PROTEACEAE

Mimetus hirtus

Vleistompie, pynappelstompie
Die rede vir die naam Mimetes, van die Grieks mimetes (nabootser), is onbekend. Hirtus kom van die Latyns hirsutus (harig, bedek met growwe hare).

Beskrywing

’n Enkelstammige, regop struik met baie takke. Dit kan tot 2,5 m hoog groei. Die bas is glad en rooierig. Anders as ander spesies in die genus groei hulle graag in digte stanings. Die takke het lang smal blare wat oor mekaar lê en die stam wegsteek. Blare, blaarrande en takke is bedek is met fyn haartjies. Die blare is nooit getand nie, maar het stomp en eeltagtige punte. Elke blomhofie bevat 7 tot 12 blomme en word omvou deur ’n windsel van geel skutblare. Die binnestes of boonstes skutblare vorm ’n rooi spatsel teen die sagte wit blomtoppe. Saad: Geronde, witterige neut.

Blomtyd

Mei, Jun, Jul, Aug, Sep, Okt, Nov

Blomkleur

Wit, Geel, Rooi

Bewaringstatus

Kwesbaar

Bedreigings

Kwesbaar weens habitatverlies, indringerplante en sy gewildheid as snyblom. Dit is gelukkig nie te moeilik om te kweek nie, en kan dus moontlik op so ’n manier oorleef.

Habitat en gebied

Hulle groei in vleilande in veenagtige, suur grond naby seevlak; van die Skiereiland tot Elim.

Vind hierdie spesie by:

3

Meer oor

Mimetus hirtus

Ekologie

Inheemse miere soos Anoplolepis custodiens is belangrik vir Mimetes se oorlewing. Hulle dra die saad na hulle neste, waar hulle die sagte buitenste dop en verdikkings op die punte van die saad afeet. Die res van die saad bly veilig ondergronds totdat dit tyd is om te ontkiem.

Deel van die genus

Mimetes
Die ongewone blomkoppe onderskei hierdie genus van al die ander Protea-genera. Volgens SANBI se rooi datalys is daar 13 spesies in die genus. Hulle is beperk tot ’n klein gebied in die suidwestelike en suidelike Kaap. Mimetes cucullatus is die enigste spesie wat wydverspreid voorkom; die ander is beperk tot baie klein gebiede en word almal as bedreig beskou. Mimetes stokoei is byvoorbeeld beperk tot ’n enkele gebied in die Kogelberge en word selfs daar selde gesien. Die blomme kom in klein windsels voor en elke blomhofie van 3 tot 16 blomme word in die oksel van ’n loofblaar gedra. Die 15 of meer blomhofies word op verskillende maniere en in verskillende kleure op die stingel gegroepeer. Mimetes kom van die Grieks mimetes (nabootser). Waar die naam vandaan kom, is nie seker nie. Een moontlikheid is die feit dat die verskillende spesies nie veel van mekaar verskil nie.
PROTEACEAE
Die Proteaceae is ’n baie ou plantfamilie, waarskynlik een van die oudste groepe blomplante. Daar was proteas in Gondwanaland reeds lank voordat dit 140 miljoen jaar gelede uiteen begin dryf het. Suid-Afrika deel geen genus van sy proteas met Australië nie, maar meer as die helfte van die genera in Suid-Amerika kom ook in Australië voor. Uit die ongeveer 360 spesies in Suid-Afrika kom 330 slegs in die Kaapse Blommestreek (tussen Niewoudtville in die noordweste en Grahamstad in die ooste) voor. Die Kaapse plooiberge het veroorsaak dat die plante in isolasie geleef het, en dit is waarskynlik waarom daar so ’n groot verskeidenheid spesies is. Die konsentrasie van die Proteaceae in die Suidwes-Kaap dra by tot die voorkoms van die Kaapse flora, met sy houtagtige struike en gerolde blare. Dit is tipies van gebiede met lang droë somers en arm grond. Proteacea is ’n belangrike deel van die Kaapse fynbos. Dié woord kom van die Hollandse fijn bosch, die naam wat hulle vir die vreemde plantegroei met sy gebrek aan grasweiding gegee het. Al die lede van die Protea-familie het proteoïede wortels, digte klonte harige worteltjies waarvan die oppervlak-area 15 keer groter is as dié van ander wortels. Hierdie tipe wortels vorm in ’n mat van 50 mm diep in die grond net onder die blare-deklaag. Dit is waar die meeste voedingstowwe gevind word. In die veld vorm hulle net tydens die reënseisoen en is ’n aanpassing by die arm grond in die Kaapse berge. Hierdie soort wortels stel die plante in staat om al die beskikbare voedingstowwe op te neem. Hulle is ook aangepas om brande te oorleef. Baie is herspruiters met ’n dik stamvoet of verhoute knol wat die vuur oorleef en dadelik daarna nuwe lote uitstoot. Ander stoor hulle saad jare lank aan die plant. Die plant sterf in ’n brand, maar stel eers in die hitte van die vlamme sy saad vry. Die chemikalieë in die rook van die vuur stimuleer hierdie sade om vinnig te begin groei. Carl Linnaeus het die naam in 1767 aan die familie toegeken. Dit verwys na die Griekse god Proteus wat na willekeur van vorm kon verander, waarskynlik weens die groot verskeidenheid blomme, blare en groeiwyses in hierdie familie.

Ander spesies in hierdie familie:

Spatalla mollis

Spatalla mollis

’n Regop struikie wat vanaf die basis vertak en tot 75 cm hoog word. Hulle groei in klein groepies wat wyd verspreid oor ’n gebied voorkom.
Ouer blare is glad, naaldvormig en soos dakpanne op die takke gerangskik.
Die sagte wit, wollerige bloeiwyses is dikwels ’n opvallende gesig in die bergveld. Hulle groei in trosse op die punte van die takke en is sittend (sonder ’n blomsteel) met eenblommige windsels. Die blomme tweeslagtig.
Saad word twee maande na blomtyd vrygestel, is harig en silindries en sit op verkorte steeltjies.

Spatalla racemosa

Spatalla racemosa

’n Klein vertakte struikie, gewoonlik minder as 50 cm hoog.
Die naaldagtige blare is 15-25 mm lank.
Bloeiwyses is klein, los gerangskikte silindriese trosse van 1–30 mm. Lang bloeistele laat die bloeiwyses bokant die blare uitstaan. Die eenblommige windsels het lang bloeisteeltjies. Die blomdek is wollerig en buig sterk na vore. Die stuifmeelaanbieder is effens eiervormig.
Die saad is yl behaar, klewerig aan die basis en baie smal.

Spatalla curvifolia

Spatalla curvifolia

Dit is ’n klein, regop plant wat tussen ander fynbosplante groei.
Die gebuigde, naaldagtige blare is 25-50 mm lank. Hulle is nie altyd skerp gebuig nie; die mate van buiging verskil van bevolking tot bevolking.
Romerige wit of liggeel bloeiwyses met talryke eenblommige windsels vorm digte trosse van 30-70 mm. Blomtrosse word deur die jaar gevorm, dus merk mens hulle makliker as ander Spatallas op.