IRIDADEAE

Nivenia stokoei

Kogelberg blousterretjie, blousterretjie
Die genus is vernoem na die Skotse botanis James Niven (1774 – 1826), een van die eerste persone wat plante in die genus versamel het. Die spesie is vernoem na Thomas Stokoe (1868 – 1959), ’n Brit van Yorkshire wat in 1911 na Suid-Afrika emigreer het en veral in die Kogelberg plante versamel het. Baie plante is na hom vernoem.

Beskrywing

Dit is ’n struik wat tot 60 cm hoog word en selfs hoër in beskutte areas. Blare is swaardvormig en in ’n waaiervorm gerangskik. Tussen 20 en 40 blomme word in ’n trosvorm gedra. Hulle is groot en ligblou tot donkerblou. Die blombuis is ongeveer 30 mm lank, waarna die kroonblare oopsprei en ’n ster vorm.

Blomtyd

Jan, Feb, Mrt

Blomkleur

Blou

Bewaringstatus

Seldsaam

Bedreigings

Die plant kom slegs in die Kogelberg Biosfeer en boonop op minder as 10 verskillende plekke voor. Dit kom ook in die Biosfeer se buffersone om Kleinmond voor. Die bevolking bly stabiel.

Habitat en gebied

Oop, klipperige areas in arm sandsteengrond. Kogelberg, Bettysbaai, Kleinmond, Highlands.

Vind hierdie spesie by:

1, 2, 3, 7, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15

Meer oor

Nivenia stokoei

Ekologie

Nivenias word bestuif deur vlieë in die familie Nemestriniidae en deur bye met lang suigslurpe in die familie Anthophorideae.

Deel van die genus

Nivenia
Immergroen, meerjarige bolplante. Die risoom kan kort of lank wees. Blare is gewoonlik swaard- tot naaldvormig, soms rond. Hulle het altyd ’n skerp punt. Blomme is dikwels sittend (sonder blomsteeltjies) en meestal helder blou. ’n Mens kry ook ligblou, lila en wit blomme. Blomme gaan vroeg soggens oop en verlep in die namiddag. Kelkblare spiraal in mekaar wanneer die blom verlep. Nektar is reukloos. Meeldrade is regop en los van mekaar. Aristea kom voor van Suid-Afrika tot in Senegal en Ethiopië, met sewe spesies in Madagaskar. Die meeste spesies (ongeveer 50) kom in die winterreënvalstreke van Suid-Afrika voor, 32 daarvan in die Wes-Kaap. Hier word blomme gestimuleer deur vuur.
IRIDADEAE
Dit is ’n groot familie meerjarige plante, baie met pragtige, opsigtelike blomme. Blare groei gewoonlik vertikaal tot die stam en omsluit die blomsteel by die basis daarvan. Baie spesies se blare het ’n verdikte hoofaar. Blomme word ’n klein trossies of in ’n rits gerangskik. Daar is meestal ses kroonblare, almal ewe groot of van verskillende groottes, met die boonstes (dorsale kroonblare) gewoonlik groter as die res. Baie is helderkleurig met kenmerkende strepe of kolle. Baie eindig in ’n buis, en baie hou net vir een dag. Baie is welriekend. Saad is dikwels in ’n droë saadhuis wat aan drie kante oopskiet om die sade vry te stel. Daar is wêreldwyd ongeveer 65 genera in die familie met 1800 spesies. In die Kaapse blomstreek is daar al 27 genera opgeteken met 707 spesies. Die meeste spesies verkies klipperige leemgrond, aangesien dit dreinering verbeter. Party groei ook in vleie en selfs in sand. Hulle word gevind van die hoogwatermerk tot ’n hoogte van meer as 3 000 m. Die grootste genera is Gladiolus, Iris en Moraea (almal met meer as 200 spesies). Baie spesies kom in ’n baie klein gebied voor, en stedelike en landbou-ontwikkeling hou vir hulle ’n groot bedreiging in. Die naam IRIDACEAE is in 1753 deur Linaeus toegeken en verwys na die Griekse godin Iris wat met die reënboog afgegly het om boodskappe van die berg Olimpus na die aarde te neem. Die baie kleure van hierdie familie het Linaeus klaarblyklik aan die reënboog laat dink. Die meeste IRIDACEAE verkies ’n klimaat met ’n droë of koue seisoen wanneer die bolle dormant is. Die meeste verloor hul blare in daardie seisoen. Immergroen spesies is beperk tot areas met baie reën of wat deur die jaar klam is. Die blare en stam sterf wanneer die bol dormant is. Die bol kan in tye wat nie geskik is vir groei nie (soos droogte of brande) ondergronds oorleef. Sodra die eerste reën na ’n brand of droogte val, verskyn die plante weer bogronds; trouens baie is op hulle beste en blom op hul weligste na ’n brand.

Ander spesies in hierdie familie:

Watsonia stenosiphon

Watsonia stenosiphon

Die slanke bolplant word slegs sowat 35 cm hoog. Blare is baie smal (lintvormig) tot swaardvormig met effens verdikte rande. Hulle is korter as die blomsteel.
Blomme is in ’n lang, onvertakte rits gerangskik en helder oranje. Die blomdekbuis is lank en dun. Skutblare is ongeveer 20 mm lank.

Watsonia schlechteri

Watsonia schlechteri

’n Bolplant wat tot 1 m hoog word. Blare is smal, swaardvormig en het verdikte rande.
Blomme is in ’n enkele lang rits gerangskik en helder oranje-rooi. Die blomdekbuis is lank, tot 50 mm. Kroonblare is breed. Skutblare is tot 30 mm lank en omsluit die onderste deel van die blomdekbuis.
Hierdie Watsonia blom gewoonlik later as die ander spesies in die genus. Dit groei teen droë klipperige hellings, dikwels tussen rotse waar hulle knolle nie so maklik deur bobbejane of ystervarke uitgegrawe kan word nie. Juis omdat hulle tussen die klippe groei, groei hulle meestal een-een en nie in groepe soos baie ander Watsonias nie.

Watsonia meriana

Watsonia meriana

Die bolplant word tussen 60 cm en 2 m hoog. Daar is soms klein knolletjies by die nodusse.
Blare is swaardvormig, het gewoonlik verdikte rande en is tussen 2 en 3,5 cm wyd.
Blomme is in ’n lang rits gerangskik en kan rooi tot oranje of pienk tot pers wees. Die blomdekbuis is tot 5 cm lank en buisvormig aan die bokant. Skutblare is meestal ongeveer 2 tot 3 cm lank.