PROTEACEAE

Protea scabra

Skuurpapierblaar
Protea kom van die Griekse god Proteus wat na willekeur van vorm kon verander. Die spesienaam Scabra kom van die Oud-Noors skabbr (skurf) en verwys na die skurwe blare.

Beskrywing

Die blare van die plant verskyn in polle vanaf ’n ondergrondse takstelsel. Blare is lank en smal en skurf wanneer mens daaraan vat. Die klein, ronde bloeiwyses sit in die middel van ’n pol blare. Roeskleurige omwindselblare omring roomkleurige blomme.

Blomtyd

Jul, Aug, Sep, Okt

Blomkleur

Wit, Bruin, Pienk

Bewaringstatus

Byna bedreig

Bedreigings

Byna bedreig weens indringers, hout-plantasies en landbou- en stedelike ontwikkeling.

Habitat en gebied

Hulle groei in kleigrond in skaliebande en kom in ’n beperkte gebied voor van die Hottentots-Hollandberge tot Riviersonderend, in die Kleinrivierberge en in die berge om Caledon.

Vind hierdie spesie by:

7, 8, 9, 10, 11, 12

Meer oor

Protea scabra

Ekologie

Soos met ander grondproteas word die blomme waarskynlik deur muise en/of miere bestuif.

Deel van die genus

Protea
Die spesies in die genus Protea is seker die bekendste van al die Proteaceae. Die eerste Kaapse plant wat ooit genoem is, was ’n Protea, en die droë sade van Protea neriifolia is reeds ongeveer 50 jaar na die vestiging van die kolonie aan die Kaap versamel en na Europa gestuur. Die reuseprotea, P cynaroides, is sedert 1976 SA se nasionale blom. Proteas is die grootste en mees wydverspreide genus van die Proteaceae. In Afrika kom daar suid van die Sahara en noord van Suid-Afrika 35 spesies in die genus voor. In SA is daar 82 spesies, en net in die Kaapse Blommeryk 69 spesies. ’n Mens herken die Proteas aan die blomkoppe en helderkleurige omwindselblare (aangepaste skutblare). Groeiwyse wissel van klein bome tot laaggroeiende dwergstruike met ondergrondse stingels. Blare verskil baie in fatsoen, is met of sonder blaarstele, harig of glad, maar het altyd gladde rande. Die individuele blomme in die bloeiwyse is in spirale op ’n saamgestelde blombodem gerangskik. ’n Mens sien die spiraal baie mooi op die dooie blomkoppe. Die vrug is ’n klein droë neut en harig. Bestuiwing vind plaas deur suikervoëls, knaagdiere en insekte. Regopgroeiende Proteas word hoofsaaklik deur die twee soorte suikervoëls bestuif. Hierdie voëls se verspreiding kom presies ooreen met dié van Proteas. Suikerbekkies is ook bestuiwers. Sommige blomkoppe is weens hul posisies aan die plant nie geskik vir bestuiwing deur voëls nie en word deur kaagdiere bestuif. Namakwa-rotsmuise (Aethomys), Verreaux-muise (Praemys) en Kaapse streepmuise (Rhabdomys) is al waargeneem waar hulle met groot hoeveelhede klewerige proteastuifmeel aan hulle snoete tussen die blomme rondsnuffel. Proteas herberg ’n menigte insekte, soms meer as 1000 per kop. Party is plae en ander leef bloot van die nektar, stuifmeel of ander insekte, maar almal lok voëlbestuiwers. Daar is geen bewyse dat die insekte bestuiwers is nie, behalwe vir die groen protea-kewer (Trichostetha fascicularis) met sy spesiaal aangepaste monddele. Carl Linnaeus het die naam in 1767 aan die familie en die genus toegeken. Dit is gebaseer op die Griekse god Proteus wat na willekeur van vorm kon verander, waarskynlik weens die groot verskeidenheid blomme, blare en groeiwyses in hierdie familie.
PROTEACEAE
Die Proteaceae is ’n baie ou plantfamilie, waarskynlik een van die oudste groepe blomplante. Daar was proteas in Gondwanaland reeds lank voordat dit 140 miljoen jaar gelede uiteen begin dryf het. Suid-Afrika deel geen genus van sy proteas met Australië nie, maar meer as die helfte van die genera in Suid-Amerika kom ook in Australië voor. Uit die ongeveer 360 spesies in Suid-Afrika kom 330 slegs in die Kaapse Blommestreek (tussen Niewoudtville in die noordweste en Grahamstad in die ooste) voor. Die Kaapse plooiberge het veroorsaak dat die plante in isolasie geleef het, en dit is waarskynlik waarom daar so ’n groot verskeidenheid spesies is. Die konsentrasie van die Proteaceae in die Suidwes-Kaap dra by tot die voorkoms van die Kaapse flora, met sy houtagtige struike en gerolde blare. Dit is tipies van gebiede met lang droë somers en arm grond. Proteacea is ’n belangrike deel van die Kaapse fynbos. Dié woord kom van die Hollandse fijn bosch, die naam wat hulle vir die vreemde plantegroei met sy gebrek aan grasweiding gegee het. Al die lede van die Protea-familie het proteoïede wortels, digte klonte harige worteltjies waarvan die oppervlak-area 15 keer groter is as dié van ander wortels. Hierdie tipe wortels vorm in ’n mat van 50 mm diep in die grond net onder die blare-deklaag. Dit is waar die meeste voedingstowwe gevind word. In die veld vorm hulle net tydens die reënseisoen en is ’n aanpassing by die arm grond in die Kaapse berge. Hierdie soort wortels stel die plante in staat om al die beskikbare voedingstowwe op te neem. Hulle is ook aangepas om brande te oorleef. Baie is herspruiters met ’n dik stamvoet of verhoute knol wat die vuur oorleef en dadelik daarna nuwe lote uitstoot. Ander stoor hulle saad jare lank aan die plant. Die plant sterf in ’n brand, maar stel eers in die hitte van die vlamme sy saad vry. Die chemikalieë in die rook van die vuur stimuleer hierdie sade om vinnig te begin groei. Carl Linnaeus het die naam in 1767 aan die familie toegeken. Dit verwys na die Griekse god Proteus wat na willekeur van vorm kon verander, waarskynlik weens die groot verskeidenheid blomme, blare en groeiwyses in hierdie familie.

Ander spesies in hierdie familie:

Spatalla racemosa

Spatalla racemosa

’n Klein vertakte struikie, gewoonlik minder as 50 cm hoog.
Die naaldagtige blare is 15-25 mm lank.
Bloeiwyses is klein, los gerangskikte silindriese trosse van 1–30 mm. Lang bloeistele laat die bloeiwyses bokant die blare uitstaan. Die eenblommige windsels het lang bloeisteeltjies. Die blomdek is wollerig en buig sterk na vore. Die stuifmeelaanbieder is effens eiervormig.
Die saad is yl behaar, klewerig aan die basis en baie smal.

Spatalla mollis

Spatalla mollis

’n Regop struikie wat vanaf die basis vertak en tot 75 cm hoog word. Hulle groei in klein groepies wat wyd verspreid oor ’n gebied voorkom.
Ouer blare is glad, naaldvormig en soos dakpanne op die takke gerangskik.
Die sagte wit, wollerige bloeiwyses is dikwels ’n opvallende gesig in die bergveld. Hulle groei in trosse op die punte van die takke en is sittend (sonder ’n blomsteel) met eenblommige windsels. Die blomme tweeslagtig.
Saad word twee maande na blomtyd vrygestel, is harig en silindries en sit op verkorte steeltjies.

Spatalla curvifolia

Spatalla curvifolia

Dit is ’n klein, regop plant wat tussen ander fynbosplante groei.
Die gebuigde, naaldagtige blare is 25-50 mm lank. Hulle is nie altyd skerp gebuig nie; die mate van buiging verskil van bevolking tot bevolking.
Romerige wit of liggeel bloeiwyses met talryke eenblommige windsels vorm digte trosse van 30-70 mm. Blomtrosse word deur die jaar gevorm, dus merk mens hulle makliker as ander Spatallas op.