PROTEACEAE

Protea lepidocarpodendron

Baardsuikerbos, swartbaardsuikerbos
Protea kom van die Griekse god Proteus wat na willekeur van vorm kon verander. Lepidocarpodendron kom van die Grieks lepis (skub), karpos (vrug) en dendron (boom); dus is dit ’n boom met skubagtige sade.

Beskrywing

’n Regop struik tot 3 m hoog met baie takke, gewoonlik in digte stanings. Die digte blare steek die bloeiwyses weg. Blare groei na bo en is lank en smal. Volwasse blare is glad met skerp rande. Blare is sittend (geen blaarsteeltjie nie). Die bloeiwyse is langwerpig. Elke bloeiwyse het ’n menigte individuele lang, dun blomme wat omring word deur vyf tot ses rye omwindselblare. Die buitenstes (onderste deel van die bloeiwyse) is bruin, ovaal met skerp punte en bedek met silwer haartjies. Die rande het fraiings van lang wit hare. Die binneste omwindselblare (sigbaar hoër op aan die bloeiwyse) is roomkleurig of ligpienk, en langwerpig met ronde punte. Hulle is bedek met swart-pers haartjies van die punt tot so 2 cm van bo af. By die basis is die haartjies yl en silwerkleurig. Die rande het fraiings van lang wit en swart hare. Die hare op die punte van die omwindselblare vorm die baard. Die blomme is styf gepak binne-in die omwindselblare en vorm ’n punt in die middel. Hulle het roomwit hare op die punte. Die verskil tussen P. lepidocarpodendron en P. neriifolia: die omwindselblare by eg. is bruin by die basis, terwyl dié van P neriifolia almal dieselfde kleur is.

Blomtyd

Apr, Mei, Jun, Jul, Aug

Blomkleur

Wit, Bruin, Pienk

Bewaringstatus

Byna bedreig

Bedreigings

Bedreig hoofsaaklik weens stedelike en infrastruktuurontwikkeling, maar ook weens vermenging met ander Protea-spesies soos P. neriifolia, P. burchellii en P. laurifolia (hierdie spesies oorvleuel normaalweg nie in die natuur nie).

Habitat en gebied

Hulle groei altyd binne 20 km van die kus en meestal tussen 0 en 300 m bo seevlak, maar soms so hoog as 600 m. Hulle hou van kleigrond waar skaliebande sigbaar is en word meestal op die rande van klam klowe, naby syferwater en op beskutte hellings gevind. Hulle is endemies aan die Wes-Kaap, en kom voor vanaf die Skiereiland kuslangs tot by Stanford.

Vind hierdie spesie by:

7, 10, 11, 12

Meer oor

Protea lepidocarpodendron

Ekologie

Blomme word bestuif deur die Kaapse suikervoël en Protea-kewers. Ander goggas besoek ook die blomme en sommige beskadig die blom of eet die saad, maar die meeste soek stuifmeel of ander goggas of val ten prooi van besoekende voëls. Saad word jare lank gestoor in die ou bloeiwyses en vorm so ’n saadbank. Die plant sterf tydens ’n brand, maar die saad word vrygestel en daar kom spoedig ’n menigte klein plantjies op. Die spesifieke aanpassing by gereelde brande word serotiny genoem.

Deel van die genus

Protea
Die spesies in die genus Protea is seker die bekendste van al die Proteaceae. Die eerste Kaapse plant wat ooit genoem is, was ’n Protea, en die droë sade van Protea neriifolia is reeds ongeveer 50 jaar na die vestiging van die kolonie aan die Kaap versamel en na Europa gestuur. Die reuseprotea, P cynaroides, is sedert 1976 SA se nasionale blom. Proteas is die grootste en mees wydverspreide genus van die Proteaceae. In Afrika kom daar suid van die Sahara en noord van Suid-Afrika 35 spesies in die genus voor. In SA is daar 82 spesies, en net in die Kaapse Blommeryk 69 spesies. ’n Mens herken die Proteas aan die blomkoppe en helderkleurige omwindselblare (aangepaste skutblare). Groeiwyse wissel van klein bome tot laaggroeiende dwergstruike met ondergrondse stingels. Blare verskil baie in fatsoen, is met of sonder blaarstele, harig of glad, maar het altyd gladde rande. Die individuele blomme in die bloeiwyse is in spirale op ’n saamgestelde blombodem gerangskik. ’n Mens sien die spiraal baie mooi op die dooie blomkoppe. Die vrug is ’n klein droë neut en harig. Bestuiwing vind plaas deur suikervoëls, knaagdiere en insekte. Regopgroeiende Proteas word hoofsaaklik deur die twee soorte suikervoëls bestuif. Hierdie voëls se verspreiding kom presies ooreen met dié van Proteas. Suikerbekkies is ook bestuiwers. Sommige blomkoppe is weens hul posisies aan die plant nie geskik vir bestuiwing deur voëls nie en word deur kaagdiere bestuif. Namakwa-rotsmuise (Aethomys), Verreaux-muise (Praemys) en Kaapse streepmuise (Rhabdomys) is al waargeneem waar hulle met groot hoeveelhede klewerige proteastuifmeel aan hulle snoete tussen die blomme rondsnuffel. Proteas herberg ’n menigte insekte, soms meer as 1000 per kop. Party is plae en ander leef bloot van die nektar, stuifmeel of ander insekte, maar almal lok voëlbestuiwers. Daar is geen bewyse dat die insekte bestuiwers is nie, behalwe vir die groen protea-kewer (Trichostetha fascicularis) met sy spesiaal aangepaste monddele. Carl Linnaeus het die naam in 1767 aan die familie en die genus toegeken. Dit is gebaseer op die Griekse god Proteus wat na willekeur van vorm kon verander, waarskynlik weens die groot verskeidenheid blomme, blare en groeiwyses in hierdie familie.
PROTEACEAE
Die Proteaceae is ’n baie ou plantfamilie, waarskynlik een van die oudste groepe blomplante. Daar was proteas in Gondwanaland reeds lank voordat dit 140 miljoen jaar gelede uiteen begin dryf het. Suid-Afrika deel geen genus van sy proteas met Australië nie, maar meer as die helfte van die genera in Suid-Amerika kom ook in Australië voor. Uit die ongeveer 360 spesies in Suid-Afrika kom 330 slegs in die Kaapse Blommestreek (tussen Niewoudtville in die noordweste en Grahamstad in die ooste) voor. Die Kaapse plooiberge het veroorsaak dat die plante in isolasie geleef het, en dit is waarskynlik waarom daar so ’n groot verskeidenheid spesies is. Die konsentrasie van die Proteaceae in die Suidwes-Kaap dra by tot die voorkoms van die Kaapse flora, met sy houtagtige struike en gerolde blare. Dit is tipies van gebiede met lang droë somers en arm grond. Proteacea is ’n belangrike deel van die Kaapse fynbos. Dié woord kom van die Hollandse fijn bosch, die naam wat hulle vir die vreemde plantegroei met sy gebrek aan grasweiding gegee het. Al die lede van die Protea-familie het proteoïede wortels, digte klonte harige worteltjies waarvan die oppervlak-area 15 keer groter is as dié van ander wortels. Hierdie tipe wortels vorm in ’n mat van 50 mm diep in die grond net onder die blare-deklaag. Dit is waar die meeste voedingstowwe gevind word. In die veld vorm hulle net tydens die reënseisoen en is ’n aanpassing by die arm grond in die Kaapse berge. Hierdie soort wortels stel die plante in staat om al die beskikbare voedingstowwe op te neem. Hulle is ook aangepas om brande te oorleef. Baie is herspruiters met ’n dik stamvoet of verhoute knol wat die vuur oorleef en dadelik daarna nuwe lote uitstoot. Ander stoor hulle saad jare lank aan die plant. Die plant sterf in ’n brand, maar stel eers in die hitte van die vlamme sy saad vry. Die chemikalieë in die rook van die vuur stimuleer hierdie sade om vinnig te begin groei. Carl Linnaeus het die naam in 1767 aan die familie toegeken. Dit verwys na die Griekse god Proteus wat na willekeur van vorm kon verander, waarskynlik weens die groot verskeidenheid blomme, blare en groeiwyses in hierdie familie.

Ander spesies in hierdie familie:

Spatalla mollis

Spatalla mollis

’n Regop struikie wat vanaf die basis vertak en tot 75 cm hoog word. Hulle groei in klein groepies wat wyd verspreid oor ’n gebied voorkom.
Ouer blare is glad, naaldvormig en soos dakpanne op die takke gerangskik.
Die sagte wit, wollerige bloeiwyses is dikwels ’n opvallende gesig in die bergveld. Hulle groei in trosse op die punte van die takke en is sittend (sonder ’n blomsteel) met eenblommige windsels. Die blomme tweeslagtig.
Saad word twee maande na blomtyd vrygestel, is harig en silindries en sit op verkorte steeltjies.

Spatalla racemosa

Spatalla racemosa

’n Klein vertakte struikie, gewoonlik minder as 50 cm hoog.
Die naaldagtige blare is 15-25 mm lank.
Bloeiwyses is klein, los gerangskikte silindriese trosse van 1–30 mm. Lang bloeistele laat die bloeiwyses bokant die blare uitstaan. Die eenblommige windsels het lang bloeisteeltjies. Die blomdek is wollerig en buig sterk na vore. Die stuifmeelaanbieder is effens eiervormig.
Die saad is yl behaar, klewerig aan die basis en baie smal.

Spatalla curvifolia

Spatalla curvifolia

Dit is ’n klein, regop plant wat tussen ander fynbosplante groei.
Die gebuigde, naaldagtige blare is 25-50 mm lank. Hulle is nie altyd skerp gebuig nie; die mate van buiging verskil van bevolking tot bevolking.
Romerige wit of liggeel bloeiwyses met talryke eenblommige windsels vorm digte trosse van 30-70 mm. Blomtrosse word deur die jaar gevorm, dus merk mens hulle makliker as ander Spatallas op.