Protea-familie het proteoïede wortels, digte klonte harige worteltjies waarvan die oppervlak-area 15 keer groter is as dié van ander wortels. Hierdie tipe wortels vorm in ’n mat van 50 mm diep in die grond net onder die blare-deklaag. Dit is waar die meeste voedingstowwe gevind word. In die veld vorm hulle net tydens die reënseisoen en is ’n aanpassing by die arm grond in die Kaapse berge. Hierdie soort wortels stel die plante in staat om al die beskikbare voedingstowwe op te neem. Hulle is ook aangepas om brande te oorleef. Baie is herspruiters met ’n dik stamvoet of verhoute knol wat die vuur oorleef en dadelik daarna nuwe lote uitstoot. Ander stoor hulle saad jare lank aan die plant. Die plant sterf in ’n brand, maar stel eers in die hitte van die vlamme sy saad vry. Die chemikalieë in die rook van die vuur stimuleer hierdie sade om vinnig te begin groei. Carl Linnaeus het die naam in 1767 aan die familie toegeken. Dit verwys na die Griekse god Proteus wat na willekeur van vorm kon verander, waarskynlik weens die groot verskeidenheid blomme, blare en groeiwyses in hierdie familie.

Ander spesies in hierdie familie:

Spatalla racemosa

Spatalla racemosa

’n Klein vertakte struikie, gewoonlik minder as 50 cm hoog.
Die naaldagtige blare is 15-25 mm lank.
Bloeiwyses is klein, los gerangskikte silindriese trosse van 1–30 mm. Lang bloeistele laat die bloeiwyses bokant die blare uitstaan. Die eenblommige windsels het lang bloeisteeltjies. Die blomdek is wollerig en buig sterk na vore. Die stuifmeelaanbieder is effens eiervormig.
Die saad is yl behaar, klewerig aan die basis en baie smal.

Spatalla mollis

Spatalla mollis

’n Regop struikie wat vanaf die basis vertak en tot 75 cm hoog word. Hulle groei in klein groepies wat wyd verspreid oor ’n gebied voorkom.
Ouer blare is glad, naaldvormig en soos dakpanne op die takke gerangskik.
Die sagte wit, wollerige bloeiwyses is dikwels ’n opvallende gesig in die bergveld. Hulle groei in trosse op die punte van die takke en is sittend (sonder ’n blomsteel) met eenblommige windsels. Die blomme tweeslagtig.
Saad word twee maande na blomtyd vrygestel, is harig en silindries en sit op verkorte steeltjies.

Spatalla curvifolia

Spatalla curvifolia

Dit is ’n klein, regop plant wat tussen ander fynbosplante groei.
Die gebuigde, naaldagtige blare is 25-50 mm lank. Hulle is nie altyd skerp gebuig nie; die mate van buiging verskil van bevolking tot bevolking.
Romerige wit of liggeel bloeiwyses met talryke eenblommige windsels vorm digte trosse van 30-70 mm. Blomtrosse word deur die jaar gevorm, dus merk mens hulle makliker as ander Spatallas op.